Bejaarde (86) in ouetehuis vermoor

Argieffoto: Kent Williamson

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ʼn 86-jarige vrou die afgelope naweek wreed in ʼn ouetehuis in Springs in Gauteng vermoor is nie.

Die vrou het alleen in haar huisie in die aftree-oord gewoon.

Kapt. Johannes Ramphora, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die vrou se liggaam is Sondag in die Rus-ʼn-Bietjie-aftreeoord aangetref.

“Haar kind bel haar elke dag en haar foon het Sondagoggend nie gelui nie. Die kind het die vrou se bure gebel wat gaan ondersoek instel het. Die deur van haar huisie was gesluit,” het Ramphora gesê.

Nadat die bure daarin kon slaag om die sleutels by iemand op te spoor het hulle die huis binnegegaan en die vrou op die vloer langs haar bed in die slaapkamer aangetref.

“Haar hande en voete was vasgebind en daar was ʼn stuk lap in haar mond ingedruk,” het Ramphora gesê. Volgens hom het sy geen sigbare skiet- of steekwonde gehad nie, maar hy het bygevoeg dat die oorsaak van dood deur ʼn nadoodse ondersoek vasgestel sal word.

Die huis was geplunder. Volgens Ramphora wag die polisie nog dat die vrou se kinders kom uitwys wat, indien enige iets, gesteel is van die toneel. Daar was geen tekens van gedwonge toegang tot die huis nie.

“In dié stadium vermoed ons die aanvaller/s het toegang deur die voordeur gekry wat moontlik nie gesluit was nie en het ná die aanval die deur gesluit en van die toneel gevlug, maar ons is besig met die ondersoek.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof.

Ramphora het gesê die oorledene se familie het versoek dat haar identiteit nie in dié stadium bekendgemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

D V ·

Hoe jammer dat ‘n bejaarde so aan haar einde moet kom. Dit nog al by ‘n ouetehuis met sekruiteit.
Mag die naasbestaande ryklik vertroos word deur die Heilige Gees. Ons dink aan hulle met die verlies

Nettie ·

@D V – dit is nie by ‘n ouetehuis nie, maar wel ‘n aftree-oord. Groot verskil. Mense spandeer etlike honderde duisende, selfs miljoene rande op ‘n huisie by ‘n aftree-oord, in die geloof dat hulle daar veilig sal wees (daar is mos beheerde hek-toegang, kameras, wagte ens …..) – WAT ‘N KLUG!!! Die meeste veiligheids- oftewel ‘sekuriteits’-oorde en aftree-oorde is ‘n klug, wat dit sekuriteit en die veiligheid van die inwoners aanbetref.

Hester ·

Ag nee ons harte gaan uit na die familie hoe gebeur dit in ‘n beskermde ouetehuis

Oujongvrou ·

Dis vreeslik dat n mens so oud word en dan wreed vermoor word.

Eie land asb ·

Ons soek ons eie stukkie land waar ons respek vir lewe het en beslis nie weerlose bejaardes vermoor nie maar ons kan nie meer die land met hierdie geweldadige wrede medebewoners deel nie.

Boere Hart ·

Dit is hoe n mens oorlog voer…Mao het gese as jy n oorlog wil voer sonder om baie teenstand te kry moet jy die bejaardes so wreed moontlik om die lewe bring. Daardeur sal die wat oorlewe baie makliker oorgee.

Elria Jordaan ·

Ek stem saam hoe gebeur so iets. Dit laat mens wonder of dit n “inside” job is. Bid vir di familie

Voorstel ·

Kan Afriforum geld in europa en amerika insamel deur bewusmaking onder gewone mense daar, dit kan dan aangewend word om ons bejaardes en weerloses te beveilig.

TinRSA ·

Sien nie dat die polisie al vasgestel het dat dit nie iemand was wat die arme vrou geken het wat haar vermoor het nie. Dalk nog ‘n familielid. Ongelukkig is gierigheid ook ‘n motief.

RH ·

Hy’t toegang gekry deur die voor deur!!! WAT VAN DIE HEK VAN DIE OUETEHUIS??? WAAR WAS SEKURITEIT GEWEES??? Of is daar nie??? Ons moet maar almal begin gewoonte maak daarvan om daagliks, soggens en saans mekaar te laat weet almal is lewendig en ok. Anders gaan ons nooit weet van sulke dinge nie. Gelukkig het die kind daagliks gebel en dadelik agter gekom iets is nie reg nie!

Mariette ·

Graag wil ek net noem dat daar geensins verwyte na die sekuriteit gegooi kan word nie. My ma werk al vir 15 jaar vir Rus ‘n Bietjie en my ouma wat ook daar gewerk het en afgetree is daar het nog nooit probleme met sekuriteit gehad nie.. die tannie is vermoor deur wit “kinders” wat voorgegee het hulle soek hulle ouma en dis hoe hulle toegang gekry het tot die oord want niemand het onraad bemerk toe die “kinders” wou inkom om vir hulle “ouma” te kuier nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.