Bejaarde dood toe taxi teen motor bots

‘n Bejaarde man is oorlede, terwyl twee mense ernstig beseer is. (Foto: Verskaf)

ʼn Bejaarde man is Saterdag in Johannesburg oorlede en nog twee mense is ernstig beseer toe ʼn minibustaxi teen ʼn motor vasgery het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê paramedici is om 20:20 na Mnandi-rylaan in Diepsloot ontbied waar hulle plaaslike veiligheidsbeamptes op die toneel aangetref het. ʼn Motor en ʼn minibustaxi was in die middel van die pad.

“Ongelukkig het ʼn bejaarde man wat agter in die motor gesit het, reeds aan sy beserings beswyk. Hy is op die toneel dood verklaar.”

ʼn Vrou is in die passasiersitplek aangetref, terwyl die bestuurder, ʼn man, in die motor vasgekeer was. Albei was in ʼn kritieke toestand.

Die bestuurder moes met reddingskake uit die motor bevry word.

“Paramedici het albei pasiënte met gevorderde lewensondersteunende ingrypings behandel voordat hulle na die Helen Joseph- provinsiale hospitaal vir behandeling geneem is,” het Meiring gesê.

Dit is nie duidelik of die minibustaxibestuurder beserings tydens die voorval opgedoen het nie.

“Die polisie was op die toneel en ondersoek die oorsaak van die ongeluk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pierre ·

Dit is nie duidelik of die minibustaxibestuurder beserings tydens die voorval opgedoen het nie, so ek neem aan hy het gevlug

Nie Verbaas ·

Alweer n taxi. Laat ek nou net waag om 70 in n 60 zone te ry dan is verkeersbeamptes daar. Taxis doen wat hulle wil en waar is verkeersbeamptes dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.