Bejaarde op verjaardag in aftree-oord vermoor

Die Duncan Ferguson-aftreeoord. Foto: Google Maps

Die Duncan Ferguson-aftreeoord. Foto: Google Maps

ʼn Inwoner van ʼn aftree-oord in Somerstrand, Port Elizabeth, se liggaam is Woensdag op sy 85ste verjaardag in sy kothuis aangetref.

Ao. Alwin Labans, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die man se liggaam is gevind nadat sy huishulp omstreeks 08:00 by die Duncan Ferguson-aftreeoord opgedaag het. “Sy het die klokkie by die oord se hek gedruk, maar daar was geen antwoord nie. Sy het toe die tuinwerker gevra om vir haar die hek oop te maak.”

Die man se kothuis was egter ook gesluit en die huishulp het die opsigter van die aftree-oord geroep. Nadat hulle die man gebel het en hy nie geantwoord het nie, het hulle die huisie oopgesluit en binnegegaan.

“Hulle het sy liggaam op sy bed aangetref, met sy hande vasgebind,” het Labans gesê. “Daar was bloed aan sy neus, maar andersins geen sigbare wonde of beserings nie. Die hele huis was omgekeer en dit het gelyk asof die moordenaars goed gesoek het om te steel.”

Volgens Labans was ʼn venster in die huis oop en het die verdagtes vermoedelik so toegang tot die kothuis verkry. “Ironies genoeg is dit vandag sy verjaarsdag. Hy het 85 jaar oud geword,” het hy gesê. ʼn Nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van sy dood bepaal.

Die man se naam kan nog nie bekendgemaak word nie. Labans het gesê die man se seun was op die moordtoneel, maar die res van sy naasbestaandes moet nog van sy dood ingelig word.

ʼn Saak van moord en huisroof word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Lettie ·

KAN HULLE REGTIG NIE NET DIE BEJAARSDES UITLOS NIE – hulle is skadeloos. Los hulle dat hul hul laaste dae kan geniet in rus en vrede.
Innige simpatie aan die familie vir jul verlies.

Hettie ·

Stem saam Lettie! Arme bejaarde mense! Hulle is onskuldig. Sterkte aan sy familie

Winston ·

n Lafaard lyk so as hy op sy tog vertrek om weerlose mense dood te maak. Sterkte aan sy familie. Die regering is net so lafhartig met geen optrede, teen geweld en wetteloosheid in hierdie land. Daar is weinig oor wat nie maar net meelopers is nie

didi ·

My ma woon in dieselfde oord, hulle is erg ontsteld. Wonder waar was die nagwag waarvoor hulle ‘n ekstra R60 per maand betaal. Seker lekker geslaap. Rus in vrede

Maryna ·

My ma woon in die oord oorkant die straat. Dis onaanvaarbaar dat hulle nog nooit eers aan die veiligheidswagte of maatskappy eienaar bekend gestel is nie. Dis vreemdelinge wat in die oord die oumensies “oppas” gedurende die nag!!

Louis ·

Die huishulp sukkel haar morsdood om toegang tot die oord en woning te kry, maar die moordenaar het klaarbleiklik geen problem gehad nie !!! Wonder maar net ??????

Human ·

Louis, baie goeie stelling en vraag!!!! Hoe is dit moontlik??? En die nagwag, waar was hy????
My oom RIV, sterkte aan die familie.

Maryna ·

My ma vertel my hulle weet nie eers hoe die sogenaamde nagwag lyk nie! Een ongewapende wag vir die hele oord is in elk geval lagwekkend. Die vorige sekuriteits firma het ‘n nagwag met hond gehad, maar ook in daardie geval is hulle nooit voorgestel aan die wag of eienaar van die sekuriteits firma nie. Die betrokke firma is in die laaste paar maande vervang met die huidige een waarvan hul ook niks weet nie. Ek maak dit nou my missie om hierdie Echo Foundation se modus operandi op te volg wat sekuriteit betref. Ek was in Maart daar en die elektriese heining moet nagegaan word – daar was plekke met ‘n duidelike probleem waar die draad “dood” was.

