Bejaarde boer sterf weke ná plaasaanval

David Leslie (Foto: Facebook)

’n Boer van Harrismith in die Vrystaat is Sondag in ’n plaaslike hospitaal dood nadat hy op 1 September op sy plaas in die distrik oorval en aangerand is.

David Leslie (81) is tydens die aanval met ’n stok aangerand en het erge kopbeserings opgedoen waarvoor hy meer as ses weke in die hospitaal behandel is.

Nkosiyethu Msibi, die vermeende aanvaller, het intussen herstel nadat dié ook tydens die voorval beseer is.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê ’n nadoodse ondersoek sal nou gedoen word om die oorsaak van Leslie se dood te bepaal.

Sou vasgestel word dat Leslie dood is weens die beserings wat hy in die aanval opgedoen het, sal die aanklagte teen Msibi gewysig word om moord in te sluit.

Msibi staan in dié stadium tereg op aanklagte van poging tot moord, diefstal en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hy sal na verwagting op 12 November op dié aanklagte in die landdroshof in Harrismith verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Msibi het na bewering die dag voor die aanval by Leslie om werk aangeklop. Volgens Mbambo het Leslie aangedui dat hy geen werk vir hom het nie waarna Msibi vort is.

Msibi het glo die volgende dag na die plaashuis teruggekeer en Leslie met ’n stok aangerand.

ʼn 56-jarige versorger wat in die huis inwoon het ʼn geraas gehoor en ondersoek ingestel waarna Msibi haar glo óók aangerand het.

“[Leslie] se jonger seun het gelukkig opgedaag en die verdagte sover gekry om te bedaar,” het Mbambo vroeër gesê.

Leslie is ná die aanval na die Busamed- private hospitaal en die verdagte na die Thebe-distrikshospitaal op Harrismith geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mariaan ·

Op heterdaad betrap waar die oom aangerand word en NOGSTEEDS moet hul eers kyk of dit die oorsaa v dood is…HOE OP DEES AARDE OORLEEF MENS IN SO N LAND!

Riaana ·

Mens kani oorleef in hierdie land nie, dis soos half onmoontlik as jou vel wit is

Misky ·

Iemand moet darem my pa sò aanrand….. ek laat “bedaar” niemand nie en hulle sal hom in stukkies daar gaan haal het

Pieter ·

Misky, hier is ek 110% saam jou. EK bedaar niks. EK skop en slaan tot hy stil le.

Lynette ·

Jaaa, Misky….almal praat GROOT prate, kom dit by vergelding, ‘veg boere terug’ (en die Afrikanervolk) met die Bybel styf onder die arm vasgeklem. Ek voel dis n KLAP in die gesig van Brendin se ouers dat die boere wat in Senekal betoog het, en gebid.het vir Brendin, sy ouers en die volk, sommer summier in DIESELFDE asem OOK vir die gearresteerde verdagtes (moordenaars) gestaan en BID het….absoluut belaglik en n klap in die gesig van AL die volksgenote wat al hul lewens verloor het, meer spesifiek Brendin en sy ouers.

tweeling ·

So as hy nou aan ‘n hartaanval gesterf het, agv die skok, dan sal dit nie wees agv die aanval nie want julle soek mos selektief duidelike bewyse

Cecilia ·

Kom kastig werk soek? Dis net n manier om d wereld deur te kyk en planne aftermekaar te kry. Hoekom oorleef d aanvaller en d slagoffer sterf? Nou gaan hy lèkker 15 jr op Staatsgeld in d Korrektiewe Hotel deurbring terwyl hy beter planne beraam om vlgnde keer met moord weg te kom.

jzjz05 ·

Daar is net een ding wat die aanvalle en moorde onmidelik in sy spore sal stop en dit is die DOODSTRAF

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.