Bejaarde egpaar sterf in botsing

Die voertuig se wrak. Foto: Verskaf

ʼn Bejaarde man en sy vrou is dood en drie mense is beseer toe ʼn vragmotor en ʼn voertuig Sondagaand buite George in die Wes-Kaap gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het op die R404 plaasgevind.

“By paramedici se aankoms op die toneel is die vragmotor en die voertuig se wrak aan die kant van die pad aangetref. By nadere ondersoek is die liggame van ʼn bejaarde egpaar voor in die voertuig aangetref. Hulle is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

Volgens Meiring is nóg ʼn bejaarde egpaar en ʼn sewejarige meisie ook in die voertuig se wrak aangetref. “Hulle het ernstige tot kritieke beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en deur Metro Services na die Mediclinic George geneem vir verdere behandeling.”

Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd.

Die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word deur plaaslike owerhede ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Annelize Smit ·

My woorde is min en my trane baie!! Gaan julle so mis. Julle het vir ons so baie gedoen en beteken. Tot ons weer ontmoet!!

Thersia ·

Ai julle. Kyk dan waar staan die trok. Dit lyk vir my of hy heeltemal in die aankomende verkeer se baan is. Indien dit die geval is weet ek nie eers hoekom “ondersoek” hulle nog die voorval nie… Hierdie tipe “ongelukke” is nie ongelukke nie, dit is MOORD…

PJC ·

Ons paaie is heeltemal oorlaai met hierdie trokke. Tel maar net die aantal trokke op die pad en vergelyk dit met die aantal motors en kyk ook hoe hierdie vragmotorbestuurders hulle gedra op die pad.

Heleen ·

Indien die spoorwegstelsel behoorlik funksioneer soos vroeër jare sal daar minder trokke op die paaie wees. Trokbestuurders ry soos hulle wil nes taxies

Kandas ·

“Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd.” Dit is die algemene tendens wat oor en oor herhaal word in ongelukke waar vragmotors betrokke is, terwyl passasiers in die ander voertuie dan kritiek of noodlottig beseer is. Vragmotors het moordvoertuie geword in Suid-Afrika.

Wouter ·

Ons het Des van Kaapstad af Bloem toe gery. 14 Des. Veronderstel om n stil tyd op die paaie te wees. Ek het omtrent 10 trokke elke km getel x 1000 km. Dit is 10000 trokke per dag. Die regering sal dit nie verminder nie want dit is n groot bron van inkomste aan belasting, brandstof heffings, lisensie gelde en tolgelde.

Esther ·

My seun in soortgelyke ongeluk. Het oorleef want sy reaksies vinnig,maar been geamputeer. Die ander ou het onskuldig gepleit ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.