EMK ·

Mens raak bekommerd as oumense nie eers in aftree oorde veilig is nie. Dis tog waarom mense na sulke plekke verhuis – daar word mos vreeslik geadverteer hoe “veilig” die en daai plek is en mens koop in op dit. Ai, simpatie aan die familie, mag die moordenaars gou opgespoor word.

Hanlie ·

RIV Oom, so tragies. Ek is elke dag so bekommerd oor my Ouers terwyl ek by die werk is. Ek wonder hoe het die tuinwerker ingekom as sy nie kon nie.

Peet Schabort ·

Die tuinwerker glo ek is vir meer as een kothuis.
Hierdie is absoluut ontstellende nuus. Gelukkig leef my ouers nie meer want ek sou die res van my lewe spandeer het om die vuilgoed in die hande te kry. Natuurlik geld dit ook vir die res van nog lewende familie. Ek sal ook die polisie soveel hel gee met navrae dat hulle my sal moet gaan toesluit om van my ontslae te raak.
Sterkte aan die familie met ‘n onnodige dood van ‘n geliefde a.g.v. ‘n slap regering wat nie eers die naam werd is. Hierdie is onnodig.

Maryna ·

Die tuinjong is baie geliefd by die oumensies en werk al jare in die oord. Hy slaap nie in nie so was nie die nag daar nie. Die opsigter laat hom in die oggend inkom in die oord.

Theresa ·

Elkedag Lees ek van n plaasmoord of tenminste twee moore op n dag. Hierdie raak siek hoor.

marianne ·

NOG ‘n WEERLOSE OU MENS…. Ek wens ons lands regeering her installeer die DOODSTRAF. Die Bybel se ‘n oog vir ‘n oog. My hart bloei vir die oom se naasbestaandes.

SNEL ·

Dis vreeslik, om 85 jaar oud te word en dan vermoor te word. Ek verstaan daar was bloed aan sy neus, maar ek wonder of die oom vermoor is en of die skok vir hom net te erg was. Dit maak nie saak nie, want die oom is dood en dit omdat iemand weer toegang tot n plek gekry het waar hy nie eers hoort nie en hulle dink mos hulle het die reg om te vat waarvoor hulle nie eers gewerk het nie. Die oom sou nog gelewe het as daar wet en orde in ons land was. Die land hardloop teen n verskriklike snelheid nou die afdraende pad af…en daar is nie remme nie, alles val uitmekaar en onskuldige mense moet die spit afbyt vir n regering wat net mooi niks doen om dinge beter te maak nie, maar eerder help met die vernietiging daarvan. Baie sterkte aan die oom se familie, mens se hart is stukkend is sulke goed met weerlose oumensies gebeur. Mag die akker wat dit gedoen het spoedig gevang word.

ANTON ·

Mense dit sal nooit ophou nie todat iemand besef die moorde is rassehaat,watter weerstand kon die oom bied,deesdae is dit die tendens om mense vas te bind en dan aan te rand en selfs te vermoor,die doodstraf sal moet terugkom en meer bevoegte mense sal in ons howe aangestel moet word,sterkte aan die familie,

Beatrix Stevens ·

Baie hartseer om te dink… die arm Oom het sy verjaarsdag gevier … min wetent dat n Skurk sy lewe sal eindig… hoe weerloos moes hy nie gewees het ?? En ja veiligheid?? hoe maklik om toegang te verkry?? dalk het die Monster nie van buite af ingekom??? As hy het?? hoe het hy verby die nagwag gekom?? Ek sal die Aftree Oord verantwoordlik neem?? As ons Ou mensies nie eers meer veilig in so n plek kan wees??? Wat gaan van hul word”’ In elk geval dink ek nie dat 1 Nagwag genoeg is vir so n plek?? En daar is veronderstel om Kameras te wees”’ By die Ingang of waar ook al sigbaar”’ Om te kan sien wie in en uit beweeg”” Sterkte aan die Oom se Familie” Jammer vir jul verlies”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.