Bejaarde oorleef nag in veld ná kaping

Steve van Staden voor sy kapingsnagmerrie. Foto: Verskaf

Steve van Staden voor sy kapingsnagmerrie. Foto: Verskaf

Steve van Staden (78) van Virginia in die Vrystaat, moes ʼn aand lank buite in ʼn veld oorleef nadat kapers hom aangerand en beroof het voordat hulle hom aan ʼn paal vasgebind het.

Jack van Staden, Steve se seun, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy pa is “pimpel en pers” geslaan en word tans in die Mediclinic in Welkom behandel.

Jack en sy vrou Marisa, het Dinsdag uit Oos-Londen in die Oos-Kaap gery nadat sy pa die oggend vroeg op myngrond in die Saaiplaas-omgewing opgespoor is. Steve het Maandag verdwyn.

Jack sê sy pa is steeds erg getraumatiseerd ná die ure lange nagmerrie, en hy is nog deurmekaar oor wat alles gebeur het. Hy sê Steve het Maandagmiddag omstreeks 15:00 na die verkeersdepartement in Virginia gegaan om ʼn boete vir ʼn verkeersoortreding te betaal.

“My pa sê beamptes het hom egter na Welkom verwys, omdat die boete daar betaal moes word,” het Jack gesê. “ ʼn Man in ʼn verkeersbeampteuniform het toe aangebied om saam met my pa na Welkom te ry om hom te wys waar die kantoor geleë is waar die boete betaal moet word. Toe hulle egter daar aankom, het die kantoor hom glo óók weggewys en na die munisipale kantore gestuur.”

Jack sê dit was toe reeds al laat en sy pa het besluit om terug te keer huis toe. “Die ‘beampte’ wou weet of my pa hom in Saaiplaas kan gaan aflaai, aangesien hy daar bly. Op pad Saaiplaas toe het die beampte my pa in die voertuig oorweldig en erg aangerand.”

Steve is uit sy voertuig gepluk en ongeveer 100 meter ver in ʼn veld in gesleep waar die aanvaller hom aan ʼn paal vasgemaak en verder aangerand het. Die aanvaller het R130 kontant by Steve gesteel voordat hy met sy motor, ʼn silwer Toyota Camry, weggejaag het. Steve is boonop ’n diabeet en moet drie keer per dag insulien kry. Veiligheidsbeamptes het Dinsdag omstreeks 10:00 op Steve, wat steeds aan die paal vasgevind was, afgekom en hulp ontbied. Hy is na die hospitaal gehaas.

Sy gesin was baie bekommerd en het Maandagmiddag reeds na hom begin soek. Steve se dogter, Lolita de Coning wat ook in Virginia bly, het Maandagaand en Dinsdagoggend in die gebied rondgery om na haar pa te soek. Sy het Dinsdagoggend omstreeks 09:00 haar pa se motor in Saaiplaas opgespoor. Daar was drie mans in die voertuig. Na ʼn lang gespook het sy die voertuig van die pad af gedwing, en die drie insittendes gekonfronteer. Twee van die mans het weggehardloop. Die bestuurder het beweer dit is sy pa se motor. “Lolita het vir hom gesê hy lieg en het aangedring dat hy vir haar sê waar ons pa is. Dié man het toe ook weggehardloop.” Die familie is kort daarna in kennis gestel dat Steve opgespoor is.

“Hy het erge kopbeserings opgedoen,” sê Jack. “Dit wil ook voorkom of daar ʼn snywond aan sy nek en rug is. Sy hande is ook beseer soos hy probeer het om homself te verdedig.”

Volgens Jack is die hele gesin deur die voorval getraumatiseer, maar is hulle dankbaar dat hul pa gevind is en nog lewe. “As ʼn mens sien hoe erg hy aangerand is, is dit ʼn wonderwerk dat hy lewe. Hy het ʼn hele aand lank in die koue spandeer. Hy is stabiel en ons behoort vandag terugvoer van die dokter oor sy toestand te kry.”

Die Welkom-polisie ondersoek die voorval. Maroela Media wag vir terugvoer van die polisie vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johannes ·

VUILGOED????Dit is om dit sag te stel Diere doen dit nie eers nie.So wat sal ons die tipe mens noem???

SNEL ·

My hart gaan uit na die Oom en sy familie. Ek hoop en bid net dat die trauma nie te erg vir hom was nie. Hoop hy herstel spoedig.

Johann Roux ·

Die goddeloses wat dit aan een van die Vaders se kinders doen moet besef Hy staan nie onaangedaan teen sulke dade nie. Sekerlik sal Sy toorn op hulle losbars.

Daar word gebid vir u, mnr van Staden vir algehele herstel en mag u die warm hande van ons Vader aanvoel, waar Hy u styf vashou.

Sterkte vir die familie.

pop ·

Lolita is baie braaf!!!!!!!Dalk het sy n wapen by haar gehad en het sy gehoop om hom te kan gebruik. Dis al wanneer die goed weg sal hol. Sodra dit lyk of jy jouself kan handhaaf hol hulle. Dis nie meer n land waar mens kan woon nie. Dis n eind tyd plek. Die duiwel en sy troeteldiere se kettings is af.

Belinda ·

In die 1ste plek as mense hulle werk kon doen en nie die oom weggestuur het nie was dit glad nie vandag in die koerant nie en so tipe mens wat in so pos is en kyk hoe wreed is die ding ek kan nie glo S.A is so slapgat om te dink dis normaal nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.