Bejaarde dood ná aanval in hospitaal

Anna-Marie Buys Foto: Verskaf)

Die bejaarde vrou wat verlede naweek in die Helen Joseph-staatshospitaal in Johannesburg na bewering deur ’n medepasiënt aangeval is, is oorlede. Haar familie oorweeg nou regstappe teen die hospitaal.

Anna-Marie Buys, in haar laat 70’s, het Donderdagoggend vermoedelik weens ’n bloedklont in dieselfde hospitaal omgekom waar ’n medepasiënt haar glo dae vantevore aangerand het. Maroela Media het Woensdag berig dat ’n medepasiënt in dieselfde saal glo in die vroeë oggendure op Buys se bors geklim en haar aan die nek met ’n plastiekmes gesny het.

Debbie Buys, Anna-Marie se skoondogter, het aan Maroela Media gesê die familie is kwaad oor wat haar skoonma in haar laaste dae moes deurmaak.

“Ons as familie sê nie sy is dood weens die aanval nie, maar haar dood regverdig steeds nie wat met haar gebeur het nie. Dis so asof die hospitaal dink noudat sy dood is, sal ons weggaan.”

Ja, die familie oorweeg regstappe, maar wil in dié stadium eers oor die verlies van hul vrou, ma, skoonma en ouma rou, verduidelik Debbie. “Dit lê soos ’n berg voor ons.”

Sy vertel dat haar skoonpa, Aubrey, veral swaar kry ná die dood van sy vrou van die afgelope 51 jaar. “My skoonpa was histeries nadat ons gehoor het van haar dood en het gesê ons moet haar daar wegkry, want hulle gaan haar seermaak.”

Aubrey het ook daarop aangedring dat ’n nadoodse ondersoek onafhanklik van die hospitaal op sy vrou gedoen word.

“Ons weet sy was bitter siek. Ons wys die vinger na niemand nie, maar net vir my skoonpa se eie gemoedsrus moet ons dit doen,” verduidelik Debbie. Anna-Marie was in die hospitaal nadat sy vroeër vanjaar met brein- en longkanker gediagnoseer is. Aubrey het Saterdag by sy vrou in die hospitaal gaan kuier toe hy ’n stuk gaas aan haar nek opgemerk het.

DIe wond aan Anna-Marie Buys se nek. (Foto: Verskaf)

Aubrey het eers nie veel daarvan gedink nie totdat die gaas later losgekom en hy die wond aan Anna-Marie se nek gesien het. Hy het dadelik vir Debbie en haar man ingelig wat hulle toe na die hospitaal gehaas het.

Debbie het vroeër vertel daar is aanvanklik aan hulle gesê dat ’n medepasiënt vir Anna-Marie wou bid en dat sy in die proses beseer is.

’n Ander pasiënt, wat in dieselfde saal as Anna-Marie en die beskuldigde behandel is, het egter vertel sy het gesien hoe een van die ander pasiënte in die saal op Anna-Marie se bors sit, met die hand Anna-Marie se mond toehou en met die ander aan haar nek met ’n plastiekmes sny.

Anna-Marie het ook later self die gebeure bevestig. “My skoonma se presiese woorde was: ‘’n Vrou het bo-op my gesit en wou my doodmaak’,” het Debbie vertel.

Volgens Debbie word die beskuldigde steeds in ’n gewone saal in Helen Joseph behandel.

Die familie het daarop aangedring dat die vrou onafhanklik van die hospitaal sielkundig geëvalueer word. Volgens Debbie was daar reeds sielkundiges by die vrou, maar geen evaluasie het nog plaasgevind nie.

“Daar is vir ons gesê dat die hospitaal net twee beddens het vir psigiatriese pasiënte. Een van die verpleegsters het ook vir ons gesê dat die vrou nie eens die aanval op ouma onthou nie,” vertel Debbie.

Aubrey en Anna-Marie Buys Foto: Verskaf)

Nadat die familie daarop aangedring het dat die hospitaal ’n saak by die polisie aanhangig maak rakende die voorval, het twee polisiebeamptes Anna-Marie voor haar dood besoek. Hulle kon egter nie ’n verklaring aflê nie omdat Anna-Marie glo te deurmekaar was. Debbie sê sy is ongelukkig daaroor dat die hospitaal toegelaat het dat beamptes haar skoonma in haar toestand ondervra het.

Aubrey het sedertdien ’n saaknommer ontvang. Dit is egter nie duidelik watter aanklagte ondersoek word nie.

“Ons familie het van die begin af vir die hospitaal gesê dit gaan oor die toestand van gesondheidsorg in ’n mediese fasiliteit. Wat as dit jou ma, jou sussie of jou kind was?” vra Debbie.

“Ons sal ouma onthou as iemand wat ons almal laat lag het en ons mae vol gehou het. Jy kon hóé kwaad word, dan het sy gesê: ‘Bly kalm, my kind, word rustig.’”

Anna-Marie word Saterdag te Raathstraat 26, Horison, Roodepoort, ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

pan ·

Hoekom doen die polisie nie n ondersoek nie,vir wat dit mag werd wees.Ons nodig n tuisstaad waar hierdie optrede nie geduld of toegelaat sal word nie.

wet ·

Die trauma van die aanval was te veel vir die tannie. Dit is verseker die hospitaal se skuld. Alle sterkte

Al ·

Sterkte aan die gesin, dis tragies. Hoe traumaties moes dit nie vir die oorledene nie wees. Sy is bejaard en kon haarself nie verdedig nie.
Gaan voort met die saak. Dit kan nie gelos word nie, ten minste moet die aanrandingsaak sy reg gaan.

Coen Hattingh ·

Sjoe dis hartseer. Innige medelye met die gebroke familie en vriende. Tyd genees wonde maar merke merke is onuitwisbaar. Ons dink a a n julle in ons gebede vir berusting. Sterkte julle.

Natascha ·

hoop die familie vat dit beslis verder, waar was die verpleeg personeel,??? As die Tannie reeds al n vorige keer aangeval is, hoekom nie voorsorg tref?
Nee wat dan wil die President nog wegdoen met mediese fondse en als soos die staat laat word.
Jammer aan die familie oor jul groot verlies, niks kan haar nou terug bring nie, maar asb MOET dit nie hier los, dit is hoekom almal weg kom met moord in SA, want niemand is bereid om dinge verder te vat en as jy nog wit is, is jou kanse BAIE skraal dat daar iets van gaan kom. Vat dit aan en volg gereeld op.
Sterkte aan die familie.

A ·

Dan wil die regering nog SA onderwerp aan die NHI. Terwyl sy staatshospitale in geweld en agteruitgang en verval agteruit gaan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.