Bejaarde egpaar, kleinseun op plaas aangeval

misdaadtoneel

Argieffoto

Die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na twee mans wat na bewering ʼn bejaarde egpaar en hul kleinseun Sondag op ʼn plaas in die Wakkerstroom-omgewing naby Piet Retief aangeval het.

Kol. Mtsholi Bhembe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 19:00 plaasgevind.

Bhembe het gesê die slagoffers het glo televisie gekyk toe twee gewapende mans met klapmusse aan die vertrek binnegestorm het.

“Hulle het al drie slagoffers met kabelbinders vasgebind en geld en vuurwapens geëis voordat hulle die huis geplunder het en ʼn onbekende hoeveelheid kontant, juweliersware en 11 vuurwapens gebuit het. Hulle het van die plaas gevlug in ʼn Toyota Fortuner wat aan die gesin behoort,” het Bhembe gesê.

Die kleinseun kon volgens Bhembe daarin slaag om homself los te wikkel en alarm te maak. Die bure het die polisie ontbied.

Die Fortuner is later verlate by Driefontein naby Piet Retief aangetref.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie by te staan in die soektog na die oortreders.

“Vuurwapens word gebruik tydens transitorooftogte, rooftogte en ander misdrywe,” het Zuma gesê. “Mense word daarmee beseer en selfs vermoor en daarom is dit van uiterste belang dat dié twee gevang word en die wapens teruggevind word.”

Enigiemand met inligting oor die voorval kan ao. Gerrie van Deventer by 082 579 0493 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Remona Swanepoel ·

11 vuurwapens!!! En dit teen 2 boosdoeners. Nee wat mense. Dit help nie om vuurwapens te besit en die goed is alles in die kluis terwyl julle sit en tv kyk. Steeds net verlig niemand is beseer nie.

Ai nee ·

Ja kyk as jy 11 vuurwapens besit en jy kon jou nie teen 2 boosdoeners/aanvallers verset nie verdien jy nie die vuurwapens nie, net jammer dit is nou in die verkeerde hande. Jammer oor die aanval, ek hoop almal herstel gou . maar daai vuurwapens is nou in die kriminele se hande waarmee hulle nog meer moorde gaan pleeg. Vuurwapen aan jou sy of niks. Weer ‘n oop deur waardeur die makkers ingestorm het . die ‘boere’ luister ook nie.

PJC ·

Ek verstaan nie so mooi hoe kry inbrekers dit reg om net sommer in jou huis in te storm nie. Waars die deure veiligheidshekke en diefwering dan?

Joe ·

Ek stem, waars die honde, elektriese heining ens, anders hoort jy nie op ‘n plaas. Ongelukkig feit deesdae.

HPV ·

Ja, hou so paar byderhand dan kan die bordjies nogal verhang word. Elf vuurwapens en niks byderhand?!

anton ·

Jammer maar wat maak bejaarde mense met 11 wapens?
Verkoop 9 van dit aan onse mense wat nie een het nie en hou 1 vir elkeen van julle. En ook byderhand asb.
Nou sit misdadigers met al 11 en gaan dit moontelik die dood veroorsaak van ander blankes!!!

jakes ·

Jammer vir die slagoffers en bly dat hulle lewend daaruit kon kom. Tog moet daar gevra word hoekom hulle nie paraat was en die nodige maatreels kon tref wat dit moeilik sou maak vir inbrekers om hulle aan te val en goedsmoeds hulle huis te betree nie? Dis n feit dat baie plaasaanvalle verhoed kon gewees het as veiligheidsmaatreels in plek was.

John ·

Wel, ons sien ook wat gebeur as ‘n boer wel sy wapens durf gebruik. Jy, ipv die betreders word deur die polisie gestraf en geen haan sal weer daarna kraai nie… (of hen… ok in hegtenis geneem en geslag weens aandadigheid). Die oorlog het reeds begin maar ons bly glo daar heers vrede. Dis die styl van sluwe bevrydingsgroepe en so het ons land se grensmure geval… sonder een skoot deur die onderhandelaars…. net koffie en beskuit en handjies was na’ die handevat. Dis oorlog! Vrede lyk nie so nie!

Maggie ·

Jy is 100% korrek, Johan. Ons praat gisteraand met ons buurman hieroor.. Hy sê reguit, hy dink nie hieraan nie, want hy glo nie dit gaan gebeur nie… Die mense moet waaragtig wakker skrik. Die ANC en EFF het heelwat oorlogs voering opleidings kampe (guerrilla warfare) regoor SA, Zimbabwe en elders in Afrika.. Hulle is besig om hulself elke dag op te lei, terwyl ons voor die TV sit en vrot. Nee wat, te veel van ons mense doen nog die volstruis-ding.. en gaan heeltemal te laat wakker skrik. Ek praat nie eens van die klomp liberale tussen ons nie.. Die antwoord wat ons gereeld kry is “vertrou net op die Here”. Korrek ja, vertrou, maar die Here het ook gesê, trek jou swaard en verdedig jouself. Onse Vader gaan nie al die werk doen, terwyl jy op jou alie sit nie.. (ek praat nie noodwendig van ons Oues van jare wat in die donker nag oorrompel word nie)

Amelita ·

Ons self bejaard en bly op n plaas. 5 uur word hekke gesluit, groot honde word oopgemaak, kleinhonde word in huis gebring. Deure word gesluit as ons tv kyk. As ons gaan slaap word alarm stelsel aan gesit. Ek glo dat mens moet kyk na jou veiligheid en sorg vir dit. Ons is nie paranoise oor ons veiligheid maar net bedag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.