Bejaarde buite Fochville vermoor; 3 reeds vas

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

ʼn Ma, seun en vriend is in hegtenis geneem kort ná die moord op ʼn 84-jarige vrou van Fochville in Gauteng. Die verdagtes woon in ʼn woonstel op dieselfde plaaswerf as die bejaarde slagoffer.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes, onderskeidelik 64, 23 en 29 jaar oud, is in Klerksdorp in Noordwes in hegtenis geneem nadat hulle met sommige van Susanna Maria Elizabeth Nell se besittings betrap is.

Nell se liggaam is Maandag in haar plaashuis buite Fochville aangetref.

Volgens Masondo het ʼn plaaswerker Maandagoggend vir werk aangemeld en aan Nell se deur geklop. Toe sy nie antwoord nie, het hy dadelik onraad vermoed.

Masondo sê die werker het om die huis gestap en opgemerk dat die venster van ’n slaapkamer oopgedwing is. Hy het ʼn buurman ontbied wat die polisie ingelig het.

Nell se liggaam is versteek onder ʼn hoop klere in die eetkamer van die huis aangetref. Dit is nie in dié stadium duidelik hoe sy dood is nie.

Masondo sê die verdagtes se woonstel het oopgestaan toe die polisie daar aangekom het en sommige van Nell se besittings is daar gevind.

Die verdagtes sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof.

“Misdaad teen bejaardes bly een van ons prioriteite en die polisie sal toesien dat diegene wat voordeel trek uit [aanvalle op] weerlose senior burgers, aan die pen ry,” sê lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiehoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Die wreedheid teenoor bejaardes en sinnelose moord geniet volgens die nuusagentskappe prioriteit aandag. Ek kan nie saamstem nie. Kyk hoe is dit besig om toe te neem. Die wreedheid teenoor kinders, boere en vroue ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.