Bejaarde op pad terug van toilet beroof

(Foto: SA Polisie)

ʼn Bejaarde man van Kutloanong buite Odendaalsrus in die Vrystaat is beroof nadat hy die deur van sy huis oopgelaat het om toilet toe te gaan.

“Die 75-jarige slagoffer het Maandag omstreeks 13:45 sy huis verlaat om ʼn buitetoilet te gebruik en het die deur oopgelaat. Toe hy terugkom in die huis het die verdagte hom ingewag,” sê brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder van die Vrystaat.

Die man het na bewering die slagoffer se hande met draad vasgemaak en iets in sy mond gedruk om te verhoed dat hy skree. “Die bure het egter gehoor toe die verdagte probeer weghardloop en het hom agternagesit,” sê Makhele.

Die polisie is in kennis gestel en polisielede het die verdagte, ʼn 23-jarige man, ʼn ruk later ʼn paar huise verder vasgetrek. “Die slagoffer se beursie, SIM-kaart en Markhams-kaart is in sy besit gevind. Hy het toe aan die polisie gaan wys waar hy die selfoon verkoop het.”

Die verdagte en sy 36-jarige vriend wat die selfoon by hom gekoop het, is in hegtenis geneem. Hulle is onderskeidelik vir huisroof en die besit van vermoedelik gesteelde goedere aangekla.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn 41-jarige man Dinsdag deur die Valke as vierde verdagte in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by ʼn roof in Hartbeespoort op 27 Julie.

Volgens kapt. Tlangelani Rikhotso was twee veiligheidswagte dié dag besig om geld by ʼn vulstasie in Hartbeespoort in Noordwes af te haal, toe hulle deur ʼn groep gewapende mans oorval is. “Die rowers het die sak met ʼn onbekende bedrag geld gebuit en toe glo in ʼn Nissan-dubbelkajuitbakkie weggejaag,” sê Rikhotso. Drie verdagtes, Jan Matshia (54), Elias Mosekwa (53) en Bennett Padi (34), is reeds tussen September en Januarie in hegtenis geneem. Die drie het reeds verskeie kere in die landdroshof in Brits verskyn en is steeds in aanhouding.

“Die vierde verdagte sal na verwagting Donderdag in dieselfde hof verskyn,” het Rikhotso gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Corne123 ·

Waar is die minister van polisie wat so groot en trots met die vrae en adwoord sessie gese het sal nie gebeur nie mag noe beweegbsonder rede nie skole en drankwinkels word geplunder

Jaco ·

Hy is besig met baie belangriker sake, soos om te kyk wie skelm rook of drink.

Amatambo ·

En dit is – en bly maar die storie van die “wonderlike “nuwe S.A.” wat sedert 1994 met rasse skrede toegeneem het en vandag die norm is; Roof, moor, verkrag, kaap, korrupsie op groot skaal….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.