Bejaarde sterf toe hy glo in see hartaanval kry

Storm_see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Argieffoto: Christo Brits

ʼn Bejaarde man (75) van Johannesburg is Sondagoggend dood, vermoedelik aan ʼn hartaanval, in die see by ʼn strand in Southbroom op die KwaZulu-Natalse suidkus.

John Nicholas, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Port Edward, het gesê die NSRI se spanne in Port Edward en Shelly Beach is om 11:13 deur die polisie se soek-en reddingspan in kennis gestel van ʼn verdrinking wat plaasvind op Umkobistrand in Southbroom.

Die NSRI, polisie, lewensredders en verskeie ambulansdienste het hulle na die toneel gehaas.

Volgens Nicholas het die polisie se reddingsduikers die man uit die see gebring en kardiopulmonêre resussitasie is toegepas deur ʼn verpleegkundige wat toevallig op die toneel was.

Dié pogings is deur die paramedici oorgeneem, maar die man is ongelukkig op die toneel oorlede.

“Daar word vermoed, maar dis nie bevestig nie, dat die man ʼn hartaanval gekry het terwyl hy geswem het.”

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charlotte ·

Rus in vrede Hennie. Jy was n wonderlike man. Ons bid vir vertroosting vir jou vrou en kinders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.