Bejaarde (77) ‘getraumatiseerd’ ná rowers toeslaan

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Vermeende huisrower is binne minute vasgetrek ná hy en ʼn tweede verdagte na bewering ʼn 77-jarige vrou in haar huis oorval het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 03:00 Dinsdag in Walmer in Port Elizabeth plaasgevind.

“Twee mans het by ʼn huis in Rivierweg ingebreek terwyl die 77-jarige vrou geslaap het,” het Naidu gesê.

Naidu het gesê die vrou het wakker geword van ʼn geluid en gaan ondersoek instel en twee mans op haar stoep gewaar.

“Sy het na die slaapkamer toe gehardloop, maar een verdagte het haar agtervolg en haar op die bed neergegooi. Sy het nie sigbare beserings opgedoen nie, maar sy is getraumatiseerd en die verdagte het haar rondgeruk,” het Naidu gesê.

Kontant, twee iPads, ʼn selfoon en ʼn rekenaarskerm is tydens die voorval gesteel.

Volgens Naidu het die vrou ʼn baie deeglike beskrywing van die verdagtes gegee en ʼn man wat by dié beskrywing gepas het, is minute later in 9de Laan in hegtenis geneem terwyl hy in die straat gestap het. Die gesteelde selfoon is in sy besit gevind.

Naidu het gesê die polisie vermoed die twee verdagtes het moontlik in verskillende rigtings gevlug. “Ons soek dus nog na die oorblywende verdagte.”

Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

Dit is amper onmoontlik om hierdie inbrekers orals uit te hou. Maak jy een plek toe vind hulle net weer ń ander plek om in te kom. Behalwe lewens wat bedreig word word daar ook groot skade aan eiendom aangerig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.