Bejaarde (83) waarsku ander ná 2 rooftogte in 2 dae

Corrie Brits (Foto: Verskaf)

ʼn Bejaarde oudpredikant van Kroonstad in die Vrystaat is die afgelope naweek twee dae ná mekaar beroof, en wil nou sy ervaring gebruik om ander bejaardes te waarsku om meer waaksaam te wees.

Corrie Brits (83) het aan Maroela Media vertel hy is Vrydagaand nadat hy geld by ʼn kitsbank getrek het van sy beursie en geld beroof, en net die volgende oggend is hy vir ʼn tweede keer beroof.

“My vrou en baie ander mense waarsku my al ʼn geruime tyd om nié na die Shoprite-winkel in Kroonstad te gaan nie, omdat daar deesdae gereeld misdaadvoorvalle plaasvind. Ek het egter nie geluister nie, en het Vrydagaand daar geld getrek voor ek my selfoon by ʼn winkeltjie langsaan laat regmaak het.”

Brits het die kleingeld wat hy by dié winkel gekry het, saam met sy beursie in sy agterste broeksak gesit.

“Ek was nog nie eens 40 meter uit die winkel nie, toe voel ek hoe ʼn hand in my sak ingaan. Ek het met albei my hande vasgegryp, maar hy het my aan my skouer gepluk en my sak afgeskeur voor hy my geld en beursie gesteel het. Hy het net 50 meter gehardloop, toe begin hy loop. Die vermetelheid – hy het geweet ek kan nie iets doen nie.”

Hy sê hy was nie “gespanne of selfs terneergedruk” oor dié voorval nie, maar sy skouer het wel later die aand seer geraak.

“Ek is toe die volgende oggend na ʼn apteek, ook in die area. Ek het net my pille gekry, toe ʼn man my van agter vasgryp. Hy het my arms van agter vasgehou terwyl ʼn ander man die geld, wat ek weer in my agterste broeksak gesit het, gesteel het. Die rower wat my vasgedruk het, het my toe hard op die grond neergegooi. Dié rowers het nie eens probeer weghardloop nie – hulle het net weggestap asof niks gebeur het nie.”

Brits sê bystanders het nie op sy noodkrete gereageer nie. “Ek het albei kere om hulp geskree, en daar was talle mense, maar niemand het op my krete gereageer nie. Niemand het ná die tweede rooftog eens kom hoor of ek oukei is nie.”

Hy sê dié twee voorvalle het hom genoop om ander mense ook te waarsku. “Ek wil dit met ander mense deel, omdat ek wil hê hulle moet luister wanneer hulle gewaarsku word. Ouer mense is veral weerloos, en is dikwels teikens. Maak seker die veiligheidswag loop saam met jou, en moenie na areas gaan wat nié veilig is nie. Mense moet ook weet dat hulle nie onaantasbaar is nie; dit gebeur elke dag, met almal.”

Hy sê hy het beide dié voorvalle verwerk, en beplan om nou en in die toekoms meer versigtig te wees. “Ek was eers kwaad vir die Here. Ek het altyd gesê die Here is aan my sy, so niemand sal my seermaak nie. Maar ek het besef die Here het my deur baie mense probeer waarsku, en ek het nie geluister nie. Ons is mense, en daar is baie slegte mense daar buite wat seer maak vir ʼn verskeidenheid redes. Luister na ander mense en na die Here, en word waaksaam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Elsa ·

misdadigers kom weg met baie…sigbare polisie in elke sentrum ..by elke kitsbank elke parkeer area oral..vra dit al lank maar dit sluimer
kan ons dan nie beskerm word nie?
booswigte hoort agter tralies om opgevoed te word

Kaspaas ·

Ai Oom ons is bly oom is nog met ons!
Groete en sterkte vorentoe.

christa ·

Ons is gesonde verstand gegee, ons hoef nie eers negatief geraak te word nie. Hoop oom gaan versigtiger wees, ons moet álmal

Sarie ·

Ek is baie bly Oom deel hierdie met ander mense. En is baie bly Oom is nie ernstig beseer nie. Bitter hartseer dat mense (bystaanders) net staan en toekyk, en nie eers nadat dit gebeur het, hulp aanbied nie. Ek kry partykeer skaam om myself ‘n Suid-Afrikaner te noem…

Duncan Olivier ·

Bly Oom is veilig! Asb almal jonk of oud, moet NOOIT jou beusie in die agter broeksak bêre nie!

Johanna Botha ·

Werk gladnoe met kontant nie doen alles deur die internet …moeilik gegaan aan die begin maar nou werk dit vir my verkies dit ….betaal my werkers op hulle foon en hulle gaan trek die geld …nie ek nie.

Scalla ·

Ou oom Doom, sterkte by u en ek hoop u herstel van die voorvalle, daar is geen respek en die tyd van die bybel in die sak is verby soos in die goeie jare toe u voltyds in die bediening gestaan het en dit te verkondig het aan hulle, u gaan gedwing word om dit te vervang met n skietding. Dit is hartseer maar n werklikheid.

