Bejaarde man wat rower skiet oorlede

Elsie en Louis Trichardt. Foto: Verskaf

Elsie en Louis Trichardt. Foto: Verskaf

Louis Trichardt, die 76-jarige man wat op 20 Julie ʼn vermeende rower in die oprit van sy huis doodgeskiet het, is Sondagoggend dood.

Teske Erasmus, Trichardt se kleindogter, het die nuus aan Maroela Media bevestig. “Die hospitaal het ons gisteraand gebel en gesê ons moet hospitaal toe kom, want my oupa het ʼn terugslag gehad. Toe ons daar aankom, het ons gesien hy dra nie meer ʼn suurstofmasker nie, want hulle het hom op ‘n ventilator gesit om hom te help asemhaal,” het sy gesê.

Sy het gesê hulle is later weer huis toe en kort daarna het die hospitaal hulle laat weet dat hy oorlede is. “Hy is omtrent 00:30 oorlede.”

Maroela Media het berig Trichardt en sy vrou, Elsie, is omstreeks 12:00 die middag buite hul huis in Horison, Roodepoort, deur twee gewapende rowers oorval. Louis het in ʼn struweling met die rowers betrokke geraak en is in die maag geskiet. Hy het ook een van die rowers in die oprit doodgeskiet, terwyl die ander rower op die vlug geslaan het. Elsie het erge kneusings opgedoen.

Elsie het vroeër aan Maroela Media gesê haar man het geringe verbetering getoon, maar sy toestand was steeds ernstig en hy is deurentyd in die waakeenheid van die hospitaal behandel. Sy het gesê haar man het haar lewe gered en sal altyd haar held wees.

Volgens Erasmus het die dokters Trichardt aanvanklik in ʼn geïnduseerde koma gehou, maar hom na ʼn paar dae wakker gemaak. Dit is toe dat hulle besef het dat hy ʼn ligte beroerte gehad het nadat hy geskiet is.

“Ons het regtig gedink hy gaan beter word, ons het nooit verwag dat ons hier sou staan nie,” het Erasmus gesê. “Ons sal vandag [Sondag] almal as familie bymekaarkom. Dit is vir almal baie sleg.”

Geen begrafnisreëlings is in hierdie stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jo-anli ·

Dis so roerend om te wys hoe een persoon sy familie so lief het om te sien hy gee sy eie lewe,gedwonge ek salueer Oom u is liefde vanself. Aan familie innige simpatie ons is daardeur moeilike pad wat voorlê, glo my GOD maak alles draagbaar vergeet sal mens nooit vergewe an ek nie sê, dis moeilik. Alle sterkte en seēn ek Bid Vir U Almal .

Dee ·

Jo-anli, ek hoop en wens jou pragtige lofbetuiging word gelees deur die mense betrokke – en beslis sàl dit so wees. Gedwonge… dit sal selfs ongedwonge gedoen word. Jou woorde sal beslis waardeer word deur die oom se mense.

Bertus ·

Het met sy lewe betaal en dit maak nie wereld nuus nie. Is sy lewe minder werd as ń leeu sń. Sterkte aan sy familie.

SNEL ·

Mens se hart skeur in stukke, dit voel of dit my pa kon wees. So n heldedaad waarmee die Oom met sy lewe betaal het. My hart gaan uit na sy vrou, kinders en die res van die familie. Dis hartseer om te dink hy het 76 jaar geword, so n hoë geseënde ouderdom, en hy kon nog 80 en ouer geword het, maar deur misdaad is hy van sy geliefde geruk. Mag die Here julle help om te vergewe en mag Hy julle dra deur hierdie moeilike tyd. Baie sterkte.

E.K. ·

Innige simpatie aan die hele Trichardt familie en sterkte op die pad vorentoe. Ons dink aan julle!

Marcelle Young ·

My Pa Louis Trichardt se begrafnis is Vrydag 14/08/2015 om 11h00 by die Gereformeerde kerk, Ontdekkers.
Dankie vir almal se boodskappe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.