Beitbrug-kontrakteurs moet miljoene terugbetaal

Die Beitbrug-grensdraad. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die kontrakteurs wat miljoene rande betaal is vir hul omstrede werk aan die Beitbrug-grensdraad op die grens van Zimbabwe, is vandeesweek deur die hof beveel om al die winste wat hulle uit die projek gemaak het, terug te betaal.

Dit volg nadat die departement van openbare werke en infrastruktuur saam met die spesiale ondersoekeenheid (SOE) die twee kontrakteurs, Magwa Construction en Profteam BK, hof toe gesleep het in ʼn poging om van die R40 miljoen wat aan die grensdraad bestee is, te verhaal.

Verskeie politieke partye eis nou dat min. Patricia de Lille die trekpas kry.

Regter Lebogang Modiba het Dinsdag tydens sy uitspraak gesê dat die regering en lede van die publiek die meeste weens hierdie omstrede projek verloor het.

“Dit is daarom regverdig en billik om die beginsel van ‘geen wins, geen verlies’ toe te pas en dus die kontrakteurs se reg om die wins te behou, van die hand te wys,” het hy gesê.

Die uitspraak vereis dat winste van miljoene rande wat weens die projek deur die kontrakteurs gemaak is, aan die departement terugbetaal word.

ʼn Gekwalifiseerde persoon moet nou aangestel word om ʼn verslag saam te stel oor die redelikheid van die twee maatskappye se uitgawes en dit dan by die spesiale tribunaal indien.

Die terugbetaling moet binne 30 dae ná die indiening van die verslag geskied.

Die departement het die uitspraak verwelkom.

Die departement het met die aanvang van die Covid-19-pandemie in 2020 die groen lig gegee om die 40 km lange grensdraad by die Beitbrug-grenspos te herstel en gedeeltes daarvan te vervang.

ʼn Ondersoek na die projek het egter aan die lig gebring dat allerlei swak boupraktyke die doeltreffendheid van die heining in gedrang gebring het en die DA het deurlopend daarna verwys as ʼn “wasgoeddraad,” omrede dit op dele so dun is.

Die heining het boonop R15 miljoen meer gekos as waarvoor daar aanvanklik begroot is.

Amptenare moet aan die pen ry

Luidens die ondersoek het verskeie voorvalle van wangedrag tydens die verkryging- en bouproses ook aan die lig gekom.

Modiba het ná sy uitspraak gesê dat verdere regstellende maatreëls nou teen die betrokke amptenare ingestel moet word.

“Die amptenare wat by die ontwerp, goedkeuring en inwerkingstelling van die Beitbrug-grensdraadprojek betrokke was, moet ook nou verantwoording doen, asook diegene wat die verwante verkrygingsprosedures goedgekeur en versuim het om die toepaslike stappe te doen om die integriteit van die heining te verbeter,” het hy gesê.

ʼn Verslag oor die destydse ondersoek het aanbeveel dat daar stappe teen 14 senior beamptes in die departement gedoen moet word weens “onbehoorlike gedrag tydens die verkryging- en konstruksiefase van die projek”.

Volgens die departement se waarnemende direkteur-generaal, Imtiaz Fazel, is die betrokke amptenare se dissiplinêre verhore verlede maand afgehandel. Dié werknemers sal hul verweer op 8 April indien.

“Ek wil die breër publiek verseker dat die departement daartoe verbind is om toepaslike strawwe toe te dien waar nodig,” sê Fazel.

“Die departement werk deurlopend daaraan om sy dienslewering, kommunikasie en dissiplinêre prosesse te verbeter om sy deel te doen om die land se vertroue te herwin.”

Minister se kop geëis

Patricia de Lille. (Foto: Armand Hough/ANA)

Hoewel verskeie politieke partye die jongste uitspraak verwelkom, eis hulle nou dat Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, haar bedanking moet indien.

De Lille het glo op 16 Maart 2020 ʼn opdrag aan adv. Sam Vukela, die destydse direkteur-generaal van openbare werke, gegee dat die hele tenderproses vir die projek binne vier dae afgehandel moet word en dat sy weekliks op hoogte gehou word.

De Lille het dié opdrag glo twee dae vóór die instelling van die afsonderingstydperk se regulasies gegee, wat beteken dat haar gedrag onwettig was.

Philip van Staden, VF Plus-LP van openbare werke en infrastruktuur, sê De Lille moet nou eindelik verantwoordelikheid vir die debakel aanvaar en nie die blaam na amptenare van haar departement probeer verskuif nie.

