Bejaarde met Alzheimer se siekte al dae lank vermis

John Rodda (82) word sedert Saterdag vermis. (Foto: Facebook)

Die familie van ’n 82-jarige man van Pretoria met Alzheimer se siekte is rasend van bekommernis nadat hy die naweek “op pad apteek toe” verdwyn het.

John Rodda het Saterdag in ’n wit Nissan Tiida by die hek van die Wilgers-aftreeoord in die ooste van Pretoria uitgery en nooit weer teruggekeer nie.

Michelle Rodda, John se skoondogter, sê hy het glo die middag aan haar skoonma (82) gesê hy gaan gou apteek toe. Haar skoonma het later daardie aand gebel en laat weet dat hy nooit teruggekom het nie.

Michelle se gesin was in dié stadium in die Kaap en hulle is inderhaas terug huis toe om na John te soek.

John kan op die aftreeoord se kringtelevisiebeeldmateriaal gesien word hoe hy Saterdag omstreeks 15:55 in die Nissan by die oord uitry dan in die rigting van Mamelodi draai.

“My skoonpa het jare laas bestuur en mag nie meer bestuur nie. Hy het nie eers ’n trui aangehad nie en het geen ID by hom gehad nie,” het Michelle Maandag aan Maroela Media gesê.

Haar skoonouers se motor het nie ʼn  satellietopsporingstelsel nie.

John het ’n strepieshemp aangehad ten tyde van sy verdwyning.

Hy is reeds by die polisie as vermis aangemeld. Sy familie is rasend van bekommernis en het self hospitale gekontak en selfs elke agterpaadjie in die omgewing deurkruis op soek na John.

Daar is egter in dié stadium nog geen spoor van John óf sy motor nie.

Die familie het hulle ook tot sosiale media gewend in die hoop dat iemand hom opgemerk het.

Hulle het egter reeds onder bedrieërs deurgeloop wat beweer het dat John by hulle is en op geld vir sy vrylating aangedring het. Die polisie het reeds vasgestel dat dit nie die geval is nie en die betrokkenes John se familie wou bedrieg.

“Ons is siek van bekommernis. Hy het nie sy medikasie by hom nie en ek weet nie of hy bewusteloos iewers lê nie…” sê ’n emosionele Michelle.

Die familie doen ’n dringende beroep op enigiemand met inligting oor waar John hom moontlik bevind om 082 852 3843 of 082 301 5443 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

Sjoe, dit moes vreeslik wees om nie te weet waar hy is nie. En dan kry jy die krimele drek wat mense in so situasie sal probeer indoen. Hoop hulle word gestraf en julle maak sake teen hulle. Siesa!!!!

Prontuit ·

ek ken nie die omstandighede nie maar hoe laat mens dan die omie ry as hy sieklik is? apteke lewer tog deesdae af? ag ek hoop en bid hulle kry hom vinnig en ongedeerd!!!!

Claudette ·

As hy nie mag bestuur het nie, hoekom het niemand hom voor gekeer nie..dis so aaklige siekte en mense kry nie hulle pad terug huis toe nie. Ek bid hy is veilig en dat hy spoedig opgespoor word.

Sandra ·

Hy het in die rigting van Mamelodi gedraai. Is dit nie ‘n beginpunt vir die polisie nie? Ja mense is skelm en om so iets aan ‘n familie te doen wat al klaar bekommerd is en enige leidraad wil opvolg, is absoluut gemeen en varkerig. Ek hoop julle vind hom veilig.

Piet parys ·

Hoekom plaas julle nie die voertuig se nommerplaat nie . Was hy by die apteek ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.