Bejaarde ontslaan ná honde hom verskeur

Tom Chapman. Foto: Verskaf

Oudsupt. Tom Chapman (74) kon Donderdagaand weer in sy eie bed slaap nadat hy byna twee weke gelede deur twee honde buite sy huis in Pretoria aangeval en verskeur is.

“Hy is gistermiddag ontslaan en is maar die meeste van die tyd in die bed om te rus. Hy is net op die been as hy badkamer toe gaan, wat so 5 m van sy bed af is, en dan help ons hom tot daar,” het Lana Odendaal, Chapman se dogter, aan Maroela Media gesê.

“Sy wonde het gelukkig nog nie infeksie gekry nie en ons glo dit gaan net beter gaan van hier af. Hy moet Dinsdag weer teruggaan dokter toe sodat sy wonde mooi skoongemaak kan word. Die res van die tyd moet dit verbind bly; ons mag nie daaraan raak nie.”

Odendaal het gesê haar pa is steeds op medikasie en is rustig.

Maroela Media het vroeër berig Chapman, wat jare lank verbonde was aan die Pretoria-stadsraad se elektriese afdeling en wat nou saam met sy vrou, Francis (72), in Parktown Estate in die Moot woon, moes op 8 Mei, half verlam, verwoed veg om die honde met sy werkende hand van sy gesig af weg te hou.

Champan het in 2005 ʼn beroerte gehad wat die linkerkant van sy lyf verlam gelaat het. Ná jare se rehabilitasie kon hy weer begin loop, maar hy sukkel nog met sy balans en die honde het hom maklik omgespring en aan albei sy arms en bene gebyt.

Die honde, van gemengde rasse, het vermoedelik uit ʼn omliggende buurman se erf ontsnap deur op bourommel te klouter en toe oor ʼn muur te spring.

Die honde is uiteindelik met ʼn tuingraaf verjaag, nadat die honde twee omstanders ook gebyt het. Die polisie moes die honde skiet aangesien hulle verwilderd deur die buurt gehardloop het.

Francis was aanvanklik bekommerd dat Tom ná die aanval nie weer sal kan loop nie, weens die ernstige wonde aan sy linkerbeen. Odendaal het egter gesê dit lyk nie of haar pa permanente skade opgedoen het nie en sy glo dat hy weer op sy eie mobiel sal wees, tensy infeksie intree.

“Ons het ʼn rolstoel geleen wat hy vir tyd en wyl sal gebruik tot hy weer kan loop. Tot dan fokus ons nou net daarop dat sy wonde volkome sal genees,” het sy gesê.

Lees die vorige berigte oor Tom Chapman op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blommetjie ·

Baie sterkte oompie Ek weet presies hoe oom voel ek ook deur hond gebyt dit was absoluut hel gewees. Ek het infeksie in my wonde gekry so asseblief hou maar by Dokter se voorskrif dit is die beste STERKTE

Nicolene ·

Ek bid en vertrou dat oom sommer gou weer op die been sal wees. Mag die Liewe Vader jou beskerm op die pad na herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.