Bejaarde veg om lewe ná hy rower doodskiet: ‘My man het my lewe gered’

Elsie en Louis Trichardt. Foto: Verskaf

Elsie en Louis Trichardt. Foto: Verskaf

Die bejaarde man wat Maandag ʼn vermeende rower in die oprit van sy huis in Roodepoort doodgeskiet het, is steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy ook tydens die roof in sy maag geskiet is.

Louis Trichardt (76) is omstreeks 12:00 buite sy huis in Horison geskiet nadat twee mans probeer het om hom en sy vrou, Elsie (75), te beroof. Elsie het Donderdag aan Maroela Media gesê haar man het ná die voorval twee operasies ondergaan om ʼn gedeelte van sy dikderm te verwyder wat deur die koeël beskadig is en die wond weer skoon te maak.

Trichardt is steeds onder verdowing in die trauma-waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal en word deur ʼn asemhalingmasjien ondersteun. “Hy het voorheen al ʼn hartklepvervanging gehad en twee pasaangeërs is vir hom ingesit. So, dit is noodsaaklik dat sy hart nou ondersteun word,” het Elsie gesê. “Maar ons hou aan bid dat hy sal herstel. Die Here het hom al deur diep waters gelei. Ek glo Hy sal hom help om ook weer deur hierdie donker tyd te kom.”

Louis Trichardt in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Louis Trichardt in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Elsie het gesê sy en haar man het van die winkel af by die huis gekom en sy het uitgeklim om die hek toe te maak nadat hulle by die oprit ingery het. “Die volgende oomblik toe staan hier twee gewapende rowers voor my. Hulle het geskree ‘Give us your jewellery!’ en toe gooi hulle my op die grond. Ek het vreeslik keel opgesit en die volgende oomblik het ek net skote hoor afgaan,” het sy gesê.

Volgens Elsie het haar man vermoedelik gesien hoe die rowers haar oorval en hy het sy vuurwapen uitgeruk wat hy altyd saam met hom in die motor gehad het. Hy het een van die rowers drie keer geskiet en die man is op die toneel dood. Die rowers het teruggeskiet en Trichardt is in die maag getref. Die ander rower het in ʼn wit VW Golf gevlug.

Elsie het skraapplekke en kneusplekke opgedoen tydens die voorval. “Ek lyk sommer naar, my gesig is potblou. Maar ek is orraait,” het sy gesê. “Ons het agterna my trouring in die rower wat doodgeskiet is se hand gekry. Ek was bly dat ek nie die ring kwyt is nie, want dit het groot sentimentele waarde vir my.”

Intussen word Elsie deur haar vier kinders ondersteun ná die traumatiese voorval. “Dit was vreesaanjaend. Dit het gevoel of die skote hier bo-oor my gaan en agterna het ons skrapnel in my klere gevind. Maar my man sal altyd my held bly, hy het my lewe gered,” het sy emosioneel gesê.

Ao. Nonhlanhla Khumalo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van poging tot moord en gewapende roof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

alida ·

Die arme oom sal seker nou aangekla word van moord – hoe dan nou anders?

Sanet ·

…Nee ek dink nie so nie. Hulle se ‘n saak van gewapende roof en poging tot moord, bedoelende poging tot moord op die oom wat nou veg vir sy lewe. Hy het opgetree in selfverdediging.

Fourie ·

Stem saam Sanet, die oom sal ok wees, dis maar ook net hoe die ondersoek moet loop, maar die oom sal nie aangekla word nie, nee wat, hys ‘n held en hoop ek hy raak gou weer beter.

hartjieding ·

Ek stem saam die liewe heer het na hulle gekyk en beskerm sal die oom in ons gebede hou weet hy sal vinnig herstel

bets makkink ·

Sterkte aan julle en ek bid dat jou man volkome sal herstel.

