Behoeftigste studente hoef nie meer te leen nie

Naledi Pandor. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die behoeftigste Suid-Afrikaanse naskoolse studente sal nie meer geld hoef te leen om te studeer nie – hulle sal voortaan beurse kry.

Dié aankondiging is vanoggend deur die minister van hoër onderwys en opleiding, mev. Naledi Pandor, by die parlement gemaak.

Dit volg op die destydse minister van finansies, Malusi Gigaba, se aankondiging in die Februarie-begroting dat ʼn bykomende R7,166 miljard vir die nasionale finansiële studentehulpskema (NSFAS) begroot is.

Hiervan word R4,581 miljard aan universiteite toegewys, en R2,585 miljard vir verdere onderwys- en opleidingskolleges, wat vakmanne oplei.

Die groot verandering in vergelyking met die NSFAS-stelsel tot dusver is dat die lenings van vroeër jare nou omgesit word in beurse – studente hoef dit nie meer terug te betaal nie. In ʼn sekere mate beteken dit die regering het toegegee aan die druk van swak toepassing van die vorige stelsel – NSFAS het nog nooit juis uitgeblink met die verhaling van studieskuld nie.

“Hoewel daar nie van studente verwag sal word om die geld terug te betaal nie, sal daar wel van hulle verwag word om aan sekere prestasie- en gedragsvereistes te voldoen,” het Pandor aan die parlementêre perskorps gesê.

Op ʼn vraag of dit beteken dat druipende studente se beurse nou bloot tot las vir die belastingbetaler afgeskryf word as oninbare skuld, het die direkteur-generaal van hoër onderwys, Gwebs Qonde, uitgewys dat die nuwe regulasies omvattende verpligte akademiese ondersteuningstappe insluit.

Qonde het voorts gesê navorsing deur die Universiteit Stellenbosch se buro vir ekonomiese ondersoek toon NSFAS-studente is sewe keer meer geneig om suksesvol te studeer as studente wat nie met NSFAS-hulp studeer nie.

Pandor het egter by verdere navraag toegegee dat die bedrag wat bestee word aan onsuksesvolle studente deur NSFAS afgeskryf sal moet word.

Die lank en die kort van die nuwe stelsel is dat studente wat aan VOO-kolleges en universiteite studeer en wie se ouers ʼn gesamentlike jaarlikse inkomste van minder as R350 000 het, voortaan gratis met beurse sal kan studeer.

Die beurse sal klas- en handboekgeld insluit, en in sommige gevalle ook kos, akkommodasie en vervoer.

Wat universiteite betref, geld dieselfde reëls, maar vir vanjaar net vir studente wat die eerste keer as eerstejaars inskryf. Elke jaar sal elke nuwe eerstejaarsgroep by die groeiende getal studente gevoeg word.

Die nuwe befondsing beteken dat sowat 40% van alle studente in die vervolg met NSFAS-beurse sal studeer.

Pandor het toegegee dat universiteite groot probleme met die oorbetaling van NSFAS-gelde ondervind, maar sê haar departement werk hard daaraan om die probleme te oorkom. Sy het studente gemaan dat hulle geen NSFAS-gelde kan kry voor hulle die toepaslike kontrak geteken het nie, en het gevra dat hulle dus by hul leerinstansies aandring daarop om die kontrakte te teken as hulle toegang tot die geld wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Ja wohl ·

Ja gee alles vir die behoeftiges verniet, verlaag die universiteitstandaard dan kyk julle waar hulle werk kry met hulle papiere .. whaaaaaaa kan nie meer wag om die uitslae by universiteite nou te sien nie.

Privilege ·

o ja wou nog byse seker net SWART behoeftiges nie WIT behoeftiges nie . want alle witttes is mos privileged al het hulle ouers nie meer werk nie, en bly hulle in plakkerkampe langs die dam.

Jannie ·

Ja-nee, moenie stres nie…die Wit belastingbetalers sal maar weer gee…en weer gee…en weer gee…en…en!!!

Karel ·

“…dat die nuwe regulasies omvattende verpligte akademiese ondersteuningstappe insluit.” Vertaling: belastingbetalers sal verder moet opdok vir tekortkominge van primere/sekondere onderrig. Want mens maak hierdie goed mos van die agterkant af reg, ne?

En waar kom die R350 000 figuur vandaan? As ons gesin R350 000 verdien, kan ek verseker nie bekostig om R100 000 daarvan PER KIND aan universiteite oor te gee nie. So my kinders word uitgesluit omdat ek “suksesvol genoeg” is om nie vir hulle universiteit te kan betaal nie? Maar ons mag maar gerus belasting betaal, sodat ander kinders verniet kan gaan studeer.

