Bejaarde van Bfn kritiek na hameraanval

Genl. Fickstraat

Genl. Fickstraat in Dan Pienaar, Bloemfontein waar Nidia Albertse in haar huis oorval is. Foto: Google Maps

ʼn Bejaarde vrou van Dan Pienaar in Bloemfontein wat Saterdag in haar slaapkamer oorval en met ʼn hamer aangerand is, is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

Nidia Albertse (70) het ernstige beserings opgedoen nadat haar aanvaller haar verskeie kere met ʼn hamer oor die kop geslaan het terwyl sy geslaap het.

Eben Hattingh, woordvoerder van Mediclinic Bloemfontein, het Maandag aan Maroela Media gesê Albertse word steeds in die hospitaal se waakeenheid behandel. “Sy word geventileer en haar toestand is onveranderd. Sy het ernstig hoofbeserings opgedoen en is kritiek, maar stabiel,” het hy gesê.

Charl Hauptfleisch, Albertse se swaer, het vertel die aanvaller het by ʼn oop deur ingeglip wat vir die hond oop gelos is. Hy het die slapende Albertse in haar bed drie of vier keer met ʼn hamer oor die kop geslaan.

Albertse se seun, Willie en sy vrou Amanda, wat tydelik by Albertse woon, het ʼn rumoer vanuit hul kamer gehoor en gaan ondersoek instel. Toe Albertse se kamerdeur oopgaan, het Amanda en die aanvaller mekaar in die oë gekyk voordat hy op die vlug geslaan het. Hy is later die dag deur die polisie in hegtenis geneem.

“Willie het my gebel om te sê Nidia is aangeval en hy het haar in ʼn plas bloed op haar bed aangetref. Hy het my gevra om ʼn ambulans te bel. Dit was so onwerklik,” het Hauptfleisch gesê. Volgens hom het die aanvaller dieselfde dag ook by twee ander huise in die buurt ingebreek en is van die gesteelde goedere in sy besit gekry.

Hy het gesê die neuroloog wat Albertse behandel, is tans tevrede met haar toestand, maar hulle sal eers later kan bepaal of sy permanente breinskade opgedoen het. “Die temporale lobbe is beseer en dus is ʼn moontlikheid dat haar motoriese vaardighede beskadig kan wees. En hy het haar nie liggies getik nie, hy het haar hard geslaan. Sy het verskriklik seergekry,” het hy gesê. “Dit is so hartseer, want hy kon net gevat het wat hy wou en gevlug het. Sy het geslaap, dit was nie nodig om haar te slaan nie.”

Hy het gesê sodra Albertse herstel het, sal die familie na moontlike opsies kyk vir haar toekoms soos om moontlik na ʼn veiliger woning te verhuis.

Intussen het kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van huisbraak word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

tina ·

Deesdae as ‘n mens aangeval word met die oog daarop om dood te maak, lees jy net dat ‘n saak van huisbraak word ondersoek en word glad nie deur die woordvoerder van polisie, genoem ” ‘n saak VAN POGING tot MOORD EN HUISBRAAK en ROOF (wat in sommige gevalle, sou die slagoffer oorleef, dan ‘n moordsaak wees).
So asof ‘n mens se lewe nie kosbaarder is!!

Winston ·

Hoekom slaan jy n mens met n hamer as jy wil steel? Twak. Dis net suiwer poging tot moord.

Pixie ·

Sterkte Nidia. Spoedige volkome herstel.
Ek woon ook alleen, 66 jaar oud, geen kinders of familie net my honde-kinders en my Baby Browny pistool. Ek is so jammer dit het met jou gebeur. Dankie Vader jy het nog kinders. Ek is trots op julle om julle moeder by te staan, Met liefde.

Pixie ·

Sterkte Nidia. Volkome herstel word jou toegebid.
Mag die Here jou hierdeur dra met liefde.

Izzy ·

Kan iemand by die polisie of wat met die regstelsel werk, duidelikheid gee …. WANEER word ‘n geval dan geklassifiseer as POGING TOT MOORD?

tina ·

Izzy..as ek dit nou reg het…dit word poging tot moord genoem wanneer die slagoffer die aanval oorleef…sodra die persoon sterf as gevolg van die aanval dan word dit ‘n moord saak.

Se Maar Net ·

Ek se dit weer!!! Huisbraak om dood te maak. As die lid net wou plunder of steel, hoekom tot die uiterste daad gaan om die arme ou tannie vir die dood te slaan met ‘n hammer? Want die doel was om dood tr slaan of erenstig te beseer. Maroela gaan seker weer nie die kommentaar van my plaas nie. Net so word mense daagliks oor die hele land so erg mishandel.

Se Maar Net ·

As daar dan geroof gaan word, Hoekom mense so aanrand??
Hoekom dan ondersoek instel na roof?? Die doel was dan om te moor??

pixie ·

Se Maar Net Ek stem saam. Die arme vrou met ‘n hamer slaan. Skokkend. Ek woon ook alleen, 66 jaar oud, het honde-kinders en wanneer dinge WARM raak PRAAT my Baby Browny. Dit is net deur die Here se genade dat ek nog nie aangeval was nie. Dankie vir Nidia se kinders wie by haar staan. Soek julle nie dalk ‘n stiefma wat op soek is na liefde en beskerming nie? Ek vra maar net. Liefde en sterkte aan almal,

Moeggepraat ·

Ek sal baie graag wil weet wat doen die inwooners van Dan Pienaar in Bft nou na die aanval in hulle dorp?

Betzie ·

Antjie Krog kan dalk nou opmerk dat hierdie dame eerder gemeenskapsdiens moes doen op dié koue , nat Saterdag . Soos pannekoek bak in n swart woonbuurt .

Jaco van Heerden ·

Mense, hierdie is my ma se sussie – sy is soos ‘n 2de ma vir my! Ek woon al 10 jaar in Australië nadat my vrou ook aangeval is. Gister, die 29ste Junie ‘n jaar gelede het ek saam met haar 4uur die oggend langs my oom Willie se sterfbed gestaan. Nou weet ek nie. Ek is 14,000km vêr en ek wil daarheen gaan. Ek is woedend. En hartseer. Ek kannie meer anders as om te haat nie. jammer.

Willie Albertse ·

Ek is die seun van Nidia Albertse wat in die bogemoemde berig verskyn. Die verdagte is so arrogant dat hy my in die oë kyk en my vanuit die Polisievoertuig sit en koggel. Jammer! Ek het geen simpatie met `n mens wat die tipe van gedrag openbaar nie. Dis absoluut barbaars en net `n bewys dat hy geen skuldgevoelens het nie.

As jy honger is of iets tekort kom…vra!!! Moenie weerlose oumense aanval nie jou lafaard!!!

Cornelia ·

Dit is net weer ‘n teken dat my Ma nou die regte besluit gaan neem om eerder die huis op te gee, dit gaan hartseer wees, maar haar veiligheid is prioriteit. Ons huis is daar naby en sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.