Bejaarde Alzheimerlyer glo in oord verkrag

Argieffoto

“Waar is die menslikheid?” wil ʼn vrou van Pretoria weet nadat haar bejaarde ma na bewering in ʼn Suid-Kaapse versorgingsoord verkrag is, maar sy dit eers twee weke later deur ʼn vriend moes uitvind.

Die 44-jarige vrou is die jongste dogter van die slagoffer. Sy sê ʼn familievriend het haar ma (76), ʼn Alzheimerlyer, na bewering op 9 en 10 September in haar kamer in ʼn oord op Mosselbaai verkrag.

Tussen die beweerde verkragtings en 28 September, toe ʼn vriend haar ʼn foto gestuur het van die plaaslike koerant se voorblad met haar ma se storie daarop, het sy die oord se matrone per e-pos op 12 September gevra en telefonies op 28 September of alles in die haak is met haar ma. “Sy het twee keer vir my gelieg,” vertel die ontstelde vrou.

Sy beweer toe sy die bestuurder van die oord genader het om uit te vind waarom hulle haar nie van ʼn hospitaalondersoek waarvoor haar ma geneem is die aand van 11 September, ingelig het nie, het hy haar glo oor die telefoon verskree en gesê hulle skakel net met een persoon oor ʼn inwoner se welstand, in dié geval met die bejaarde se seun wat volmag het oor sy ma se sake.

“Ek verstaan hul sakebeginsel dat hulle net met een mens praat, maar ek woon ver van my ma af. Het hulle enige medemenslikheid?” wil die vrou weet. “Alles word net eenvoudig onder die mat gevee.”

Die vermeende verkragter, ʼn 65-jarige vriend van die familie wat in dieselfde kerk op Hartenbos is as waar die 76-jarige slagoffer se man jare lank pastoor was, het reeds in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Die slagoffer se ander dogter het vertel die oord se bestuur het op beeldmateriaal van die kamera in haar ma se kamer gesien wat gebeur het. Die beskuldigde beweer glo die slagoffer het tot seksuele omgang ingestem en dat hy nie geweet het sy het Alzheimersiekte nie, al is dit reeds in 2009 by haar gediagnoseer.

Hy het Vrydag aan die Sondagkoerant Rapport gesê: “Ek het alles in die hande van die Here gelos; dit voor sy voete neergelê. My vrou is 100% agter my, ook die kerk en my vriende.”

Die saak is uitgestel hangende ʼn neurologiese verslag van die slagoffer om vas te stel hoe gevorderd haar toestand is, maar sy kon blykbaar eers in Desember ʼn afspraak by ʼn neuroloog kry.

“My ma se waardigheid is aangetas,” sê die slagoffer se dogter. “Hoe gaan dit in die toekoms verhoed word dat dit met ander pasiënte gebeur?”

Die oord se bestuurder het Woensdag by navraag aan Maroela Media gesê die doel van sekuriteitskameras by die versorgingsoord is om as afskrikmiddel te dien. Hy meen “dis onmoontlik om dit dag en nag te monitor”.

Hy beskuldig die slagoffer se jongste dogter daarvan dat sy “sielkundige probleme” het en dat haar ouer broer en suster “niks met haar te doen wil hê nie”.

“Ek kan geensins reageer op enigiets wat sy sê nie.”

Die bestuurder het Maroela Media met regstappe gedreig “as my besigheid enigsins skade aangedoen gaan word”.

Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die beskuldigde het reeds in die hof verskyn op aanklag van verkragting. Die saak is tot Desember uitgestel.

** Die aanvanklike berig is gewysig nadat Maroela Media ook met ander familielede van die beweerde slagoffer gepraat het. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

As sis ·

Ek word sommer naar vir die vent. Hoe verwag jy jou vrou moet agter jou staan wanneer jy so iets doen, ek dink nie so nie.

Danell ·

Skande, en dit nogal op JOU ouderdom oupa.! SOU die dame wel ingestem het tot die daad soos jy beweer (wat ek sterk betwyfel)….verdien jy wragtie nie jou vrou se ondersteuning nie. Skande skande.!!!

E.H.Meiring ·

Ek ken die klaagster persoonlik en werk al twee dekades saam met haar. As sy sielkundige probleme het , dan is ek ‘n buite ruimtelike wese. Die klaagster is hoogs beskaafd, hoogs intelligent , totaal gebalanseerd en totaal normaal. Ek vermoed diegene wat “ niks met haar te doen wil hê nie “ voel skuldig – oor hul nie hul bejaarde Ma ordentlik opgepas het nie en oor hul skuldig is aan dié gruweldaad.

Mickey ·

Dit is nogals n moeilike situasie. Wat as die ma tog ingestem het en as dit n verkragting was kon niemand hoor dat sy skree vir hulp nie. Hoop dat die ou mensie ok is.

Se maar net 1 ·

My ouma het Alzheimer gehad. Glo my hul word weer soos ‘n kind. Seks is die laaste ding waaraan hul dink. As sy ingestem het het sy nie eens geweet vir wat sy instem nie. Ek hoop die ‘pastoor’ of eks-‘pastoor’ kry sy dag. Geregtigheid geskied altyd al neem dit lank.

??? ·

Hy sê hy het dit in die hande van die Here gegee, by Sy voete gelos? Die vent het nie ‘n idee wie God is nie. En ‘n kerk wat sy egbreuk goedkeur nog minder.

