Bejaarde radeloos ná aanval op kleinhoewe

Wessel Kriek kort ná die aanval in September vanjaar. Foto: Verskaf

“Ek is nou moeg vir die hospitaal. Ek gaan nou maar hier by die huis sit en doodgaan.”

Só sê Wessel Kriek (73) van sy gesondheidsprobleme ná die aanval op 8 September op hom en sy vrou, Valerie (72), op hul kleinhoewe by Daniëlskuil in die Noord-Kaap waarin hulle van R200 000 beroof is. Die aanvallers het in hul Mercedes-Benz weggekom, maar dis later verlate op die buurdorp Kuruman gekry.

“Ek het ʼn hartaanval gehad en beroerte gekry en het 17 dae in die hospitaal gelê,” het Kriek Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Toe swel my bene op. Die dokters was bang vir bloedklonte, maar ek sien nie kans om terug te gaan hospitaal toe nie.

Toe ek die hek oopmaak, het hulle my platgeduik in die winkeltjie.

“Ek het nou emfiseem. Ek weet nie of dit is van hoe [die aanvallers] op my bors getrap het nie.”

Kriek en sy vrou is die Saterdag omstreeks 18:00 op hul kleinhoewe oorval. “Twee [jong mans] het eers gevra ek moet die hek vir hulle oopmaak,” vertel hy. “Toe ek die hek oopmaak, het hulle my platgeduik in die winkeltjie hier op ons kleinhoewe.”

Nadat sy vrou uit die huis gekom het om te kom kyk wat aangaan, het hulle haar en haar man in die huis ingedra en in hul kamer met elektriese kabels vasgemaak. “Hulle het alles voor ons oë uit die kaste gestroop en ons kon niks maak nie,” onthou Kriek.

Hy is ongelukkig omdat niemand hom en sy vrou laat weet het toe die drie verdagtes wat aangekeer is met ʼn rewolwer in hul besit op Kuruman in die landdroshof voorgekom het nie. Kriek sê die saak is uitgegooi omdat die landdros gemeen het daar is onvoldoende bewyse teen die verdagtes.

Hy sê egter drie speurders het hom en sy vrou Vrydag besoek om blykbaar die saak opnuut te ondersoek.

Waarnatoe kan ons gaan?

Intussen probeer hy en sy vrou so normaal moontlik hul lewe hervat, maar maklik is dit nie. “Ek voel in ʼn sekere mate onrustig. Ons sluit nou maar saans alles toe en bly maar in die huis.”

Hy vertel hul kinders wil hê hulle moet trek. “Maar waarnatoe moet ek padgee? Waarnatoe kan ons gaan? ʼn Mens is nêrens meer veilig nie.”

Kapt. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê drie verdagtes is op 28 September in hegtenis geneem. “Hulle het op 1 Oktober in die landdroshof op Postmasburg verskyn. Die saak is voorlopig teruggetrek vir verdere ondersoek.”

Hy vra enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, moet ao. Riaan Kock by 082 495 4681 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet ·

Kan jy glo saak is uit die hof gegooi hoekom is die 2 mense wat aangerand en beroof is nie laat weet nie sinnelose aanranding op senior burgers die wet het weereens gefaal

Gemaskerde Sopbeen ·

“Ons sluit nou maar alles toe en bly binne in die huis”….Dis reg my oom…..DIT is die nuwe Suid Afrika wat die vorige regering vir ons “onderhandel” het….en nou loop en spog dat die ANC nie die “stryd gewen het” nie, maar die land op ‘n skinkbord “ontvang” het…..sodat almal se lewens “beter” kan wees. Well, guess what….? Dit het toe nie so uitgewerk nie, het dit? Nou wat nou….?

Jaag ·

Gemaskerde sopbeen, gaan maar aan met verwyt en in verlede te leef, dit sal jou iewers bring. Miskien moet jy jou pa en ma verwyt omdst hulle jou in die lewe gebring het dan hoef jy vir NIKS verantwoordelikheid te aanvaar nie.

IK ·

Dit is seker die mees gewildste sinnetjie wat in enige nuusmedia verskyn naamlik ‘met ons ter perse gaan (ten tyde van publikasie/sperdatum) wag ons nog op ‘n antwoord’. Dit is net hier waar daar tot in ewigheid gewag sal word op ‘n antwoord.

Hoe? ·

Met watse geld Gerhard?
Weet jy hoeveel kapitaal ‘n mens beskikbaar moet hê tydens jou aansoek om goedkeuring te kry om Orania toe te verhuis? Jy moet ‘n belegging vir die dorp wees voor jy aanvaar word, jy moet ekonomies kan bydra en self ‘n kwalifikasie of vaardigehede hê wat tot die bevordering van die dorp sal wees, soos om te kan Boer of Entrepreneurskap aan te gaan. Die Oom en Tannie is van R200 000 beroof. Ek ken die mense maar net van sien – hulle het nie ekstra rondlê geld om enigsins te oorweeg om iewers anders heen te verhuis nie.

Snowball ·

Hoe hartseer om so ontredderd, weerloos en ontnugter te voel op so ‘n hoë ouderdom, en dit terwyl hulle niemand skade gedoen het nie. My hart is seer vir hulle leed. Hulle is oud en verdien dit nie. Hierdie is ‘n siek land met ‘n siek, kriminele bevolking wat ‘n spoor van verwoesting en ellende agterlaat.

Sus ·

Ag en daai 3 sit nou seker voor die Polisiestasie en wag??? Hulle is lankal fort en sal nooit weer gekry word nie, duhhh!!

Danie van Zyl ·

Hoekom kan die landros wat hulle laat loop het nie privaat aangekla word nie. Is hy bo die wet verhewe? Ek sal graag die meriete van die vrylating wil sien.

Netso ·

Danielskuil! Daar het 20 jr terug niks daar aangegaan nie! Nou word die nasie gebou daar om nie te praat van Kuruman nie!

Botterblom ·

Ek weet nie of dit altyd rasisme ens. is nie. Ons het ‘n kwaadwillige buurman (blank), maar weens sy ouderdom kan hy maak wat hy wil, die polisie doen niks. Die hof doen niks. Die interdik help niks. Ek voel die speurders is nie lus om te werk nie. Ek onthou jare terug het ek gehoor van ‘n 100 sake in ‘n speurvrou se hangkas gevind…. Is daar dalk nie voldoende opleiding/ op toesig nie…. of plein luiheidsindroom. Al baie gehoor oor hoe speurders tot 1uur werk en dan hul kinders gaan optel en die res by wegkruip kroegies sit en drink (ongelukkig kan niks bewys word nie, so als by hoorsê) En probeer die hoof van die speurdiens in die hande kry (al het jy sy cell nr.)…

Erich ·

Die verdagtes sal heerwaaeskynlik nooit vervolg word nie. Vriende op die regte plekke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.