Bejaarde se liggaam in bad water gevind

Argieffoto: Kent Williamson

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Vrou het Saterdagmiddag op haar bejaarde ma se liggaam in ʼn bad water in haar huis in die Kraaibosch Country Estate in George afgekom.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê Isabella Kruger (77) se dogter het omstreeks 13:00 die gru-ontdekking gemaak. Kruger was nog in haar slaapklere geklee.

“Daar was geen ooglopende merke aan [Kruger] se liggaam wat vir ons ʼn aanduiding kan gee van hoe sy vermoor is nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood bepaal,” het Pojie gesê.

Hy het gesê een of meer verdagtes het vermoedelik deur ʼn venster toegang tot die huis verkry. Daar was bloedspatsels in die huis wat die polisie laat vermoed dat daar ʼn struweling was. Dit is nog nie duidelik wat uit die huis gesteel is nie.

“Die verdagte of verdagtes het met die oorledene se Honda Jazz gevlug. Die motor is later verlate op die Saasveldpad gevind. Dit lyk asof die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit van die pad af gery het. Die verdagte het die motor net daar gelos.”

Volgens Pojie word toegang tot die Kraaibosch Country Estate deur middel van ʼn valhek of geslote voetgangerhek beheer. Hy het gesê daar is egter tans konstruksiewerk in die kompleks aan die gang en daarom gaan baie mense, wat nie inwoners is nie, ook by die kompleks in en uit.

ʼn Saak van moord word ondersoek.

Maroela Media verneem twee verdagtes is intussen in verband met Kruger se moord in hegtenis geneem. Pojie kon dit nie onmiddellik bevestig nie en Maroela Media wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Yster ·

Alweer weerlose mense wat aangeval word. Wanneer gaan dit stop.

Verwey ·

Hoeveelste moord is dit nou in ‘n sogenaamde veiligheidskompleks? Sogenaamd omdat dit geen veiligheidskompkeks is as daar geen toegangsbeheer is nie. Waar gaan die rykes nou skuil?

Wat? ·

Nou wil ek weet wie dink jy is jy om te sê rykmense skuil in sekuriteitskomplekse? Kom ek lig jou gou in. Ek en my man en kind moet in n piepklein sekuriteitskompleks bly want ons kan nie n gewone huis bekostig nie. Ons 70sq is so Klein ons kan ons gatte nie draai nie. Sooswat die meeste van hierdie komplekse is. Klomp piepklein huisies met n muur om en n hek. My kind kan skaars speel. So gebruik jou bietjie verstand voordat jy net uitlatings maak oor ryk en arm. Niemand verdien om vermoor te word nie ongeag waar jy bly.

Charles ·

Jou kommentaar kom redelik gevoelloos voor. Dog maar net ek sê vir jou….

Oni ·

Swak uitlating gewees Verwey. Ryk of arm, enige moord is sinnelloos.

Verwey ·

Jammer as my kommentaar gevoelloos voorgekom het. Dit is nie die geval nie! Ons weet egter dat net gegoede mense behuising in veiligheidskomplekse kan bekostig, ek is baie bekommerd dat dié plekke besig is om “death traps” te word. Dink veral aan kinders wat gerus is omdat hul ouers in sogenaamde “veiligheidskomplekse” woon! My meegevoel aan die naasbestaandes van die vermoorde, ek is bitter onsteld en hartseer daaroor. Veiligheidskomplekse is nie meer waarborg vir jou veiligheid nie! Inteendeel!

Helene ·

My man se familie woon in n baie gegoede en veilige sekuriteits aftree oord in Durbanville. Tydens ons besoek aan hulle was dit opmerklik hoe laks die wagte by die veiligheidshek was. Dit was ons eerste besoek aan die oord en is sonder moeite of enige oortuiging wie die familie is en wat hul adres is toegelaat. Met die uittog uit die oord het die man nie eens sy kop opgelig om te sien wie deur die hek gaan nie maar, net die hefboom opgelig en daar gaan ons. Nou vra mens hoe gebeur sulke dinge soos met hierdie vrou!? Ek wag net vir n volgende keer en dan gaan ek die wag kla by die oord bestuur. Ek beskou dit as my plig.

Antwoord ·

NEE Helene, moenie wag tot ‘n volgende keer, doen dit nou DADELIK!! ‘n Volgende keer kan net dalk té laat wees.

MJ ·

Die geheim is om nie in `n sekuriteitsoord te koop waar daar wagte is nie. In Newlands, Pretoria is `n inwoner deur `n sekuriteitswag in `n aftree-oord vermoor.
Koop in `n gewone deeltitel kompleks met net sekuriteitshekke en elektriese bedrading wat aan `n alarm gekoppel is—almal hoor as iemand probeer inkom.