Peet J ·

Wonder of hy en die slagoffer nie dalk ‘n soort van liefdesverhouding met mekaar gehad het nie en nou word hy beskuldig van verkragting, ‘n man moet maar versigtig wees deesdae vir die teenoorgestelde geslag weet nooit wanneer jy in ‘n slagyster trap nie.

Ai ·

Ek dink jy is ‘n baie siek mens. Die klaagster het Alzheimer’s. Weereens is dit n tipiese siening van n sekere groep mans.

Anita (die eerste) ·

Bejaardes verdien om waardig behandel te word. Dit sluit beskerming en veiligheid in.
Des te meer rus daar ‘n verantwoordelikheid om die ‘oord’, familie en die samelewing indien die persoon Alzheimer se siekte het.
‘n Samelewing wat nie na behore na weerlose bejaardes en kinders wil omsien nie, kan nie enige aanspraak maak op beskaafdheid nie. Eintlik is dit die maarstaf vir beskaafdheid: hoe word daar na weerlose mense in die betrokke samelewing omgesien?
Staak ook asb. die verwysing na bejaardes of enige slagoffers as “mensies” of “mensie”
Waarskynlik word die woord /verkleiningsvorm gebruik om simpatie uit te druk, maar onbewustelik word die persoon verklein. En sodoende word iemand gepatroniseer wat in Engels beskryf word as: “you talk down to someone”.

Saartjie ·

Dankie @Anita (die eerste) dat jy die gebruik van verkleinwoorde aanspreek. As ek in die ouetehuis beland en iemand spreek my aan as ‘oumatjie’ of verwys binne hoorafstand na my as ‘mensie’, hoop ek dat ek nog genoeg krag sal hê om hulle met my kierie by te kom. Noem die persoon op sy/haar naam, asseblief.

Sarel ·

1. Hoekom het die ander kinders haar nie ingelig nie. 2. Die Bestuurder is onbevoeg. 3. Die man gaan loskom, kyk mooi.

Christelle ·

Hoe kommunikeer jy met iemand wat jou “nie ken nie”….?

PJC ·

Hierdie voorval wys weereens hoe laag mense kan daal en dit geld vir sowel die oortreder as die wat dit probeer verdoesel. Geen ordentlike mens kan dink dat so iets kan gebeur nie. Absoluut ń riller.

Pop ·

Wat n aaaklige storie. Die plek moet toegemaak word. Dit lyk nie baie groot noe so hoe kan doe nestuurder se hulle kan nie die kameras gedurig monitor nie. Dis n skande. En dit kos seker ook n helse lot.

Onnie ·

Waar kan ‘n 76 jarige Alzheimer’s lyer instem tot seks??! As ek die dogter was sou ek hom dagvaar vir naamskending ook en growwe nalatigheid – anders hoop ek vir sy part hy het bewyse dat sy sielkundig onstabiel is.

tish ·

sies al wat ek kan se…………
skandelik
gin wonder my bejaarde ma se “die hel sal vol wees eendag en die hemel leeg”

Anoniem ·

As daar ‘n kamera in die kamer is wat “alles afgeneem het”… for crying out loud. Wat is die onduidelikheid? Die GETROUDE “familievriend… die vrou wat al amper 10 jaar aan Alzheimers ly… En sy vrou “staan AGTER hom”?? Sieklike, sotlike situasie.

ANDRE ·

Elke oord/atree oord is net daar gestel om oumense soos koeie te melk uit hul geld uit,deur mede CHRISTEN mense….

Theresa ·

Sekerlik word daar duisende rande betaal om toe te sien dat daar genoegsame aandag aan hierdie bejaardes bestee MOET en kan word.
Waarom die media dreig as daar niks is om oor te bekommer nie?
Waarom neerhalend praat van enige van die familielede – hul is jou betalende kliët??? Vreemde optrede vir ‘n besigheidsman.
En nee. Persoonlik dink ek nie die tante het ingestem nie (net my mening) en dan moet die beskuldigde mooi trap om nou die kerk in te sleep al staan sy vrou dalk 100% agter hom? Die dogter wat wel belangstel in haar moeder se welstand, was skandalig hanteer deur die bestuur. Dit het niks met hom te doen wie in die familie goed of nie goed met mekaar oor die weg kom nie. Toe sy vrae vra, moes hy eerlik antwoord. Hoop die tante word na ‘n berader /sielkundige ook geneem, wat dalk moontlik meer lig op hierdie jammer gebeure kan werp.

CHANTEL ·

Dis n seening van bo om oud te word en net genade maar as ek die stories lees wat ons bejaardes moet deurgaan en wat met hul gebeur en hoe hul hanteer word raak ek skoon benoud…..dis verskriklik en ek kan nie dink wat gebeur nog waarvan ons nie van weet nie

Neels ·

Teen R10 400 per pasiënt per maand, daar is 32 kamers waarvan hele paar gedeel word. Maak jy die somme….

Erica ·

Ek het altyd gedink dit is net ouers wat kinders gebruik om mekaar by te kom, dit blyk daar is ook heelwat kinders wat hulle ouers in hulle ou dae gebruik om mekaar by te kom. Dit is ‘n skande dat ouers nie eens in die laaste skof van hulle lewe die voorreg mag hê om al hulle kinders saam te mag sien. Dit is regtig ‘n skreiende skande. En dit is mense van alle vlakke van die samelewing wat dit doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.