Bejaarde egpaar dood toe huis brand

Die brandende huis (Foto: Skermskoot)

ʼn Bejaarde egpaar is dood toe ’n brand Woensdag in hul huis op ’n kleinhoewe in Muldersdrif in Gauteng uitgebreek het.

Paul Catlett, ʼn lid van die brandbeskermingsvereniging in Muldersdrift, sê brandbestryders en nooddienswerkers is gisteroggend omstreeks 07:00 na die huis op die kleinhoewe ontbied. Met hul aankoms op die toneel, was die huis reeds in vlamme.

Hulle is ingelig dat twee bejaarde persone van in hul 70’s of 80’s in die huis vasgekeer is. Volgens Catlett kon die span weens die digte rook en vlamme nie dadelik die huis binnegaan nie.

Die vereniging het saam met die Magalies-brandweer en -rampbestuurspan die brand probeer blus en die vlamme is eers ná sowat twee en ʼn half uur in bedwang gebring.

“Die dak het tydens die brand ineengestort,” het Catlett gesê.

Die brand is eers na twee en ‘n half uur onder bedwang gebring (Foto: Skermskoot)

Nadat die brand geblus is, is paramedici en lede van die polisie in die huis in waar hulle die twee bejaarde slagoffers aangetref het. Albei is op die toneel dood verklaar.

Catlett sê die vrou was glo bedlêend.

“Dit is nog nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie.”

Catlett het mense ná die voorval gewaarsku om bedag te wees op hoe vinnig ʼn brand kan uitbreek en het ʼn beroep op die publiek gedoen om die nodige veiligheidsmaatreëls in te stel om voorvalle te help voorkom.

Maroela Media het ’n navraag aan die provinsiale polisie gerig en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.