Bejaarde man op Noordwes-hoewe vermoor

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Bejaarde man (70) is Vrydag tydens beurtkrag in die vroeë oggendure in sy huis op ʼn kleinhoewe by Schweizer-Reneke vermoor. Dit is glo die tweede plaasaanval in Noordwes dié week.

Volgens kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, het Arrie Smit en sy vrou, Riekie (71), omstreeks 03:15 geslaap toe twee verdagtes met klapmusse die huis binnegekom het.

“Die oorledene se vrou sê sy was gou in die badkamer toe sy ʼn flitslig in die gang naby die slaapkamer gesien het. Sy het dit geïgnoreer, maar het ʼn tweede flitslig sien skyn. Arrie was in die slaapkamer,” sê Tselanyane.

Riekie het gehoor hoe die deur teen ʼn muur stamp en het Arrie gewaarsku dat iemand in die huis is. Hy het wakker geskrik en regop gesit.

“Sy het een van die verdagtes gevra wat hy soek. Die verdagte het nie geantwoord nie, net met sy vinger na sy mond gewys om haar te waarsku dat sy moet stilbly. Daarna het sy twee skote gehoor, waarna die verdagtes glo omgedraai en weggehardloop het,” sê Tselanyane.

Riekie het oomblikke later na die venster gehardloop en om hulp geskree. Die bure en veiligheidsbeamptes was minute later op die toneel.

Volgens Arrie se seun het hy ’n oproep van sy ma gekry waarin sy vir hom gesê het dat hulle aangeval is en dat hy dadelik moet kom.

“Met sy aankoms het hy sy getraumatiseerde ma in die slaapkamer aangetref. Sy pa het roerloos op sy rug op die vloer gelê. Hy het drie skietwonde aan sy bolyf opgedoen.

“Drie .22-koeëldoppies, sowel as ʼn boutsnyer, is op die toneel gevind en die polisie het daarop beslag gelê.

“Die verdagtes het vermoedelik toegang tot die huis verkry deur eers die elektriese heining te knip en daarna een van die slaapkamervensters se diefwering te breek en oop te buig.

“Twee mans, onderskeidelik 37 en 42 jaar oud, is later vir ondervraging ingeneem nadat hulle in die omgewing van die kleinhoewe aangekeer is,” sê Tselanyane.

Die ondersoek na die saak duur voort.

Die DA in Noordwes het die aanval intussen ten sterkste veroordeel.

“Dit is die tweede plaasaanval in Noordwes dié week. Altesame ses skote is Maandag op Banie de Klerk buite sy huis op Lankgewag afgevuur, voordat die verdagtes van die toneel gevlug het,” sê Carin Visser, DA-LP.

De Klerk het fisiek ongedeerd van die aanval afgekom.

“Net soos in die aanval op De Klerk, het die aanvallers bloot skote op Smit afgevuur en dadelik gevlug sonder om iets te steel.”

Visser sê die DA is diep bekommerd oor die toename in plaasaanvalle in Noordwes waarin misdadigers boere teiken.

“Die Noordwes-regering se volgehoue ontkenning van die duidelike motivering agter plaasaanvalle is nog ʼn faktor wat ernstige agterdog wek. Die DA sal ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die Noordwes-polisie indien waarin ons die rekords van vanjaar se plaasaanval-ondersoeke versoek, asook hoeveel sake opgelos is.

“Ons sal ook skriftelike vrae aan die Nasionale Raad van Provinsies en die Noordwes-wetgewer voorlê oor die inisiatiewe wat die regering geneem het om plaasaanvalle in Noordwes te voorkom en watter van daardie inisiatiewe suksesvol was.”

Die gewelddadige aanvalle op boere en landbouwerkers is ʼn verlies vir die hele Suid-Afrika en moet so hanteer word, sê Visser.

“Die DA sal nie rus totdat die ANC-regering verantwoordelikheid neem vir die veiligheid van boere nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanEtz ·

Regering skree van podiums af op ander regerings te “wandade”, maar ignoreer die groter oorlog binne Suid Afrika…
Hierdie gevalle in berig word sluipmoorde genoem…..

Minnie ·

Wonder of daar n beloning uitgeloof sal word vir die opsporing van die moordenaars van die onskuldige boer. Wonder maar net…
Hoekom word NIKS gedoen oor die plaasmoorde nie? Ignoreer die regering dit net ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.