Bejaarde paar in huis oorval, beroof

Argieffoto: https://pixabay.com

Oos-Kaapse polisiebeamptes is op soek na vier mans wat Saterdagaand by ʼn huis in Port Elizabeth ingebreek en ʼn bejaarde egpaar aangerand en beroof het.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die man en vrou, albei in hul 70’s, is omstreeks 19:15 deur die vier verdagtes met ʼn mes en ʼn vuurwapen gekonfronteer in hul huis in Colleen Glen, ʼn landelike woonbuurt sowat 20 km wes van die Baai se middestad.

Die mans het glo deur die heining om die eiendom gebreek en by die voordeur ingekom. Die vrou (70) het iets by die voordeur gehoor, maar voor sy daar kon kom, was hulle reeds in die huis.

Haar man (71) het die rowers gekonfronteer en hulle probeer afskrik, maar die vier het hom en sy vrou oorweldig en in hul slaapkamer vasgebind.

Janse van Rensburg sê die mans het die huis deursoek en spore gemaak met kontant, twee vuurwapens en selfone. Blykbaar het hulle te voet gevlug.

Die bejaarde man kon hom loswikkel en die bure van ʼn ander selfoon wat in die huis was, bel. Hy en sy vrou het albei mediese behandeling op die toneel ontvang.

Janse van Rensburg vra enigeen met inligting moet die speurdiens van die Kabega Park-polisiekantoor by 041 397 6800 of Stop Misdaad by 0860 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Muffin ·

Dit sal maar net nooit stop nie. Die ouer mense word geteiken. Hoop hulle word gevang.

Fryingfrog ·

Asseblief!! Pas oor die 70 is allesbehalwe bejaard! Dis senior mense; my ouers is bejaard: in die 90! Jammer om van jul teenspoed te hoor in die fleur van jul lewe! Hoop julle herstel gou van die skok en gaan aan waar julle opgehou het!

HPV ·

Fryingfrog jy is reg, my skoonma het op 94 nog haar eie motor in die stad bestuur al was sy bejaard. Baie mense oefen en werk nog op 70.
Gelukkig word hulle darem nie “ou mensies” genoem nie!

Alida ·

Die SAPD in die wes kaap is tops. Hulle sal gevang word soos al die ander.

Phillip van der Merwe ·

Hoe word mense wat vuurwapens besit oorweldig, veral ouer mense? Ek en my vrou bly op ‘n plaas, ons is ook al in ons laat 50s en ons altwee se wapens is by ons die heeltyd as ons by die huis is. Mense, gebruik as julle wapens, dis al hoe jy hulle gaan afskrik want hulle is lafaards, hulle is altyd 2 of meer en sonder ‘n vuurwapen gaan jy verloor. Ek is net bly hulle het nie te seer gekry nie, sterkte.

Stem ·

Ek stem saam! Mense julle wapens hoort by julle te wees! Nou gaan hulle net eenvoudig julle wapens gebruik om verder onskuldige mense te vermoor

GP ·

Dit is skrikwekkend hoe maklik rowers weg kom met vuurwapens. Hoeveel onskuldige mense gaan ly of self hul lewens verloor agv hierdie diefstal.

Dis gevalle soos die wat gun free SA gebruik teen ons, en sterk sake bou om wapens as onwettig vir gewone burgers te maak. As jy ‘n vuurwapen het, het jy ‘n verantwoordelikheid.

Brett ·

Snert, GP! Jy hoef nie Rambo te wees om regte te he nie.

Nogtans – swak dat die ou mense so ‘n sagte teiken was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.