Bejaarde egpaar in Windsorton aangeval

Windsorton in die Noord-Kaap. Foto: Google Street View

Windsorton in die Noord-Kaap. Foto: Google Street View

ʼn Bejaarde egpaar is vroeg Saterdagoggend in hul huis in Windsorton in die Noord-Kaap wreed aangerand en beroof.

ʼn Familielid het aan Maroela Media gesê die 77-jarige man en sy 61-jarige vrou is omstreeks 03:00 Saterdagoggend deur drie mans in hul slaapkamer oorval. Die mans het die slaapkamervenster se knip met ʼn braaitang opgelig en die diefwering uitgebreek.

Volgens die familielid het die mans ʼn das in die vrou se mond gedruk en nog ʼn das om haar mond vasgebind. Hulle het die egpaar vasgebind en die man, wie se been geamputeer is, aangerand.

Die vrou het geskree waarna die mans haar herhaaldelik met ʼn koevoet oor haar kop geslaan het. Die vrou het verskeie oop wonde aan haar kop opgedoen. Sy het voorgegee sy is dood nadat sy gehoor het hoe die mans sê hulle wil kookwater in die kombuis gaan haal om die egpaar mee te brand.

Volgens die familielid kon die mans nie na die kombuis gaan nie aangesien daar ʼn veiligheidshek tussen die kamer en die kombuis is. Daar is vyf veiligheidshekke in die huis. Die mans het met duur juweliersware, kontant, ʼn vuurwapen en ʼn selfoon gevlug. Die man en vrou kon daarin slaag om na die studeerkamer langs die slaapkamer te gaan en hulself te bevry waarna hulle hulp ontbied het.

Die vrou is in die hospitaal opgeneem met wonde aan haar kop. Haar een long is erg beskadig tydens die aanval. Volgens die familielid is die vrou se tong blou en erg geswel. Dokters het reeds bevind die vrou het nie bloeding op die brein opgedoen nie maar sal Maandag ʼn skandering doen om vas te stel of haar brein geswel is. Die man is nie in die hospitaal opgeneem nie.

Die egpaar se hond is vergiftig maar het oorleef. Lt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het navrae na Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, verwys. Ramaloko was egter nie onmiddellik beskikbaar om kommentaar te lewer nie.

Die slagoffers se name word weerhou op versoek van die familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Jy weet jy weet die moord lustige gemors daar is nie meer n beter naam vir hulle nie

Rieks ·

5 Veiligheids hekke en nog steeds is ons oueres van dae nie veilig in hulle eie tronke nie! Ons probeer hulle op alle maniere uithou maar heelaas… Ons veg ‘n verlore stryd! Hoop die 2 mense gaan nie skade oorhou van hierdie aanval nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.