Kay ·

ons woon ook in n veiligheid kompleks. ..glad nie ryk nie ..die meeste van die tyd is die wagte in op die deal… ek vertrou geen wag nie . hulle is slapgat en no care.. geen trots. so dit was n goeie idee gewees .. nie meer nie ..dit gee net n vals hoop van veiligheid ..die boewe is by die hek voor by die ingaan

Catryn ·

Mense wat in hierdie oorde bly, moet al hierdie wagte laat poligraaftoetse deurgaan en stel tog ook kamera’s op in die veiligheidsoord, dit kan nie veilig wees as jy niks het soos ‘n kamera nie. Mens se “levies” is ook nog daar, wat vang bestuur daarmee aan, tog nie net vir ‘n werker of twee nie. Duidelik is die dame dopgehou daarom het hulle so maklik toegang gekry. Poligraaftoetse is wel dalk vir mense duur, maar hoeveel uitgawes gaan jy aangaan vir jou eie veiligheid. Maak gebruik van betroubare buurtwagte en kamera/oog …

Duidelik is die bloed ook dat sy vermoor is, die badwater is maar net ‘n troos om hulle bewyse te verdoesel. Selfbeskikking hieruit is ons enigste oplossing. Ons is nerens meer veilig in hierdie kommunistiese land nie.

Annie ·

Hierdie siellose monster het geen mee gevoel vir niemand nie. Sekuriteits wagte is 90% van die tyd betrokke

Jane ·

EN so word die oumense wreedaardiglik vermoor en die mense waarmee daar onderhandel moet word gooi met stoele en deel vuishoue uit. Die ander sit en giggel, en vergelyk die doodskis sage met wrede plaasmoorde en moorde op baie bejaarde weerlose mensies. Neewat … met so ‘n regering gaan ons nie ver kom nie.

Lizelda ·

Ja nee Verwey ek dink nie jyt baie mooi nagedink voor jy jou kommentaar gelewer het nie. Moorde vind oral plaas, in huise, plase, kleinhoewe EN veiligheidskomplekse. Die laaste paar weke was daar grusame moorde in Pta Oos gepleeg, in huise, kleinhoewe EN veiligheidskomplekse. Ons wat in lg. bly soos Wat? tereg gese het is meeste vd tyd al wat ons kan bekostig OF al wat ons nodig het en mense soos die tannie van 77 wat vermoor is KAN dalk nie n groot huis en tuin behartig nie. My innige simpatie aan elkeen vd slagoffers en naas bestaandes.

Wouter ·

Ek bly ook in ñ veiligheidskompleks in Durbanville SONDER ñ hekwag. Ek bly in ñ piepklein woonstel en sover baie veilig. Wat my egter bekommer is hoe agterlosig mense is. Karre en vensters oop. Patio deure oop sonder enige diefwering. In Brackenfell ons naburige dorp is baie inbrake nou deur beton mure. Die middelste een word net uitgehaal en daar is hul in jou erf. Die nuutste tendens nou.

liza ·

Indien daar konstruksiewerk in die kompleks is, is die eienaar van daardie maatskappy verantwoordelik vir die werkers en moet verseker almal wat ingelaat word, verlaat die kompleks. Die sekuriteit beheer van die kompleks is ook veronderstel om te weet presies wie nog nie die kompleks verlaat het nie. Hulle en die konstruksiemaatskappy moet verantwoordelik gehou word vir wat hier gebeur het.

AG ·

Ek het by my seun in n “veilgheidskompleks” gebly.
Die opsigter het my vertel dat mense in die kompleks gevra is om te trek aangesien hul met dwelms gesmokkel het . Daar is ook in die kompleks by mense ingebreek en hul meubels is gesteel terwyl hul by die werk was! Daar was nie wagte nie – die hek was gebel deur die inwoner om toegang te verkry!?

SARIE VAN HEERDEN ·

Baie groot misdaad”base” kan bekostig om in duur veiligheidskomplekse te woon vanwaar hul hul “besigheid” kan bedryf, soos wel die geval was in een die plekke in Pretoria. Blykbaar is die antwoord dat jy woon in ‘n kompleks wat nie veiligheidswagte het wat die in- en uitgang van voertuie beheer nie. Selfs DIT is nie ‘n antwoord nie want daar was ‘n geval waar daar met ‘n groot voertuig ingegaan het maar in die kattebak was die inbrekers! Net binne losgelaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.