Bejaarde man dood in ou begraafplaas aangetref

‘n Rewolwer wat op die toneel gevind is. Foto: Verskaf

ʼn Bejaarde man wat Vrydag vir die laaste keer lewend gesien is, se liggaam is in ʼn ou begraafplaas in Heidelberg, Gauteng, gevind.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, het Sondag aan Maroela Media gesê die 78-jarige man is Vrydagmiddag omstreeks 14:30 vir die laaste keer gesien toe hy sy huis, wat naby die begraafplaas in Rensburg geleë is, verlaat het en nie weer teruggekeer het nie.

“ʼn Familievriend het Saterdagmiddag ʼn man opgemerk wat teen die betonmuur van die begraafplaas sit. Hy het sy motor parkeer, nader gestap en gesien dit is die vermiste bejaarde,” het Tshilate gesê.

“Die man is met ʼn koeëlwond aan sy voorkop aangetref en ʼn rewolwer, wat vermoedelik sy eie is, het tussen sy bene gelê.”

Die omstandighede rakende die man se dood is onbekend en word ondersoek.

Die Heidelberg-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die man se naam sal na verwagting Maandag bekend gemaak word as al sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek wat enige inligting oor die voorval het, om die polisie by 016 341 0400 te kontak.

‘n Rewolwer en ammunisie wat op die toneel gevind is. Foto: Verskaf

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

leser ·

meegevoel met naasbestaandes
groot vraag : – die rewolwer se haan is terug getrek vir die volgende skoot, is dit “normaal”?
‘n pistool wat semi-outomaties is se haan sal in daardie posisie wees

Veritas ·

Leser, al wat ek kan dink is dat die doodskoot nie dadelik noodlottig was nie en dat, indien dit selfmoord was, die oom gereed gemaak het vir nog ‘n skoot en dat die dood ingetree het voordat hy die tweede kon aftrek.

JSG ·

100% korrek. Is vir my ook snaaks. Net ‘n pistool se haan sal terug staan nadat ‘n skoot afgevuur is. My simpatie aan sy familie, wat ook al die oorsaak was.

Rewolwer ·

Ek dink julle almal sit die pot mis. Die rewolwer is sekerlik deur die polisie veilig gemaak. Die patrone is uitgehaal en in sakkies geplaas en dit moet ook hulle wees wat die haan terug getrek het.

IK ·

Korrek, dit lyk soos ‘n ou rewolwer sonder veiligheidsmeganisme wat eers met die haan oorgehaal moet word, daarom is ook die sneller teruggetrek in die skietposisie. Die oom het dus reggemaak vir die tweede skoot.
Sterkte aan sy naasbestaandes met iets waarop ons nie durf kommentaar mag lewer.

Amper 21 jaar terug ·

Sterkte aan die familie! Amper 21 jaar terug is my pa se liggaam gevind… in `n begraafplaas… teen `n boom… waar hy homself geskiet het. My hart en gebede gaan uit na die familie!

Speedguard ·

Om alleen en oud te wees is nie speletjies nie, sterkte aan almal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.