Bruno Stef ·

Louis mag die HERE jou beskerm en volkome laat herstel.Die vuilgoed het julle natuurlik vanaf die inkopie sentrum agtervolg en as n sagte teiken gesien.Elsie ek ken julle nie maar as n mede bejaarde alle voorspoed aan julle en die kinders bly paraat en wees bewus van wat om jou aangaan ten alle tye.Die blinde sambok het die skuim se bravade op die die mees verdiende manier bewerkstellig.

Jan ·

Hulle is lafaards om die weerlose ou mense te target. Die regering sal steeds aanhou om te ontken dat ons probleme met misdaad het. Weerlose mense moet meer paraat wees en asseblief rondom hulle waarneem wat aangaan. Sterkte oom, ek bid vir oom en die tannie.

Piet Pompies ·

In die aangesig van sy eie bloed het die rower die duurste prys betaal. Sterkte aan die gesin wat die trauma van ‘n roof moes ervaar. Nog een rower minder en kennis word geneem deur ander toekomstige rowers, die publiek daar buite is nie meer ‘n sagte teiken, ek moet ligloop.

neelsie ·

Moenie n teiken word nie , baklei terug.
Hy het gedoen wat hy moes doen.
Alle beterskap. Hoop jy sal gou herstel.

magriet ·

sterkte aan die gesin. ek bid dat die oom volkome sal herstel.

Peet Schabort ·

Louis Trichardt die Voortrekker was ‘n yster en so ook sy naamgenoot. Beide se vuurwapen was/is altyd byderhand. Dis die verskil tussen lewe en dood.
Sterkte Louis en Elsie en gou gesond word.

hartjieding ·

Dis net hartseer om te dink wat as die oom nie sy geweer by hom gehad het nie en hulle het die twee ou mensies dood gemaak vir n paar stukke juwele wat sou dan van die saak geword het sou hulle die moordenaars gesoek het en toe gesluit het of sou hulle dit net daar gelos het ek wonder?

Tertia Wilken ·

Ek is Tertia die dogter van Louis en Elsie Trichardt …. Ons gee alle eer aan Jesus dat my ma en pa nog lewe asook aan al die familie en vriende en Milpark hospitaal in besonder Dr Moeng en personeel wat hulle so ondersteun. My pa en ma is ysters ons glo en vertrou dat hul volkome gaan genees. Dit is so traumaties vir ons kinders Argyle, Zeta-Lee en Rixon om hierdie saammet ons te beleef, al die maatjies by die skool Laerskool Muldersdrif weet en ondersteun hulle. Die kinders en my man Bennie het kla besluit dat oupa en ouma nie weer terug gaan na hul huis nie, maar dat hul n veiliger woonplek plek benodig … familie en vriende jul is so belangrik vir ons in hierdie tyd …. dankie ook vir jul ondersteuning en mag elkeen van jul ook meer parraat wees in die toekoms … baie liefde!

lorayne ·

Tertia Wilken, jou Pappie kan in ‘n beter plek wees nie! My seun was tot ‘n week gelede vir meer as ‘n maand in Milpark Trauma Eenheid in ICU. Ons het net die beste sorg en ondersteuning gekry! Ek bid hom ‘n spoedige suksesvolle herstel toe . . . BAIE sterkte ook vir julle en pas jou Mammie mooi op!

Des jelliman ·

Hulle is te sleg om eerlikke werk te doen en di sagte teikens aan te val baie sterkte vir julle

Teske ·

Baie dankie vir almal se omgee, liefde, ondersteuning en gebede gedurende hierdie tyd. Ons wardeer dit ongelooflik baie!
Oupa is besig om elke dag bietjie sterker te word en hy maak al sy oë oop!

Janet Makkink ·

Praying for a speedy recovery, this couple has a heart of Gold, we visited my niece who lived with them last year September, they welcomed us with such great hospitality and love, we are shocked at this news, sending our thoughts and prayers to both of them and their family. XJanet & family, UK

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.