Bejaarde kritiek ná aanval op kleinhoewe

Die veiligheidsbeamptes van Hi-Tech-sekuriteit. Foto: Facebook via Derek Richardson.

ʼn Bejaarde man is Woensdag ernstig beseer toe verdagtes hom op ʼn kleinhoewe in die Grahamstad-omgewing aangerand het.

ʼn Vriend van die man wat ook op die kleinhoewe was, is nie aangerand nie, maar erg getraumatiseerd.

Derek Richardson, bestuurder van Hi-Tech-sekuriteit in Grahamstad wat eerste op die toneel was, het aan Maroela Media gesê vier verdagtes was die hele middag op die kleinhoewe in Belmont Valley.

“[Die verdagtes] het om 17:06 probeer om die alarmstelsel te vernietig, maar het in die proses die alarm geaktiveer. Dit is ʼn stil alarm wat net by ons kantore afgegaan het. Een van ons beamptes was binne drie minute op die toneel,” het Richardson gesê.

Die veiligheidsbeampte het volgens Richardson een van die slagoffers met sy hande en voete vasgebind buite die huis aangetref en onmiddellik hulp ontbied. Die man se kop was ook met ʼn plastieksak toegebind. Volgens hom was die man erg aangerand en in ʼn baie ernstige toestand. “Daar was baie bloed in die huis en die man het glad nie beweeg nie,” het Richardson gesê.

“Die ander veiligheidsbeamptes het binne vier minute opgedaag. In die huis het hulle die ander slagoffer, wat in ʼn rolstoel gekluister was en geen bedreiging [vir die verdagtes] was nie, ook met sy hande en voete vasgebind en met ʼn plastieksak oor sy kop aangetref saam met twee van die verdagtes,” het Richardson gesê.

Hy het gesê die verdagtes was uiters aggressief en daar het ʼn vuisgeveg uitgebreek waarby pepersproei betrokke was.

“My manne het die volste reg gehad om hulle dood te skiet, maar hulle het die hele situasie baie professioneel hanteer. Hulle kon daarin slaag om die verdagtes vas te trek.”

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het gesê twee verdagtes, onderskeidelik 18 en 26 jaar oud, is vasgetrek.

“Dit is in dié stadium nog nie duidelik wat alles gesteel is nie,” het Govender gesê. Volgens Govender is die man wat aangerand is glo in ʼn kritieke maar stabiele toestand in die hospitaal. Sy het gesê die twee slagoffers is tussen 70 en 75 jaar oud.

Volgens Richardson is ʼn derde verdagte in ʼn voertuig vasgetrek. “Dit is nie duidelik of dit ʼn gesteelde voertuig was nie.”

Govender kon ten tyde van publikasie nie die derde inhegtenisneming bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kaptein ·

Selfbeheersing in sulke omstandighede is ‘n teken van ‘n goeie wetstoepasser. Knap gedaan manne. Ek self leun baie sterk na die skiet oplossing -maar, die doelwit van ‘n wetstoepasser is om ‘n situasie te ontlont met die minste moontlike geweld.
Ek stem wel dat die verdagtes moet klippe kap vir 10 jaar of meer, sodat hulle kan leer dat hulle geweld niks gaan bereik nie.

willehond ·

Gaan hulle klippe kap vir tien jaar of tien dae? Dis als n grap. Skiet dood en kry klaar! Hulle het nie tee kom drink nie!!!!!!

PJC ·

As in aanmerking geneem word hoe hierdie tipe sake deesdae hanteer word dink ek dit sou baie beter gewees het as die sekuriteitsbeamptes eeder die skiet opsie gebruik het.

Chrisjan ·

Ons woon op ‘n plaas in een van 3 huise en my vrou is in ‘n rolstoel na ‘n ongeluk.Sou terroriste ons aanval gaan daar lyke wees!Ek gaan NIE in ‘n versoenende luim wees nie.Ek gaan ook NIE vrae vra nie en ek gaan GEEN waarsku skote skiet nie.
Sterkte vir die beseerde ooms.Mag hul herstel volkome en gou wees.

Elvira bothma ·

Regtig so kan dit nie aangaan nie. Genoeg is genoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.