Bejaarde sterf in brand by ou hospitaal

Die brand by die ou provinsiale hospitaal in Volksrust. (Foto: Jan-Henk van Vuuren/ Watco Emercency Medical Service) 

Die polisie in Mpumalanga doen ’n geregtelike doodsondersoek nadat ’n bejaarde man Maandagoggend in ’n brand by die ou provinsiale hospitaal in Volksrust gesterf het. Dié hospitaal was ten tyde van die brand as ’n skuiling vir werkloses, bejaardes en pensioenarisse gebruik.

Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het die brand vroegoggend uitgebreek waarna paramedici na die ou hospitaal ontbied is.

Jan-Henk van Vuuren van Watco Emercency Medical Service het aan Maroela Media gesê die nooddienste het die eerste oproep net voor 05:00 ontvang.

Die skade wat gedurende die brand aan die ou hospitaal aangerig is. (Foto: Jan-Henk van Vuuren/Watco Emercency Medical Service)

Volgens Hlathi het die nooddienste by hul aankoms op die toneel die man, vermoedelik 70 jaar oud, in sy kamer aangetref. Die slagoffer was in dié stadium bewusteloos en is later op die toneel dood verklaar.

Twaalf kamers is in die brand beskadig, het Hlathi gesê.

Die oorsaak van die brand is in dié stadium onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan ·

Ter wille van beter Afrikaans, die term “pensioenaris” dui op ‘n persoon wat pensioene administreer. ‘n Afgetredene wat ‘n pensioen ontvang is ‘n pensioentrekker.

Dries ·

Jan, ek is baie seker niemand was confused oor wat bedoel word nie.

Cherokee ·

Hallo Jan.. terwyl ek dit altyd waardeer wanneer mense moeite doen om Afrikaans reg te gebruik, verskil ek met jou in hierdie geval. Moet nie verward wees met die Nederlandse gebruik daarvan, (terwyl selfs in Nederlands twee betekenisse daaraan geheg word). In Afrikaans beteken ‘pensionaris’ bloot ‘gepensioneerde’. Wanneer jy mense in hierdie forum oor swak taalgebruik betig, sal jy Maroela Media as opposisie het, met my as ondersteuner. Jou regstellings sal as ‘n norm nie eens geplaas word nie. Die Herman-tipe antwoord getuig ook daarvan.

Herman ·

Cherokee as jy die tipe is wat daarvan hou om afrikaans reg te gebruik, hoekom is jou skuilnaam cherokee? Daar het iemand sy lewe verloor nou pla goeie afrikaans gebruik jou. Watter tipe is jy dan? Waar gaan mense se waardes heen as hulle meer gepla is oor n woord as n mens se lewe.

Gerrie ·

Jan, as ons dan nou soooo suiwer wil wees – my HAT beskryf ‘pensionaris’ as 1.a. Regsgeleerde wat as raadsman van die Nederlandse regering opgetree het. b. President van die Bataafse Republiek. 2. Iemand wat ‘n pensioen ontvang; gepensioeneerde.

4ntj13 ·

Sjoe! Dís nou interessant! Miskien kan Maroela vir ons ʼn reeks begin oor ou terme se ou gebruike. Die eerste pensioenarisse was dus dalk die regsgeleerdes wat die ou Nederlandse regering betaal het. Waar kom “salaris” vandaan, byvoorbeeld? Hoe het hierdie konsepte aanvanklik teenoor mekaar afgespeel? En wat vertel dit vir ons van die aanvanklike setlaars aan die Kaap?
Baie, baie dankir vir hierdie kommentaar!!

4ntj13 ·

Werkloses, bejaardes en gestremdes saam in een, baie ou gebou? Dit klink vir my na moeilikheid soek, en ek hoop ʼn wakker aspirant kurator kan dit namens ons ou mense behoorlik opvolg en die skuldiges van hul troontjies af forseer.
Wuhan se kits-hospitale sou baie beter in SA doen as hulp om behuisingsnood te verlig, en aansteek-risiko’s van selfs tering te verminder, as om kortsigtige veldhospitale op te rig. Dis báie netjieser en ekonomieser as HOP-huisies, en om ¾ van jou mure met ander te deel is minder erg as om jou skottelgoed en selfs zol met 10 ander te moet deel…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.