Bejaarde glo in staatshospitaal aangerand

Die wond aan Anna-Marie Buys se nek. (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Die inhoud in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

’n Familie van Johannesburg is boos nadat ’n medepasiënt na bewering hul bejaarde ma in die Helen Joseph-staatshospitaal in die stad aangeval het. Dié pasiënt is glo dae later nog in dieselfde saal as hul ma behandel.

Debbie Buys het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar skoonma, Anna-Marie Buys, is Saterdag omstreeks 01:45 deur ’n medepasiënt met ’n plastiekmes aangeval.

Anna-Marie is in haar laat 70’s en vroeër vanjaar met brein- en longkanker gediagnoseer. Sy het ook ’n beroerte gehad en is aan die linkerkant van haar liggaam verlam gelaat.

Volgens Debbie het haar skoonpa Saterdag by sy vrou in die hospitaal gaan kuier toe hy ’n stuk gaas aan haar nek opgemerk het.

Haar skoonpa het eers nie veel daarvan gedink nie totdat die gaas later losgekom het en hy die wond aan Anna-Marie se nek gesien het. Hy het dadelik vir Debbie en haar man ingelig wat hulle toe na die hospitaal gehaas het.

Debbie vertel daar is aanvanklik aan hulle gesê dat ’n medepasiënt vir Anna-Marie wou bid en dat sy in die proses beseer is.

’n Ander pasiënt, wat in dieselfde saal as Anna-Marie en die beskuldigde behandel word, het egter vertel sy het gesien hoe een van die ander pasiënte in die saal op Anna-Marie se bors sit, met die hand Anna-Marie se mond toehou en met die ander aan haar nek met ’n plastiekmes sny.

Anna-Marie het ook later self die gebeure bevestig. “My skoonma se presiese woorde was: ‘’n Vrou het bo-op my gesit en wou my doodmaak’,” vertel Debbie.

Kneusplekke aan Anna-Marie Buys se nek. (Foto: Verskaf)

Die Buys-familie is ontstoke omdat die hospitaalpersoneel glo nooit met hulle kontak gemaak het ná die voorval plaasgevind het nie. Die beskuldigde is ook nie onmiddellik uit die saal verwyder nie, maar twee dae ná die voorval nog in dieselfde saal as Anna-Marie behandel. Die hospitaal voer aan dat hulle herhaalde pogings aangewend het om met die familie kontak te maak.

“My skoonma is baie getraumatiseer en verbouereerd. Ek kan vir niemand sê waardeur ons sedert Saterdag is nie.”

Die familie kon daarin slaag om Dinsdag ’n vergadering met die uitvoerende hoof van die hospitaal te belê. Hulle kan nie ’n saak by die polisie aanhangig maak nie, aangesien hulle nie die besonderhede het van die pasiënt wat hul ma glo aangerand het nie, verduidelik Debbie.

Sy verduidelik dat hulle gedurende die vergadering ooreengekom het dat die hospitaal ’n saak by die polisie aanhangig sal maak en die saaknommer aan die familie verskaf. “Die saaknommer is teen vanoggend (Woensdag) nog nie ontvang nie,” sê Debbie.

“’n Hospitaal behoort ’n plek van veiligheid te wees. My ma se keel is met ’n stomp mes gesny. Daar word gesê dat ons almal dieselfde basiese mediese sorg moet hê, maar hoe is dit moontlik as dít in staatshospitale gebeur?”

Debbie verduidelik dat die familie nie in dié stadium in staat is om Anna-Marie na ’n privaat hospitaal te laat oorplaas nie. “Ons kan haar weens haar toestand nie huis toe neem nie. Ons wil nou 24 uur lange toegang tot haar hê. My skoonma kan nie vir haarself praat nie.”

Philani Mhlungu, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Ons kan bevestig dat die voorval Saterdag omstreeks 01:45 plaasgevind het. Die bewerings oor die hantering van die saak word egter bestempel as ongegrond en word tans verder ondersoek. Die hospitaal kan ook bevestig dat albei pasiënte in ’n stabiele toestand is,” het Mhlungu gesê.

“Die hospitaal prioritiseer die veiligheid van pasiënte by opname en risiko-assessering word daagliks van alle pasiënte gedoen. Ongelukkig kon die hospitaal nie die voorval voorsien nie, aangesien die pasiënt kalm was en geen tekens van aggressie getoon het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johanna Botha

N SIEK LAND !

SeMaarNet

My raad aan die familie is maak wel ‘n saak by die polisie. Sodat dit wel verder ondersoek word. Die hospitaal sal dit nie doen nie, maar as julle die saak oopmaak, sal die hospitaal wel genader moet word en die inligting verkry word. En daai pasient sou ek persoonlik self verwyder het as dit my moeder was. Hulle sou my nie uit die saal kon hou nie.

Elsa

Vader, behoed en bewaar ons

Karin

Hoekom probeer hulle nie vir Ouma ‘n plek in ‘n Hospice kry nie? Geen mens verdien om deur sulke trauma te gaan nie!

Naomi Berger

Dis regtig verskriklik. Weet almal gaan verpleegstaf verantwoordelik hou.
Hulle is egter net so blootgestel.
Psigiatrise pasiente hoort nie in alg hospitale nie en moet in psigiatriese hospitale opgeneem word.
Dis die plig van die staat om pasiente en staf veilig te hou.
Hier kom nog ‘n saak teen die fie staat …. en met groot reg.