Drie gewapende rowers het ʼn bejaarde egpaar en hul dogter Woensdagaand by hul huis in Vredenburg in die Wes-Kaap beroof en aangerand.
“Die wreedheid in hul oë was duiwels, boos. Die woede en die haat het gesê: ‘Ons kom om julle te vermoor’,” het die slagoffers Donderdag aan Maroela Media gesê.
Volgens Geraldine Prinsloo (36) was sy net voor 19:00 buite toe drie mans met ʼn silwer Corsa-bakkie agteruit by hul erf inry. Sy het onmiddellik geweet iets is fout en het gou die pepersproei in die huis gaan haal. Haar ma, Estella (61), en pa, Stephen (63), was besig met aandete.
Die rowers het aanvanklik voorgegee om hout te koop en Geraldine het kleingeld in die huis gaan haal.
Die rowers het Estella toe in die houtstoor langs die garage ingedruk. Sy het herhaal dat Geraldine kleingeld sal bring, waarop een van die rowers haar herhaaldelik met ʼn pistool op die bors begin slaan het. Hy het haar naderhand op die grond gegooi en toe sy opstaan, het hy haar weer met die pistool gestamp. “Ek het die pepersproei gegryp en hom gespuit, maar hy het my deur die gesig geklap en weer met die pistool geslaan,” sê Estella. “Ek het aanhoudend gegil en om ons lewe gesmeek.”
Geraldine is die huis ingestamp, waar die aanvallers Stephen teen die muur vasgedruk het. Hy is verskeie kere met ʼn pistool teen die kop geslaan en sy bril het in stukke gebreek.
“Die aanvallers het deurgaans Engels gepraat en gesê dat hulle die kluis soek,” vertel Estella. Die Prinsloos het gesê dat hulle net geld in die houtstoor gehad het. “Een van hulle het ʼn pistool teen my gesig gedruk en my na die houtstoor gestoot. Ek het die geldlaai oopgesluit en hy het al die geld daarin gevat,” sê Estella. Die drie is nie seker hoeveel geld in die laai was nie.
Terug in die huis het die aanvallers met Geraldine oor haar selfoon begin stoei. Stephen het hulle van haar afgeruk en Geraldine het die kans gebruik om deur die voordeur te vlug, oor ʼn hoë betonmuur te klim en die bure te vra om die polisie te bel.
Volgens Stephen het die rowers met die geld laat spaander toe hulle besef dat Geraldine weg is. “Ek sê net dankie, Here. As Geraldine nie weggehardloop het nie, was ons dood,” sê Stephen.
Die Prinsloos het ʼn saak van huisroof by die Vredenburg-polisie aanhangig gemaak.
Kapt. André Traut, woorvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het bevestig dat die Vredenburg-polisie ʼn saak van huisroof ondersoek. Enige persoon met inligting word vriendelik versoek om Crime Stop by 08600 10111 te bel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
14 Kommentare
Dit is nou eenmaal te veel
Tyd dat ons self iets begin dien hieraan
This has gone too far.
We should have put our foot down years ago.
Time to wake up my fellow south africans.
Nog n onnodige aanval op onskuldige mense
WAAR IS JY CYRIL MET AL JOU LEE BELOFTES
Ons almal gaan baie paraat moet wees. Die aanslag op ons word al groter en veller!