Bejaarde egpaar op Senekal-plaas aangeval en beroof

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

“Ons is ongelooflik dankbaar dat hulle leef!” Dit is die reaksie van Zelda Stemmett, skoondogter van Dries (69) en Fransie (70) Stemmett, ná die egpaar Woensdagaand in hul slaapkamer deur vier verdagtes oorval en beroof is.

Vrystaat Landbou het Donderdag in ʼn verklaring gesê die voorval het vermoedelik tussen 22:30 en 23:00 plaasgevind. Dries het reeds geslaap en Fransie was besig om te werk toe ’n groot klip deur hul kamervenster gegooi is.

Fransie het na haar wapen gegryp, maar die aanvallers het haar van agter gegryp en haar aangesê om nie enigiets “dom” te doen nie.

Die mans het Afrikaans gepraat en aangedui dat hulle nie daar was om die egpaar te vermoor of om haar te verkrag nie, maar slegs wapens en kontant wou hê.

Dries het wakker geword van Fransie se gille en is met ʼn groot klip oor die kop geslaan toe hy haar wou help. Sy hande is vasgebind en hy is na ʼn ander slaapkamer gesleep waar die aanvallers hom gelos het.

Die verdagtes het die kluis se sleutel opgespoor en ’n onbekende bedrag geld, ses wapens en selfone gesteel.

Die aanvallers is vermoedelik met ’n voertuig langs die N5, wat naby die plaas verby loop, afgelaai. Hulle het vermoedelik te voet op die plaas aangekom en het weer te voet na die voertuig gevlug.

Ná die aanvallers weg is, is die plaaslike veiligheidsstruktuur geaktiveer en die polisie is in kennis gestel.

Verteenwoordigers van die veiligheidsstruktuur het hul opregte dank uitgespreek teenoor die polisie wat baie flink en professioneel opgetree het.

Die aanvallers is nog soek, maar leidrade word tans opgevolg. Een van die gesteelde wapens is reeds in ʼn veld opgespoor.

Vrystaat Landbou het gesê hy sal sy grondstrukture bystaan soos versoek, wat onder meer trauma berading vir slagoffers en die gemeenskap insluit. “Die sukses wat die flinke optrede van die plaaslike veiligheidsstruktuur hier teweeg gebring het, is ʼn duidelike aanduiding dat gemeenskapveiligheidsstrukture onontbeerlik is in die stryd teen landelike misdaad. Ons vertrou dat die aanvallers so gou moontlik aangekeer sal word,” het Vrystaat Landbou gesê.

Intussen het Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Wet en Orde komitee, gesê die organisasie is bekommerd oor die toename in voorvalle van geweld op plase wat in die provinsie waargeneem kan word. “Ons wil landbouers weereens aanmoedig om hul eie veiligheid op te skerp en sover moontlik nie kontant op plase of in hul huise te hou nie,” het hy gesê.

Vrystaat Landbou het vroeër vanjaar ’n lys van voorsorgmaatreëls vir veiligheid op plase saamgestel wat aan al sy lede gekommunikeer is in nuusbriewe en ook op sy webwerf beskikbaar is. “Evalueer jou bestaande veiligheidstelsels en bepaal of jy daaraan voldoen.”

Esterhuyse het ook die landbouers van die provinsie bedank vir hulle spoedige optrede die afgelope paar weke wanneer plaaswagte geaktiveer is in reaksie op voorvalle of om voorvalle te voorkom.

Vrystaat Landbou werk baie nou met die polisie saam om aan die hand van die Landelike Beveiligings Strategie misdaad te probeer bekamp in die provinsie, deur byvoorbeeld gereelde deelname aan wit/bloulig aksies asook plaaswag patrollies.

In Maart en April bied die polisie in samewerking met die organisasie werksessies regoor die provinsie aan om landbouers in te lig oor hoe om betreding op plase, besettings, noodweer asook siviele arrestasies te hanteer. Die sessies bemagtig landbouers om hul paraatheid op te skerp en dit sal voortdurend onderneem word. Pro-aktiewe optrede soos dié is ook ’n boodskap aan kriminele dat landelike gemeenskappe nie misdaad duld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jakes ·

Sterkte en meegevoel met familie- koester en waak slagoffers. Met korrupte/ geskorste direkteure en bevelvoerders Valke en Vervolgingsgesag sal die ondersoek sneuwel, GEEN kundigheid.l- net nog witmens aangeval. Kom mense, bush courts, staan saam. Saam kan die euwel uitgeroei word.

H Swanepoel ·

Hierdie Boer en sy seun het jare gelede met die gereg gebots weens ernstige aanranding van ‘n swartman wat agterna beswyk het. Hulle bly ‘n klipgooi van die N5 wat ‘n vinnige ontsnappingsroete bied. Moontlike wraak- en geleentheidsmoetiewe bestaan dus. Bejaarde sitting ducks in ‘n wettelose land soos die.

Peet Schabort ·

Hoort die voorsorgs- en veiligheidsmaatreëls op die webwerf waar die misdadiger ook insae het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.