Bejaarde sterf in grasdakbrand

Met brandweerdienste se aankoms op toneel was die huis reeds in vlamme gehul (Foto: Verskaf)

’n 75-jarige vrou is dood toe ’n brand Maandagoggend in ’n grasdakhuis in Moreletapark, Pretoria, uitgebreek het. Die vlamme en rook het die vrou oorval voordat sy uit die huis kon ontsnap. Die huis is heeltemal in die brand vernietig.

Brandweerlede het byna sewe uur lank gespook om die brand in bedwang te bring.

Marchant Els van Bull Security vertel hy is net na 09:00 na die brandende huis in Hesketh-weg, Moreletapark, ontbied. Hy het gehoor daar is iemand in die huis en het ’n venster se raam oopgekap en diefwering afgebreek om in die huis te kom.

Els het alles in sy vermoë gedoen om die vrou te probeer red, maar die erge rook en vlamme het sy reddingsplanne gekniehalter.

Die vrou se liggaam is eers gevind nadat die ergste vlamme geblus is. Dit kom voor asof sy alleen in die huis was.

Die brandweer het byne sewe ure lank gespook om die brand in bedwang te bring (Foto: Verskaf)

“Ek kon nie ver in die huis ingaan nie en moes ongelukkig net daar in my spore omdraai. Anders sou die rook en vlamme my ook oorweldig het,” vertel Els.

Volgens Els het vlamme blitsig versprei en die grasdak het plek-plek ineengestort.

Tshwane-nooddienste se brandweerlede het net voor 09:30 op die toneel opgedaag en die brand begin blus. Die brand is egter ná 16:00 eers volledig geblus.

Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog nie bekend nie (Foto: Verskaf)

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, is die brandweerlede ingelig omtrent die vrou wat in die huis vasgekeer is. Hulle kon dit egter nie waag om die huis binne te gaan nie, omdat die dak begin inmekaarstort het.

“Die brandweerlede moes verwoed keer dat die brand na aangrensende huise versprei. Die brand het toe reeds na ’n nabygeleë grasdaklapa op dieselfde erf versprei. Die brandweer kon daarin slaag om die vlamme in bedwang bring,” bevestig Mabaso.

Drie lede van die publiek en een veiligheidsbeampte het op die toneel gehelp om die brand te blus. Els sê hy het ook heeldag op die toneel gebly om hand by te sit. “Ek het gevoel dit is my plig om te help,” het Els gesê.

Volgens Mabaso moes een brandweerlid suurstofbehandeling vir rookinaseming ontvang.

Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Skappie ·

Sterkte aan die gesin en vriendekring van die tannie wat oorlede is in die brand. Mag onse Liewe Jesus julle deur hierdie moeilike tyd dra.

Rooikoos ·

En die brande duur voort. Dis byna ‘n daaglikse verskynsel…

Hendrik ·

Is dit nie snaaks nie…? Al die sagte teikens… omtrent elke dag een…

Oom Hennie Pennie ·

Tragies, Innige meegevoel aan die naasbestaandes

AH ·

Grasdak, pragtig maar dodelik…..so jammer oor die familie se verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.