Onder kapitalisme is daar ongelykheid: daar is rykes en daar is armes. Onder kommunisme is almal ewe arm. Ek verlaat eerder my Vaderland as om so uitgebuit te word.

Elvira ·

Kom ons wees positief en kyk of hierdie geld reg aangewend gaan word.

Zumie ·

Elvira
Die menslike natuur sal verseker sorg dat die proses misbruik word – dit is hoe mense is. En hoe positief ons is gaan geen verskil maak nie.

Reguit ·

Te lekker…… sodat hulle kan aanhou studeer en studeer en studeer en studeer…… wat ‘n heerlike studentelewe…………..

marous ·

En wie dink die dame ,gaan die wanpresteerders wat niks hoef te betaal al kan hulle nie eers lees of skryf , van die instellings afskop nie ?

Piet Pompies ·

Sukses word nie gemeet daaraan dat jy op ‘n Universiteit studier het, sukses word gemeet aan wat jy as person maak met jou lewe. Nie almal hoef ‘n graad te behaal om te funksioneer in die lewe, meer klem kan ook gelê word op kreatiwiteit, ontwerpers en uitvinders. Dit opsig self is goed vir ‘n land want dit wek inkomste. Hou by primêre beroepe as sekondêre beroepe. Sekondêre profesionele beroepe se inkomste kom uit wel af mense se sakke, dit beperk ongelukkig die hoeveelheid beroepe. By Primêre profesionele beroepe is daar gewoonlik ‘n tekort aan mense soos tegnologie en die toekoms verander.

bgj van der westhuizen ·

en so melk hulle die wit melk koei leeg en dan wil ek sien hoe hulle wil betaal vir dit wand al die swart mense en bruin dink elke wit persoon wat hulle sien is ryk

Etienne Prinsloo ·

Die SAA het vandag ‘n “open credit line” van die regering versoek. Hul skuldlas beloop tans twintig biljoen rand plus. Eskom het pas toestemming verkry om peperduur steenkool by “alternatiewe” produsente te bekom na die skep van nog ‘n kunsmatige krisis. Verder is hulle honderde biljoene in die rooi, en hul twee nuwe kragsentrales se bouprojekte bloei geld. Daar was ‘n massiewe tekort in die begroting, daar is openlike oorlog op die landbousektor en Manatashe wil die BEE regulasies op die myne nog meer penetrerend maak. Voeg by die anargistiese eise van die staats unies en die land se finansiële toekoms lyk maar bitter donker. Geen wonder dat Ramaphosa ‘n span “superbeggars” die wêreld ingestuur het om “beleggings”, lees “dag tot dag operasionele fondse”, te probeer bekom nie.

koos ·

ongeag wie die studie betaal, wonder ek net waar al hierdie studente eendag gaan werk kry. werkloosheid in SA staan konserwatief geskat op 26%. sit dit in getalle om dan besef mens dis nie net wit mense wat werkloos is nie. Selfs met die beste regstellende aksie en BEE wette is daar eenvoudig net die werk vir almal nie. Nou stap dié studente eendag die arbeidsmark in met wonderlike grade en dan moet hulle hoor “ons soek eintlik ondervinding” of “jammer geen vakante poste”. Ek het baie lank gesukkel om werk te kry en later het ek my universiteitsgraad vanaf my CV verwyder. volgens my CV het ek net matriek en het was ek op universiteit sonder om ‘n graad behaal. En so het ek weer ordentlike werk gekry.

Johan ·

Hoe gaan hulle die R350000 kriteria toepas.
Sê hipoteties dat ‘n begaafde kind Universiteit toe wil gaan, maar die ouers verdien saam bo die perk. Hulle besluit om te skei sodat bv. die vrou se inkomste wat onder die perk gebruik kan word om te kwalifiseer. Die ‘familie’ van enkelouer ma en kind se inkomste is mos nou so dat die kind ‘n “beurs” kan kry.
Ek nou nie ‘n familiereg kenner, ek neem aan die pa is nie verplig om onderhoud te betaal nie (kind 18)
Hoe gaan die wiskunde werk in so geval. Wat word met familie bedoel as na hierdie familie inkomste bewys word?
Wonder maar net.

Diklizzy ·

Ek wil graag net aan julle noem dat my dogter (blank) tans vir die 3rde agtereenvolgende jaar hoërskool onderwys met wiskunde as hoofvak studeer met behulp van NSFAS. Sonder staatshulp sou sy nie kon gaan leer nie, aangesien my jaarlikse inkomste maar sowat ‘ n derde van die inkomste drempel is. Moet tog nie altyd net die negatiewe sien nie. Gaan doen aansoek vir jou kind en vind uit of jou kind gehelp kan word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.