Bejaarde in huis op Villiersdorp vermoor

Casper en sy vrou Bessie (Foto: Verskaf)

“Sy goedgeaardheid het geen perke geken nie. Hy het gehelp waar hy kon, al sou dit sy eie lewe kos.”

Só vertel Casper Steenkamp nadat sy pa en naamgenoot Saterdag tragies dood is toe hy in sy buurman se huis op Villiersdorp in die Wes-Kaap deur inbrekers oorval en doodgesteek is.

Die 87-jarige Steenkamp het die aand omstreeks 19:45 geluide in sy buurman se huis in Mullerstraat gehoor en gaan ondersoek instel. Dit is tóé dat hy die inbrekers daar betrap het.

Die buurman werk in die Kaap en Steenkamp het ʼn oog oor sy huis gehou.

AD Roux, ʼn goeie vriend van Steenkamp, het gesê een van die versorgers wat na Steenkamp se vrou omsien, het hom uiters ontsteld gebel om te sê dat hulle sy liggaam ná ʼn lang soektog op die buurman se agterstoep gekry het.

Steenkamp se vrou, Bessie Steenkamp (86), ly aan demensie.

“Casper het die twee versorgers die middag afgegee, maar gesê hulle moet voor donker terug wees. Toe hulle na Casper se huis teruggekeer het, het hulle hom nie met ’n oog gesien nie. Hulle het toe na hom begin soek en hom later op die buurman se stoep sien lê,” vertel Roux.

Die polisie is dadelik na die huis ontbied.

Mihlali Majikela, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê nadat die polisie ondersoek ingestel het, is gevind dat Steenkamp doodgesteek is. ’n Saak van moord is aanhangig gemaak.

Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Die buurman het ook bevestig dat daar goed uit sy huis gesteel is.

“Ek was etlike ure voor die voorval by Casper. Ek het Saterdae by hom gaan kuier. Hy was soos ʼn pa vir my. Hy het sy medemens bo homself geplaas en was die goedhartigste mens wat ek ken,” vertel Roux.

Steenkamp jr. het gesê sy pa was jare lank ʼn onderwyser en het sy lewe aan sy leerders gewy.

Hy het jare gelede ook sy doktersgraad in onderwys behaal.

“Hy was baie lief vir mense en het as onderwyser kinders se lewe verander. My pa was ’n ongelooflike onselfsugtige mens. Hy het beloof om na my ma om te sien tot aan die einde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jorrie ·

Die storie klop nie. Die versorgers het 18h00 teruggekom en na hom gesoek, maar hy het 19h45 eers gaan ondersoek instel. Indien dit die vorige aand was kon hy nie die versorgers die middag afgee nie?

Megan Swart ·

Dagsê Jorrie
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Johan Venter ·

Cyril; maar dis nou die virus wat ons eers moet beveg, die verkeerde verwagting op die verkeerde tyd, moet nie my aandag aflei nie.
Sinies; maar waarom nie al jaaare gelede na die mense se veiligheid omsien nie?
Cyril: vra apartheid en vir Zums.

Misky ·

Ek is nou meer oortuig as ooit…… dis oorlog teen die blankes en ou mense

Magda ·

Goeie hemel – Ramapohosa – NOG n moord wat voor julle deur gele word – wees 100% verseker – GOD SLAAP NIE.

Stofdonkie ·

Dit is duidelik dat die mortaliteit van misdaad baie hoër is as die mortaliteit van covid19. Hoe kan die polisie en weermag nie op gereedheid geplaas word om die kriminele te vang terwyl hulle nou besig is om die covid19-draers te vang nie. Kan dit wees dat hulle die moordenaars nie wil vang nie omdat hulle nie daarmee fout sien dat blankes vermoor word nie?

Agter die skerms..... ·

Almal is bekommerd oor die Covoid virus en mense word elke dag net vermoor asof dit normaal is. Nee man dit is regtiwaar nie meer nomaal nie. My innige meegevoel Casper se familie en vrou.

HOOP ·

Is dit “HAAT” wat dit doen , is dit werloosheid wat dit veroorsaak of is dit net hoe dit nou maar is en ons moet besef dat ons uitgemoor gaan word as die minderheid in SA en daar word begin met ons ou mense.Hartverskeurend .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.