“Sy was lief vir almal en almal was lief vir haar. Sy het mense soos ʼn ma en ʼn ouma versorg. Ek weet nie waar sy die krag vandaan gekry het nie, maar sy was ʼn lewenslustige mens wat altyd aan die gang was.”
Só praat Elona van der Nest oor Ella Willemse (83), haar ma se peetma, wat Donderdagoggend vroeg in die waakeenheid van die Rustenburgse provinsiale hospitaal dood is nadat sy ʼn week gelede in die middernagtelike ure op ʼn kleinhoewe buite die stad oorval en wreed aangerand is.
“Sy was baie goed vir almal en het byvoorbeeld mense met kanker tot die dood toe versorg. Sy het ʼn hart van goud gehad en die lekkerste kos gemaak,” onthou Van der Nest van die kinderlose weduwee wie se man, Marthinus (Martiens) Willemse, op 14 April 2005 dood is, ʼn week voor sy 76ste verjaardag. “Sy het almal ‘my skat’ genoem en was ʼn mamma en ouma vir almal.”
Al was Willemse reeds 83 jaar oud, het sy geen oomblik lank stilgesit nie. “Sy was gedurig in haar tuin besig met plantjies,” vertel Van der Nest. “Tot met die aanval het sy nog wasgoed gewas en gewerk. Sy het nooit sit en niks doen nie.”
Van der Nest sê dis moeilik om te weet van hoeveel Willemse in die week tussen die aanval en haar dood bewus was. “Ons het wel ʼn reaksie uit haar gekry, soos toe sy een keer toe ons die naweek by haar was, my hand vasgehou en gedraai het tot sy my hand in hare kon toevou.
“En toe ek Sondag vir haar sê ons moet nou gaan, het sy haarself probeer optrek en geskop en tekere gegaan.”
Die hospitaal het Willemse voor besoektyd medikasie gegee om haar rustig te hou, vertel Van der Nest, en te keer dat sy haar ooreis. “Maar die eerste aand, Vrydag, toe ons daar was, het hulle gesê ons moet met haar praat. Saterdag en Sondag het hulle weer gesê sy moenie beweeg nie.”
Willemse, wat op haar dag ʼn skoonheid was wat modelwerk gedoen het, het die laaste paar jaar meer as haar deel van hartseer en terugslae beleef, sê Van der Nest.
Sy was vroeër jare hoof van die SA Vrouefederasie in Pretoria en het in hul gebou gewoon, maar ná haar aftrede het sy en haar man na ʼn aftreeoord in Pretoria-Tuine verhuis.
Destyds het sy haar pensioen met naaldwerk aangevul en klere vir allerlei geleenthede gemaak, maar ná haar man se dood het sy by ʼn boer, Martiens Graham, en dié se vrou, Bettie, op Phalaborwa gaan woon.
Ná ʼn geldelike terugslag het die drie bejaardes na die Graham-familieplaas by Derby getrek waar Willemse se ongetroude broer, Willem, ook later kom woon het. Nadat Martiens enkele jare gelede dood is, het Bettie by haar kinders in die Kaap gaan woon en Willemse en haar broer alleen op die plaas agtergelaat.
Toe Willem twee jaar gelede in ʼn skietongeluk gesterf het, het Willemse nie meer kans gesien om alleen daar te woon nie. Sy het na haar susterskind en dié se man op die hoewe buite Rustenburg verhuis omdat sy gemeen het sy sou veiliger daar wees.
Maroela Media het vroeër berig Willemse was verlede Donderdag alleen tuis toe drie mans omstreeks 03:00 toegang tot die huis verkry en haar oorval het. Hulle het Willemse met ʼn ysterpot geslaan en haar vinger gesny en gekneus om haar ring in die hande te kry. Sy het ernstige kop- en gesigbeserings opgedoen.
Van der Nest vertel dit was Willemse, wat vir haar soos ʼn ouma was, se wens om op die familieplaas by Derby in dieselfde familiebegraafplaas as haar ouers begrawe te word. Die uitgebreide Graham-familie hou gereeld al om die drie jaar ʼn saamtrek daar wanneer hulle speletjies speel, boeresport hou, kampeer op die plaas en kuier. Die Sondag word altyd afgesluit met ’n kerkdiens op die plaas.
Enigeen wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan ao. Jannie van der Walt by 082 772 9226 bel.
Dis verskriklik om te dink hoe hul die ou mense uitmoor..my hart gaan uit na die tannie se geliefdes.Die Here sluimer of slaap nie.
Mag God met ons almal wees in die tyd
Ek stem saam. Ons God slaap nie. Ons verstaan nie alles nie maar HY bly Koning.
Dit is verseker: Ons land bloei, bloei, bloei!!!
Siellose honde !
Lafaards! Mag hul die wreedste dood sterf. Watse goed kom drie teen een en val ‘n 83-jarige VROU aan?
1ste die tannie was nie op kleinhoewe aangeval nie, in sekuriteits kompleksie reg agter my komplex waar ons woon. Rustenburg waterfall east en reg Langs hul nog n sek komplex. Geen buite Rustenburg dis in Rustenburg dorps gebied. Die Er 24 wat gehelp het bly Huis van my af.
Baie dankie Morne vir die berig en dat jy ons as familie die mooi van Tannie Ella kan onthou. Ons gaan haar baie mis .
Hoop dat die polisie ASAP ‘n arrestasie kan maak. Die mense is nog op vrye voet..
Ai sterkte hoe mis ek daai byeenkomste saam die familie as kind en my ouma en Tannie Bets Oom Willem en Tannie Anna baie sterkte aan die familie