Bejaarde gooi beweerde boef met pot

Argieffoto (Foto: Nasir Akhtar/Pixabay)

’n Gewapende man wat Woensdagmiddag by die huis van ’n 73-jarige vrou in Phoenix in KwaZulu-Natal ingebreek het, het met panga en al gevlug nadat sy hom met ’n pot gegooi het.

Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa), wat na die toneel ontbied is, was die vrou glo in haar slaapkamer toe die man skielik in haar deur verskyn en geld geëis het.

“Toe die vrou om hulp begin skree, het hy haar handsak gegryp en na die kombuis gestap waar hy na waardevolle items gesoek het.

“Die vrou het hom gevolg, ’n swaar pot gegryp en dit na die verdagte gegooi. Die man het toe ’n elektriese ketel gegryp en gevlug.”

Dit blyk dat die verdagte toegang tot die erf verkry het deur oor die heining te spring, kort nadat die vrou se negejarige kleindogter die perseel verlaat en die hek gesluit het.

Hy het glo ’n kombuisdeur oopgedwing om toegang tot die huis te verkry.

Die vrou se dogter het beamptes van Rusa kort na 14:20 ontbied.

Volgens Rusa het hulle oral na die verdagte gesoek, maar hy kon nêrens opgespoor word nie.

Die slagoffer het die verdagte as lank en skraal beskryf.

“Hy het ’n blou hemp en denim en ’n grys mussie aangehad. Die man het ook ’n blou rugsak by hom gehad,” sê Rusa.

Die vrou is nie tydens die voorval beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.