“De Lille het die projek laat voortgaan sonder dat die nodige verkrygingsprosedures gevolg is en voordat die Rampbestuurswet in werking getree het,” sê Van Staden.

“Dit is onaanvaarbaar en sy moet bedank.”

Die DA meen ook dat De Lille nie bloot agteroor kan sit en hoop dat hierdie omstrede projek verdwyn nie.

“Noudat die kontrakteurs verplig is om die geld terug te betaal, laat dit nuwe vrae oor De Lille se optrede as ʼn minister ontstaan,” sê Samantha Graham-Maré, DA-LP van openbare werke en infrastruktuur.

“Sy moet haar onbesonnenheid erken en liefs net bedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Wondermaarnet ·

Die geld is lankal spandeer en dit gaan jare se geld en ondersoeke kos om dit terug te probeer kry.

Corne123 ·

Ek wonder de lille moet sommer help betaal kan nie help om te wonder of sy ook n geldjie hieruit gemaak het nie

Casper ·

De Lille was nog nooit ‘n sukses waar sy ook al was.Ek wil my verstout deur te sê haar beursie is ook heelwat dikker en spaar varkie vetter.Sy pak altyd die blaam op ander maar verantwoordelikheid aanvaar,aikôna.

JohanR ·

Was Patricia de Lille al ooit in amper 28 jaar ‘n sukses storie?

Nie Verbaas ·

En die ander verkwiste biljoene van belaglike tenders wat maar net gelos word? Mkhize, Magashule, Zuma. ANC bly maar net n klomp narre.

SlinkseKoljander ·

Lekker kry die kaders se maatjies nou op hulle maai, mag nog vele meer geld moet terug betaal

Wielspore ·

Die koste van Patricia de Lille se heining is dieselfde as Donald Trump se muur, die verskil lê in Patricia de Lille se heining se kwaliteit. By wyse van woorde is Patricia de Lille se uurglas uitgeloop en sy kan aftree as gevolg van haar onbevoegtheid. You’re fired! – Donald Trump

Jack ·

Die geld is lankal geblaas en opgevreet.Julle gaan dit nie weer verhaal nie.Niks verbaas my meer nie.Die regter het high hopes om enige geld weer te sien.Soos julle – Patricia you are fired.

Anel ·

Eintlik kan die hele kabinet maar bedank. Die een probeer meer onbevoegd wees as die ander!!! Wat ‘n gekke spul!!!

Witbaard ·

De Lille moet help betaal, sy het seker ietsie onder die tafel gekry vir die tenders.

Ansie ·

As De Lille werklik opdrag gegee het dat die tenderproses binne 4 dae afgehandel moes word, is sy totaal onbevoeg om haar pos te beklee. Sy het dan géén idee wat ‘n tenderproses behels nie. Dis die hele probleem met ons regering: Hulle het geen idee hoe om hulle werk te doen nie, maar wil hê dit moet gedoen word.

gatgogga ·

Hoe het de Lille haar ministerspos gekry?
Ek dink Ramapauser het dit aan haar beloof, as sy kiesers uit die DA kan weglok?
Dit het sy toe gedoen. So, ek dink sy sal niks oorkom nie, Rama sal haar moet beskerm, anders lap sy alles uit?

Swerwer ·

By die tyd weet ons mos nou al dat alles wat oneerlik en onbetroubaar is aangestel word om werk te verrig.

Karlahari ·

Antie Preticia. Jy moes ma eerder die draat ommi Kaap gespan het

Jacobus ·

Die departement van openbare werke behoort gesluit te word, alle ander departemente kan self hul geboue in stand hou, of nuwes bou. Die werklik, bekwame, goed opgeleide, en eerlke beamptes, van openbare werke, kan in ander departemente opgeneem word, die res kan by hul huise gaan sit en niks doen, waarvoor ons nie hoef te betaal, want tans word hulle betaal om op kantoor te sit en “loave”.

Marina ·

sterkte met daai een, dit sal in elk geval weer onder die mat ingevee word, sjoe maar sekere mense is dom

Ontnugterde senior ·

Pat behoort ook deel van die geld terug te betaal. Sy was verantwoordelik vir die hele projek. Hoekom moet sy skotvry afkom? In enige privaat mpy is die direkteure direk verantwoordelik vir enige besluite geneem deur hulle werknemers so waarom nie die ministers ook nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.