Catryn ·

Is of was daar nie veiligheidskamera’s by die sentrum nie, kry die tyd/datums reg en hoor of dit so is… Dalk kan daar ‘n saak by die SAPS gemaak word indien daar wel foto’s is van die wat die ou mense so besteel en aanrand. Sit hulle foto’s op vir almal om te sien dat hulle gesoek word vir roof.

snoepie ·

Ek bly self in Kroonstad; en amal hier weet dat dit die gevaarlikste deel van ons dorp is. Nie eens as jy jonk is loop jy alleen daar nie. En kameras is daar beslis nie.
In die dorp is dit elkeen vir homself. En sal niemand betrokke raak of help nie. Te bang om te gaan getuig

Mearle ·

Dat niemand help nie, nie eers vra of oom oukei is nie… dis so hartseer! Wanneer het almal so liefdeloos geword? Ek ervaar dit elke dag

Ronel ·

Ai oom Corrie. Bly maar weg van Shoprite af. Dis n nes daar. Net bly oom is veilig en dat die nek nie weer seergekry het nie. Die Oom het n ruk gelede geval en sy nek op n aardige plek gebreek.

Regverdigheid sal seëvier ·

Dankbaar ..dit kon erker gewees het maar so leer ons almal maar moeilik met seerkry uit duur foute. Die bose is tussen ons ..’n harde werklikheid. Tog so jammer…wag maar elkeen SAL buig en betaal wat jy verkeerd aan jou medemens doen. Sterkte oom.

Ouvrou ·

Ons mense kan hier op Maroela oeee en aaaan oor al die geweld en wat om te doen. Maar as ‘n ou mens helder oordag geroof word en hy roep om hulp is daar blinde dowe mense wat daar rondbeweeg. Sies as jy een was wat daar was. Hoop nie jy kry eendag hulp nodig nie.

Engela de Klerk ·

“Eers kwaad vir die Here..”. Sowaar! Maar Dominee, asseblief-tog, waarom nou die wysheid, nadat jy eers vir God jou wange opblaas? Jy behoort absoluut van beter te weet. Jy leef mos in Suid-Afrika, is dit Joe so en het jy nou werklik gedink jy kan maar geld trek en in jou broeksak druk asof niks en niemand jou sien en geen kwaad sal jou toekom? So, vra maar askies vir Jesus!

Julie ·

So jammer oor di trauma. Probeer asb volgende keer liewers binne in bank gaan geld trek. Meeste banke het OTM binne in bank waar jy privaat is en niemand sien jou ni. Ek en my man doen dit deesdae. Voel net veiliger. Beursie asb ni in agter sak ni.

Lucile ·

Watse tipe mense sal hierdie aanvalle sien gebeur en niks doen om te help nie? Sies, Kroonstad. Sies Apteek.

Ronel ·

Lucile. Ek is self ‘n Kroonstad inwoner en weet watter gaggie deel van die Kroonstad die oom aangeval is, maar dit keer niemand om die oom te hulp te snel na die aanval nie! Ek kan jou belowe as ek daar was, sou ek hom help, so nie almal in Kroonstad is sleg nie.

Marsmannetjie ·

Meneer Brits ek is jammer oor die misdaadvoorval. Sterkte. Ek lees dat Kenya gister ‘n reis waarskuwing uitgereik het vir sy landsburgers om hulle in te lig rakende die risiko’s om Suid-Afrika te besoek aangesien die misdaad situasie hier buite beheer begin raak.

Andriette ·

Ek is jammer oor oom se slegte ondervinding. Ek woon in die distrik, en doen my inkopies in Kroonstad. Die grootste meerderheid Kroonstadters is goeie mense. Ek het so ‘n ruk terug by die Brandstraat/Crossstraat kruising geval en my kop ‘n yslike sny. Dit het gevoel asof die hele straat my te hulp snel. ‘n Swart man het self vir my ‘n rol toiletpapier gebring vir die bloeding! ‘n Vrou van die meubel winkel oorkant Edgars het my kom haal en na hulle badkamer gevat, en hulle noodhulp tas tot my beskikking gestel. Onthou net daar is nog baie goeie mense. Moenie dat die kriminele maak dat mens dit vergeet nie.

Jane ·

Lyk my asof jy net op die regte plek moet val. Bly jy is mooi gehelp.

tamboti ·

Deur die passiewe en aktiewe optrede van die NSA regering het misdaad ‘n onwettige maar aanvaarde besigheid geword. En die meerderheid van NSA se gemeenskap aanvaar dit solank dit net nie met hulle self gebeur nie.
Al wat kan verander is dat voorheen bevoordeeldes (nou miskendes) ook hul toevlug tot misdaad gaan neem, en die skaal weer bietjie in ewewig sal trek.

Irene Snell-Carroll ·

Baie dankie dat u u ervaring deel. Ons Organisasie: Age-in-Action (Bejaardes in Aksie) is gedurig besig om bejaardes bewus te maak van mishandeling en hoe hulle hul moet beskerm. Ons is erg bekommerd oor die feit dat misdaad toeneem en bejaardes is ‘n maklike teiken. Ek is baie u het goed daarvan afgekom. Voorspoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.