Behoeftes van polisie in die Wes-Kaap uiteengesit

(Foto: SAPD/Facebook)

Uit die 38 polisiestasies wat vir dienslewering en infrastruktuurkwessies gemonitor is, het slegs 31,6% toegangsbeheerpunte gehad. Altesaam 26,3% het nie enige aanhoudingselle gehad nie en 10,5% het nie enige aanhoudingsfasiliteite hoegenaamd gehad nie.

Dit is onthul in die polisie se behoeftes- en prioriteite (PNP)-verslag vir 2021/2022 wat deur die provinsiale departement van polisie aan die staande komitee oor polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid voorgehou is.

“Hierdie syfers is ʼn teken dat die polisie nie meer die vermoë het om infrastruktuur in stand te hou of nuwe infrastruktuur te bou nie,” sê Gillion Bosman, die DA se provinsiale woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid. “Een van dié gevalle is Makhasa-polisiestasie wat al nege jaar lank in die beplanning- en ontwerpfase staan sonder enige redes vir die vertraging.”

Die departement van polisie gee jaarliks terugvoer oor die Wes-Kaapse polisie se behoeftes en prioriteite, en dit word daarna na die sleutelrolspelers in die staat en burgerlike samelewing verwys om ʼn impak te hê op die besluite wat op ʼn nasionale vlak geneem word.

“Die Wet op Gemeenskapsveiligheid gee aan ons die mandaat om dit te doen en dit is in hierdie stadium slegs die Wes-Kaap wat dit doen – ʼn verdere bewys van die erns wat die Wes-Kaap maak met sy oorsigtelike rol,” sê Bosman.

Alhoewel die provinsiale polisiekommissaris en sy span eers op 7 Maart na verwagting sal terugvoer gee, is daar ongelukkig verskeie ander kwessies wat in die vergadering aangeroer is:

  • Alhoewel die SAPD toestemming verleen het vir 21 267 personeel in die provinsie, was daar in Maart 2022 slegs 18 867 werknemers in diens.
  • Polisiebeamptes het boonop van 16 240 in 2021 afgeneem tot 15 730 verlede jaar. “Die 1 118 nuwe rekrute wat in Desember aangekondig is sal ʼn hupstoot wees vir ons kapasiteit, maar die koers van vakante poste is steeds ʼn groot kommer.”
  • Die SAPD se bevolkingskoers in die Wes-Kaap is 1:417 met stad Kaapstad gemiddeld op 1:622. Daar is sommige stasies wat op ratio’s van meer as 1:800 werk insluitend Harare, Samora Machel, Gugulethu en Delft.
  • Die las van speurders is dus gemiddeld baie meer as 200 dossiere per persoon – dit is 333% meer as die standaard van 50 tot 60 dossiere.

“Ondanks die kommerwekkende konteks van ons polisie, is ons gelukkig dat ons ʼn provinsiale departement het wat verbind is daartoe om veiligheid te verbeter. Oor die afgelope nege maande het die departement verskeie vergaderings belê om insette en aanbevelings te kry van ʼn rits belanghebbendes. Met elke gesprek het tussen 120 en 180 mense deelgeneem en dit het ons departement kans gegee om ʼn goeie oorsig te doen. As die DA in die Wes-Kaap sien ons uit daarna dat die SAPD die volgende staande komitee bywoon sodat hulle rekenskap kan gee vir dié syfers. Ons inwoners verdien om te weet wat die werklike stand van misdaadbekamping is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Owlie ·

Polisie, geen onderhoud, korrupsie, wan bestuur, eskom, poskantoor, hospitals…….
Dis duidelik dat Suid Afrika nie politieke leierskap nodig het nie maar n leier wat kan dink, beplan, lei.
Die politiek in SA is n oorlog – nee n pandemic op sy eie.

Harley Davidson ·

Stig die Wes Kaap af van Suid-Afrika en verkry onafhanklikheid dan kan die polisie weer op standaard gebring word en toegerus word om hulle werk te doen.

Lillian ·

Dis nie net in die Kaap nie, dié hele land se stasies is in chaos gedompel. Onbevoegdheid, korrupsie, vier hoogty en Cele “sitting pretty”.

De Bok ·

Om die vrede te bewaar is die kern-mandaat van enige regering. Die feit dat Suid Afrika se polisie diens so verwaarloos is, beteken dat ons eintlik lank al ‘n “failed state” is. Mens kan niks bou as daar nie vrede is nie. Dit wat nog goed is in Suid Afrika is maar net oorblyfsels van die tyd toe die polisie nog in orde was. As die polisiediens nie herstel word nie, gaan die land net nog verder agteruit gaan. Ons regering versuim hulle pligte soos uiteengesit in Romeine 13

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.