Bejaarde egpare kort ná mekaar op kleinhoewes aangeval

Die buurtwag is omstreeks 22:15 ontbied (Foto: Verskaf)

Twee bejaarde egpare is etlike ure ná mekaar op kleinhoewes in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria aangeval en beroof.

Petrus Nel, voorsitter van die Kameeldrift-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê hulle het Woensdag omstreeks 22:15 ’n noodroep ontvang. Hy vermoed die aanval het reeds 21:00 se kant plaasgevind.

“Die egpaar het nog in die huis gewerskaf toe twee gewapende mans die huis betree het. Die oom het hulle probeer teensit en ’n struweling het glo uitgebreek. Die mans het hom met ’n vuurwapen oor die kop geslaan en hy het oënskynlik sy bewussyn vir ’n paar sekondes verloor,” vertel Nel.

Die aanvallers het sy vrou daarna oorval. “Hulle het die tannie geskop en geslaan.”

Volgens Llewellyn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noordstreek, het die mans twee selfone, ’n kluis met vuurwapens en ander items in die huis gebuit. Hulle het met twee voertuie van die egpaar gevlug.

Die voertuie is later in Nelmapiusweg en in die Mamelodi-nedersetting teruggevind.

Met die buurtwag se aankoms by die egpaar se huis was die verdagtes reeds weg.

Die bejaardes wat Woensdagaand aangeval is se slaapkamer is geplunder (Foto: Verskaf)

“Ons het dadelik die paaie afgesper en ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur,” vertel Nel.

“Die egpaar het beserings opgedoen en is na ’n hospitaal in Pretoria geneem om behandeling vir hul wonde te kry.”

Nóg ’n bejaarde egpaar is Donderdag omstreeks 06:30 op ’n kleinhoewe in Bosveldpark in Kameeldrift-Oos deur ’n groep mans oorval.

Die man het die oggend buite die huis gaan koffie drink, soos hy oudergewoonte soggens doen.

“Hy is deur ’n groep gewapende mans oorval en in die huis in gevat. Die tannie was binne die huis en hulle het haar ook oorrompel. Hulle het gedreig dat hulle haar leed gaan aandoen.”

Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, sê hulle vermoed dat daar vyf mans by dié aanval betrokke was.

“Hulle het die man en vrou met kabels in die huis vasgebind en hulle beroof. Hulle het hul selfone, ’n televisiestel, twee vuurwapens en ’n skootrekenaar gesteel en in die egpaar se voertuig gevlug.”

Volgens Hemmens is die vuurwapens al teruggevind, maar nog nie die voertuig nie. Nel het gesê niemand is nog in verband met enige van die twee voorvalle vasgetrek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

netek ·

Gaan John Steenhuizen nou sy voet neersit en iets daadwerklik begin doen, of is hy ook meer bek as binnegoed. As hy my stem volgende jaar wil hê soek ons aksie nie net praatjies nie

Androclus ·

Ek kan nie sien dat John Steenhuizen “iets” kan doen nie.Moet die DA wagte aanstel op elke plaas of kleinhoewe? Nee, hy kan nie.Solank die Regering nie optree nie en daaglikse haatspraak teen blankes voortduur,gaan niks verander nie

Riaana ·

Hy is ook meer bek as binnegoed verseker jou, nes die res sit goeie voetjie voor tot hle bereik wat hul wou daarna is dit follow the leader

Raadslid ·

John Steenhuisen is ‘n liberalis en sal nie ‘n vinger verroer oor die tipe aanvalle nie.

Persheks Adri ·

Nog aanvalle! Bedank die lieflike ANC vir die gemors saam hulle rooi petters met KILL THE BOER! Iemand moet iets drasties doen. Nou wil daar MEER mag aan hoed gegee word pffft asb tog hy kan nie eers iets doen omtrent plaasmoorde/aanvalle nie!

Dup ·

Ek kan nie sien dat John Steenhuizen “iets” kan doen nie.Moet die DA wagte aanstel op elke plaas of kleinhoewe? Nee, hy kan nie.Solank die Regering nie optree nie en daaglikse haatspraak teen blankes voortduur,gaan niks verander nie.

Raadslid ·

Liberale organisasies steur hulle nie aan die tipe aanvalle nie, behalwe ‘n paar woorde voor ‘n verkiesing, hulle hoofdoel is die wêreldorde en klaar.

JohanR ·

Ek soek dat John Steenhuizen iemand, of ietsie moet klap. As ek van klap praat bedoel ek figuurlik. Praat is verby leier van die DA…..is nou tyd vir aksie. Wees die opposisie, en begin die ANC en EFF aanvat soos Churchill gese het – “we shall fight on the beaches, we shall fight on the landing grounds, we shall fight in the fields and in the streets, we shall fight in the hills; we shall never surrender.” “Then our Empire beyond the seas, armed and guarded by the British Fleet, would carry on the struggle, until, in God’s good time, the New World, with all its power and might, steps forth to the rescue and the liberation of the old.”

Genis ·

Mens moet jou om elke hoek en draai beveilig..jou huis bekruip, jou kamer bekruip.. Genugtig genoeg is genoeg… Ou CR hoe lank gaan JM jou vuilwerk doen?

LANA is ELANè ·

Ons sal maar sien of hierdie booswigte vasgetrek gaan word. Dit is vreeslik dat mens nie eens in rus en vrede in jou eie woning kan leef nie ~ so eie aan Afrika, nêrens is jy veilig nie, daar moet gedurig oor jou eie skouer gekyk word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.