Bejaarde egpaar op kleinhoewe oorval

Argieffoto: SAPD, Facebook

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ʼn bejaarde egpaar Dinsdagaand op ʼn kleinhoewe in die Colleen Glen-gebied buite Port Elizabeth oorval en vasgebind is nie.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 19:30 op die kleinhoewe in Amanziweg gebeur.

Volgens Janse van Rensburg het die egpaar se hond binne die huis by die deur van die huis gesnuffel. Die 79-jarige man het opgestaan om ondersoek in te stel en die deur oopgemaak. Die volgende oomblik het twee aanvallers die deur oopgedwing en die man in die huis in gestamp.

“Die man se 74-jarige vrou het probeer om die paniekknoppie te druk, maar die aanvallers het haar gekeer. Die man en vrou is daarna altwee vasgemaak.”

Die aanvallers het die huis geplunder en toegang tot die kluise in die huis verkry. Hulle het met twee vuurwapens, juweliersware en kontant gevlug. Die man kon later daarin slaag om los te kom en hulp te ontbied.

Volgens Janse van Rensburg is die egpaar ongedeerd.

Sy het gesê die polisie besig om alle moontlike leidrade op te volg, maar geen verdagtes is nog vasgetrek of ingeneem vir ondervraging nie. Enigiemand met meer inligting word versoek om die Kabega Park-polisie by 041 397 6800 of Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hangman ·

Vuurwapens in kluise beteken niks…leer ons niks nie mense? Ek gaan badkamer toe met myne…rather have it and not need it, than need it and not have it.

JS ·

Ek stem, myne gaan selfs saam al is dit net om die drom uit te vat. Ek is bly die egpaar het nie seer gekry nie.

Koos B ·

Drie berigte twee van geweldadige optrede teen weerlose witmense (hoop ek mag dit so noem)As die hopelose onosele regering nie kan sien en hoor iets is fout nie weet ek darem nie.Verskoon tog ek het vergeet hulle sien en hoor net wat hulle wil.

Alida ·

Hou tog op om altyd so SLIM te wees. Hierdie was twee ou mense vergewe hulle. Hou net op met nuttelose kommentare.

Hendrik ·

Raad aan alle mense. Moenie die deur oopmaak nie. Jy is in ‘n veilige area. Hou jou wapen gereed. Kontak jou veiligheidsnetwerk om te kom help. Bly asb in die huis!

Alida ·

Leser ek stem saam. Mens raak dik vir die raadgewers! Ons weet almal wat om te doen maar hierdie was twee ou mense wat die reg het om onverstoord op hulle eie grond te bly. Die SAPD kan net meer sigbaar wees en bietjie rondry tussen die kleinhoewes en gedurig die weerlose ou mense raad gee oor hoe om hulself te beveilig. Moenie die ou mense aanval omdat hulle niksvermoedend die deur oopgemaak het nie. Miskien het hulle vriende of kinders verwag wie weet.

Hendrik ·

Ek dink nie julle verstaan reg nie. Die raad aan enige mense is om in die huis te bly en dat hulp van byuite kom. Dir geld vir alle mense oud en jonk. Alida die SAPD op die peri-urban areas moet reuse areas dek en ry elke aand van misdaadtoneel na misdaadtoneel. Dit is duidelik julle besef nie hoe hoog die misdaad is nie. Die mense op die hoewes moet hul sekerheid opskerp soos die mense in die dorpe en stede. Vra my ons bly op ‘n hoewe.. Ons se vir almal om binne te bly en hulp van buite te laat kom. Dit is die reels en ek hoop julle verstaan nou beter. Ons veiligheidstrukture patroleer en die mense moet in hul huise bly vir veiligheid en om hulp vra. Open den ore asb!

Oom Kalahari ·

Bejaardes het ook werklik beskerming nodig en is ‘n groot teiken weens die verlede. Van hul het heelwat kennis oor geskiedkundige agtergrond, militere opleiding, strategiese denke en beplannings faktore, onbeperkte boerdery kennis ens. Kyk asb na die oumense in jul omgewing of as bure asook deur kinders. Hoop van harte die twee oumense kan hierdie trauma verwerk en herstel spoedig. Sterkte vorentoe.

tamboti ·

Mense is te bang om hul wapens gereed te hou en te gebruik juis a.g.v. die land se wette. Dit behoort aanvaarde en standaard praktyk te wees dat niemand sonder goeie rede jou in jou huis benader nie, en dat jy as huisbewoner die reg het om op sig of sommer deur die deur na jou te skiet indien die reel oortree!
Misdadigers moet aan die korste ent trek, nie onskuldiges nie.

HP ·

En daar is nog plekke op hierdie aarde waar mense nie eers hul huis se deure sluit nie. Nie eers die voertuig afskakel as hul parkeer en pos gaan uithaal nie. Die vensters van die voertuig ooplos by die kerk. Diefweering en alarms bestaan nie.
Tjeks word nog gebruik sommer deur die pos!

Gaan doen bietjie kontrak werk in die VSA en beleef dit.

Ja sekerlik is daar ook misdaad in die stede, Maar daar word wet (ek noem dit eerste) en orde (ek noem dit tweede) gehandhaaf op die platteland. Dorpe sonder polisiestasies!

Werklik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.