Bejaarde (78) sterk aan ná wrede aanval

Poppie Lennox is wreed in haar dogter se winkel op Reddersburg aangeval. Foto: Facebook

ʼn Bejaarde vrou van Reddersburg in die Suid-Vrystaat sterk by familie in Bloemfontein aan nadat sy wreed in die winkeltjie aangeval is wat sy vir haar dogter bestuur het.

Erica Kleinhans (51) vertel haar ma, Poppie Lennox (78), was Maandag laatmiddag alleen in haar winkeltjie toe “ʼn jongerige man” die derde keer die dag ʼn pakkie skyfies kom koop. “Hy was die Saterdag ook daar en weer die Maandag 08:00 en 12:00, elke keer om skyfies te koop,” sê Kleinhans, “maar hy is nie ʼn ou bekende op die dorp nie.”

Toe Lennox omdraai om die pakkie van die rak af te haal, het die aanvaller oor die toonbank gespring en aan haar bloes gepluk, vertel Kleinhans. Met dié het hy gesien sy hou haar beursie teen haar bors.

“Hy het my ma gewurg, haar só hard op haar linkerskouer getrap dat die rak waarteen sy geval het, gebreek het, en twee bierbottels op haar kop stukkend geslaan.”

Die hele wêreld was vol bloed. Dit lyk my in ʼn stadium het sy uitgepass.

Kleinhans sê haar ma kan nie presies onthou wat verder gebeur het nie. “Die hele wêreld was vol bloed. Dit lyk my in ʼn stadium het sy uitgepass, want toe sy weer bykom, was [haar aanvaller] weg.”

Lennox, wat volgens haar dogter nog vol lewe is en weier om stil te sit of in ʼn ouetehuis te gaan woon, het ondanks haar beserings opgestaan, die winkel se buitelig aangeskakel, die plek gesluit en ʼn kort entjie na ʼn vriendin toe gery, wat die polisie en ʼn ambulans ontbied het.

Nadat sy Maandagaand in ʼn Bloemfonteinse hospitaal opgeneem is, het die dokters verwag sy sou nog daardie aand ontslaan word, maar hulle het haar oornag daar gehou en Dinsdagoggend ʼn hartskandering gedoen nadat ʼn breinsonar ook uitgevoer is om te kyk vir bloeding op die brein.

“Haar bloeddruk was vreeslik hoog,” sê Kleinhans, “seker van die skok van die aanval.”

Kleinhans meen vir iemand van haar ma se jare “vat sy dit baie goed”. Sy vertel Lennox se gesig lyk al beter en al voel dit asof haar lyf elke dag seerder word, het ʼn verpleegsuster hulle verseker die pyn sal binne ʼn dag of wat begin afneem.

“Haar gesig lyk beter aan die kant wat opgeswel was, maar aan die ander kant waar die glas haar gesny het, lyk dit asof die wond ʼn abses maak,” sê Lennox. “Die suster by die Rosepark-wondkliniek waar ons Donderdagoggend was, het gesê ons moet terugkom as dit nie beter word nie.”

Lennox se linkerskouer waar die aanvaller haar getrap het, is nog “ongelooflik seer”, maar die swelling om haar oë is heeltemal weg nadat dit Maandag toegeswel was.

Ek gaan haar nie terugvat nie. Ek gaan maak môre daai winkel leeg.

Gevra of haar ma weer in die winkeltjie sal gaan werk, het Kleinhans gesê: “Ek gaan haar nie terugvat nie. Ek gaan maak môre daai winkel leeg. Sy woon van nou af hier by my dogter in die huis op die erf waarop ek in ʼn woonstel woon.”

Maar Kleinhans glo nie haar ma sal nou skielik wil stilsit nie. “Ons sal maar sien wat ons met haar gaan maak. Sy wil nog steeds werk; so dalk kan sy my seun in sy lekkergoedwinkel hier in Bloemfontein help.”

Sy het haar ma intussen weer terug Reddersburg toe geneem, sowat 50 km suid van die Vrystaatse hoofstad, om ʼn klag by die plaaslike polisie aanhangig te maak.

Lennox se ander dogter, Elize Wincento, woon in Pretoria, en haar enigste seun, Johan, is ook in Bloemfontein.

Reddersburgers en mense van heinde en ver het hul skok in die sosiale media uitgespreek oor die wrede aanval op Lennox. Maria Oneale skryf: “My hart is stukkend.” Sy beskryf Lennox as “mensliewend” en “dierbaar”.

Die Vrystaatse polisie het Donderdagmiddag by navraag onderneem om ’n verklaring oor die aanval uit te reik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

DIS VIESLIK!!!!!! ALWEER N WEERLISE OUMENSIE . SKANDELIK!!!!!!!

Willem Grobler ·

Nog ‘n slagoffer van die dapper en onverskrokke swart geweldenaars wat by uitstek op die swak- en weerloses toeslaan! Alles onder die handige beskerming van ‘n grondwet wat ‘n veer voel vir die regte van die slagoffer maar die aanvaller ten volle beskerm teen enige inbraak op sy regte.

Geregtigheid ·

Hoop en bid hulle kry die skurk gou en dat hy sal boet. Baie sterkte en ons gebede is met julle.

GP ·

Baie sterkte aan tannie Poppie en familie. Dinge sal weer beter word.

Michelle ·

Ek vertrou dat Tannie Poppie gou sal aansterk en dat die een wat verantwoordelik is gevang sal word. Dit is nie net die ou liggaam wat skade gekry het nie maar die siel ook

Helien ·

wanneer gaan die gemors in die land op hou. Sterk vinnig aan tannie en wees rustig moenie te veel dinge op n slag doen nie.

Renate ·

Baie hartseer! Hoekom moet hulle die arme weerlose ou mense so verniel? Spoedige beterskap Tannie Poppie

tessa ·

Here, straf asb die vervloekte persoon want ons regering gaan dit nie doen nie. Baie sterkte Tannie Poppie.

aj ·

Bewapen en verdedig jousélf!

Suid Afrika is in ‘n staat van oorlog!

Skrik wakker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.