Bejaarde, twee wagte beroof in plaasaanvalle

(Argieffoto ter illustrasie: Maroela Media)

ʼn Bejaarde vrou en twee sekuriteitswagte is in twee voorvalle, minder as ʼn dag uitmekaar, op afsonderlike plase in die Harrismith-omgewing in die Vrystaat aangeval en beroof.

Volgens ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, is die twee sekuriteitswagte, albei in hul 20’s, Maandag omstreeks 23:00 op ʼn plaas digby Harrismith deur vier mans oorrompel. Die mans was gewapen met vuurwapens, ʼn spies en ʼn mes.

“Die mans het na bewering by ʼn stoorkamer ingebreek en ʼn kragopwekker, sweismasjien, gereedskapkis, slypmasjien en braairooster gesteel,” bevestig Mophiring.

“Die wagte was ongedeerd.”

Dinsdag omstreeks 16:15 het ʼn aanvaller ʼn 77-jarige vrou op ʼn plaas in dieselfde omgewing oorval en besteel.

“Die vrou het lopende water buite haar huis gehoor. Sy het uitgegaan om ondersoek in te stel en gevind dat die water van die geiser afkomstig is.

“Sy is terug in die huis en reguit na haar slaapkamer toe. Toe sy die slaapkamer verlaat, is sy deur ʼn man gekonfronteer. Die man het ʼn mes by hom gehad en het vuurwapens en kontant geëis.”

Volgens Mophiring het die verdagte glo drankbottels gebuit en daarna van die toneel gevlug.

ʼn Saak van sakeroof en huisroof word afsonderlik ondersoek.

“Die polisie vra dat enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, om kol. Ben Bolsiek by 082 466 8530 of kapt. Ramakaea Kokonyana by 072 329 3974 te bel. Die Stop Misdaadnommer kan ook by 08600 10111 geskakel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Dit gaan my verstand te bowe dat mense nog steeds nie al die waarskuwings om nie alleen uit hulle huise te gaan wanneer hulle water buite hoor loop, ter harte neem nie! Dit is een van die maniere wat aanvallers gebruik om hulle na buite te lok.

Dit blyk ook uit die artikel dat die vrou terug in haar huis in is sonder om die deur te sluit……

Marius

Plaasboere moet meer op hul hoede wees. Dit is nie meer die RSA nie. Die President ontken mos dat daar iets soos plaas aanvalle is ?

wessel

wagte…hulle wag vir hulle kos…

Swerwer

Ongelukkig besef die meeste mense nog nie dat ons in ‘n terroristiese gebaseerde land lewe en moet oorleef nie. Cele en sy aanhangers is die skuld vir al hierdie gemors in ons land.

Grassie

Die trant van kommentare oor plaasaanvalle is dikwels dat dit eintlik die slagoffer se eie skuld is dat hy/sy aangeval is. Mense moet onthou – die boere plant nie mielies in hul slaapkamers nie en hou nie vee aan in die sitkamer nie. As boere hulself heeldag in hul huise toesluit en met ‘n geweer by ‘n venster waghou, wie gaan boer?
Daar word by byna elke berig gevra dat die lesers moet help met moontlike inligting maar daar word nooit ‘n beskrywing van die misdadigers gegee nie. Dit is seker ‘n menseregteskending as iemand se ras en beskrywing verstrek word.