Bejaarde paartjie in Pinetown aangeval

Foto: Blue Security

ʼn Bejaarde paartjie van Pinetown in KwaZulu-Natal is Vrydagoggend in hul huis oorval.

Andreas Mathios, woordvoerder van Blue Security, het gesê vier gewapende mans het in die egpaar se tuin geskuil voor hulle die eienaar van die huis omstreeks 09:00 oorval het toe hy uit die huis gekom en na ʼn buitegebou geloop het.

“Die verdagtes het die man oorval toe hy in die tuin geloop het om kos van die huis na ʼn vrieskas in die buitegebou te neem,” het Mathios verduidelik. “Die verdagtes het hom terug na die huis gelei en hom met bottels en hul vuiste aangerand. Hulle het kontant, waardevolle besittings en vuurwapens geëis.”

Die verdagtes is daarna na die hoofslaapkamer waar hulle die vrou gegryp en haar begin wurg het. Hulle het op ʼn kluis in die huis afgekom en die sleutels geëis. “Hulle het met ʼn vuurwapen, selfone en ander waardevolle besittings in die paartjie se motor gevlug.”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die man en vrou het albei matige beserings opgedoen. “Hulle is op die toneel behandel vir hul beserings en daarna na ʼn privaat hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Pinetown-polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.