Bejaarde sterf toe bakkie bo-op hom beland

Die ongeluk het op die N3 by Pietermaritzburg gebeur. Foto: ER24

ʼn Bejaarde man is dood en sy vrou ernstig beseer toe ʼn voertuig bo-op hulle beland het op die N3 naby die Peter Brown-afrit in Town Hill, Pietermaritzburg.

Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, sê hul paramedici en dié van ander nooddienste het Vrydag omstreeks 08:00 op die toneel aangekom toe hulle ʼn bakkie op sy sy aantref en nog ʼn voertuig met skade ʼn entjie verder.

Omstanders het vertel dit het gelyk asof die ligtemotorvoertuig onklaar geraak het kort voor die ongeluk gebeur het, sê Vermaak. Albei die bejaardes wat in dié motor onderweg was, het reeds uit hul kar geklim toe die bakkie omgeslaan en bo-op hulle beland het.

Teen die tyd dat nooddienste op die toneel aangekom het, het ʼn insleepdiens reeds die bakkie van die egpaar verwyder. “Ongelukkig was die man se beserings noodlottig en niks kon vir hom gedoen word nie,” sê Vermaak. “Hy is later op die toneel dood verklaar.”

Sy vrou is eers vir veelvuldige beserings behandel, waarna daar met haar hospitaal toe gejaag is.

Die bestuurder van die bakkie het net geringe beserings opgedoen en is ook na ʼn hospitaal gebring.

Vermaak sê die presiese omstandighede van die ongeluk en wat daartoe aanleiding gegee het, is nog nie bekend nie. Wetstoepassers was op die toneel om die voorval te ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PJC ·

Roekelose bestuurders is besig om ń groter probleem te word as enige ander misdaad. Dit lyk egter nie of enigiemand iets omtrent dit gaan doen nie. Mense in SA dink blykbaar dit is hul reg om te doen net wat hul wil op die paaie en ongelukkig kom hul skotvry daarvan af.

IK ·

Stem saam PJC. Een van daardie dubbelkajuite volgens die foto. Moet dus nie verder wonder . . .

juan ·

Baie jammer vir die vrou wat haar man verloor het, maar daai ou hiluxe het maar n neiging om vir niks te rol nie.

Karolis ·

Hoop nie die insleepdiens se operateur word nou aanspreeklik gehou nie. Mag mos glad nie jou medemens help op ongelukstoneel tensy jy een of ander mediese beampte is nie.

Andre ·

Altyd jammer om te hoor mense het gesterf, veral as dit is as gevolg van roekelose bestuurders….dit is natuurlik as gevolg van n gebrek aan Wetstoepassing deur die verskeie owerhede, hul skitter in hul afwesigheid as dit kom by bewegende oortredings en vele meer. Eintlik het hul n reaksie mag geword, reageer net as daar n ongeluk is, verder is hul nêrens besig met wetstoepassing nie..swak.
Die wet sê voertuie mag nie beweeg word as iemand beseer is nie, dit is nou voertuie wat betrokke is, voordat daar nie behoorlike opmetings gedoen is nie. Indien niemand beseer is nie, staan voertuie vir ure in die pad om die verkeer te ontwrig, en niemand (verkeerspolisie) sal die voertuie skuif nie. Insleep dienste wat voertuie verwyder voor die ongelukstoneel ondersoek is, is besig met dwarsboming van die gereg, en moet sekerlik daarvoor vervolg word…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.