ʼn Bejaarde vrou en ʼn negejarige seun is die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle in Limpopo glo deur krokodille doodgebyt.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die jongste voorval het Sondag omstreeks 12:30 by die Mutalerivier in die Mashishi-nedersetting in die Makuya-polisiëringgebied plaasgevind.
Die seun, Mulondo Ngarothe, het na bewering saam met ʼn groep seuns geswem toe krokodille hom gegryp het.
“Die res van die seuns het na die nedersetting gehardloop om die volwassenes in kennis te stel. Lede van die gemeenskap het dadelik na die rivier gegaan, die seun se liggaam in die water sien dryf en die polisie ontbied,” het Ngoepe gesê.
Dié voorval volg nadat Malatjie Mbengeni Sarah (76) van die Tshiulungoma-nedersetting se liggaam Vrydag in die Nandonidam gevind is.
“Haar liggaam het tussen krokodille gedryf. Die polisie moes klippe in die water gooi om die krokodille te verjaag voor haar liggaam uit die water gehaal kon word. Die krokodille het weefsel van albei haar hande, bene en haar maag gevreet.”
Die polisie doen twee geregtelike doodsondersoeke om die omstandighede rakende die voorvalle vas te stel.
Ngoepe het ʼn beroep op die publiek gedoen om riviere en damme te vermy waarin krokodille en seekoeie moontlik kan wees.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
7 Kommentare
Die berig maak nie sin nie. Hoekom sou krokodille mense net doodmaak. Hulle sou mos die liggaam opgeeet het. Of was dit slegte vleis volgens die diere??
Verstaan ook nie hoekom liggame nie verorber is. Maar ja, wat weet iemand uit die Wes Kaap van krokodille …….?
Die hond wat gevrek het kry meer kommintaar as die berig van die bejaarde en die kind, wat het geword dat n die se lewe meer geag word as die van n mens en meer emosie uirlok.
Sad sad day.
Dis baie vreemd en dat hulle net weefsel geeet het, ipv die hele arm verslind het.
JPC
Ek verstaan nie jou vraag nie. Verduidelik asseblief.