Bejaarde egpaar wreed aangeval

Argieffoto

ʼn Bejaarde egpaar is Donderdagoggend wreed in hul huis buite Grootvlei in Mpumalanga aangeval.

Volgens Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het die voorval op ʼn plaas plaasgevind.

Sers. Gerald Sedibe, provinsiale woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig, maar kon nie onmiddellik sê of dit wel op ʼn plaas gebeur het nie.

Volgens hom het die voorval omstreeks 11:30 plaasgevind.

“Die man (76) is buite die huis aangeval, vasgebind en in die stoorkamer toegemaak. Ons glo hy is met ʼn moersleutel aangerand. Die aanvallers het toe in die huis inbeweeg en die vrou (80) ook aangerand en vasgebind met kabelbinders,” het Sedibe gesê.

Die egpaar se kleinseun het later op twee afgekom.

Volgens Sedibe is daar ʼn onbekende hoeveelheid kontant en ʼn handsak in die voorval gesteel.

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en roof.

Sedibe het ook gesê dat die polisie warm op die spoor van die aanvallers is en dat hulle positiewe leidrade opvolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Drikus Kotze ·

Hipotetiese geval: As ek wil inbreek by ‘n plek, waarom martel ek “per ongeluk / op die koop toe”, ‘n 76 jarige man met ‘n moersleutel en sy bejaarde vrou van 80? Dit kan niks anders wees as rasse haat.

Raad ·

Hierdie tipe van ding is bykans alledaags. Loop met jou vuurwapen en slaap met jou vuurwapen. Maak asof jy in die SAW is. Daardie jare het jy saam met jou wapen geslaap. Dit was nommer een en jou meisie nommer twee.
Sterkte aan die betrokkenes.

Casper Labuschagne ·

In my twee jaar diensplig as infanteris plus etlike kampe wat die operasionele gebied asook operasies in Angola ingesluit het, was ek aansienlik veiliger as wat die gewone landsburger vandag binne SA is. Nou is jou vuurwapen en jou vermoë om dit effektief te kan gebruik dalk al wat staan tussen jou en ‘n wrede dood tydens ‘n rooftog.

MK ·

Dit WAS op ‘n plaas, Mnr. Provinsiale Woordvoerder, en dit was BAIE wreed.

Pikkewyn ·

Ek verstaan iets nie mooi in die berig nie of eintlik wat die woordvoerder se nie.Die woorvoerder van die polisie weet hoe laat die aanval was en waar presies die arme 2 ou mense onderskeidelik aangerand is MAAR hy kan nie bevestig of dit op ‘n plaas is nie ?
MM het die kleinseun op 2 van die aanvallers afgekom of op die 2 oumensies?Julle se net die kleinseun het op 2 afgekom.

Anne Stander ·

Ek gaan seker gekruisig word, maar hoe kan sulke bejaarde mense in vandag se wrede SA nog alleen op plase bly?

Cherokee ·

Anne, een van die redes sal jy verstaan as jy finansiële kennis het. Dan sal jy jouself kan indink indien hulle sê maar 10 jaar of 15 jaar gelede afgetree het met ‘n pensioen wat dalk al toe net genoeg was, wat inflasie aan hul pensioen sou doen tot nou toe. Daar kan meer, miskien heel ander redes wees maar dit kan dalk net wees dat hulle nie kan bekostig om te woon waar jy sou voorstel hulle moet woon nie. Jou vraag het substansie maar toevallig die antwoord ook. Dink aan môre mense, sorg vir môre en vir volgende week. Hul redes vir plaas woon kan ook heel anders wees.

Alida ·

Mense het seker die reg om op hul geboortegrond te bly. Die kommandos moet weer begin om hierdie aanvallers vas te trek. Die SAPD kan nie oral wees nie.

Swart Piet ·

Nou wonder ek of hierdie saak ook so vreeslik gedryf sal word soos die doodskis saak?

PJC ·

Hierdie twee mense het alle reg om te wees waar hulle is maar die realiteit is dat dit uiters gevaarlik is. Hulle familie sal defnitief iets moet doen om hulle te beveilig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.