Bejaarde sterf maand ná aanval

Hendry Brown (Foto: Verskaf)

Hendry Brown is Dinsdagoggend in ʼn hospitaal dood nadat hy, sy vrou en sy seun in November op hul plaas buite Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga met ʼn panga en byl aangerand is.

Albert Gryvenstein van die organisasie Bossies Community Justice het Hendry se dood aan Maroela Media bevestig.

Brown is tydens die voorval vermoedelik met ʼn byl in die gesig gekap en was sedertdien in ʼn koma in ʼn hospitaal in Mbombela. “Hy het nooit wakker geword nie,” sê Gryvenstein.

Maroela Media het vroeër berig vier verdagtes het Hendry (77) en Martie (74) vroeg November met ’n byl en panga in hul plaashuis op die Uitkyk-pad naby Mabalel aangeval. Hul seun Tommy (52) het wakker geword en met een van die aanvallers begin stoei.

Tommy is in die proses in die been geskiet en het ook ernstige beserings aan sy skedel en kakebeen opgedoen. Die aanvaller is ook gewond. Die polisie het die gewonde aanvaller se liggaam sowat 300 m van die toneel gevind waar hy beswyk het.

Volgens Gryvenstein gaan dit intussen onder omstandighede beter met Martie en Tommy. “Martie wil net nie teruggaan plaas toe nie. Sy was al ʼn paar keer daar, maar sy sê sy kan nie daar slaap nie.  Tommy moet nog rekonstruksiewerk aan sy gesig ondergaan,” sê hy.

Die egpaar woon die afgelope 53 jaar op die plaas.

Martie Brown (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.