Bejaarde veg verbete terug tydens aanval op plaas

Argieffoto: Lorraine Claasen

Jaap de Beer, die 81-jarige man wat Vrydagaand in sy woonstel op ʼn plaas buite Groblersdal in Limpopo aangeval en beroof is, is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan.

Maryke Cromhout (27), De Beer se kleindogter, het aan Maroela Media gesê hy het nog pyn en is getraumatiseerd, maar kan nou rustig by sy gesin in Pretoria aansterk.

“My oupa het eers op 78 afgetree en het in sy laaste werk as ʼn voorraadkontroleerder vir ʼn onderneming op Groblersdal gewerk. Hy woon sedert 2013 op die plaas buite die dorp waar die aanval plaasgevind het,” het Cromhout gesê.

Volgens Cromhout het vyf verdagtes Vrydagaand toegang tot die plaas, waarop ook ʼn paar ander huise geleë is, toegeslaan.

Drie van die vyf aanvallers het De Beer omstreeks 21:10 in sy woonstel oorrompel en aangedring op geld en vuurwapens.

“Ek weet nie waar hy die krag vandaan gekry het nie, maar hy het met twee van hulle gestoei. Dit terwyl hy rugprobleme het. Hulle kon hom nie plat kry nie. Hulle moes later sy hande met kabelbinders en sy voete met sy gordel vasmaak,” het Cromhout gesê.

Die aanvallers het De Beer in sy woonstel toegesluit en daar agtergelaat voordat hulle met sy elektriese skeermes, ʼn selfoon ter waarde van R200, ʼn pistool, ʼn beursie met bankkaarte, bottels drank wat hy deur die jare as geskenke gekry het en ʼn kosblik vol toebroodjies van die toneel gevlug het.

“My oupa sê dit het soos tien minute gevoel wat hy daar in sy woonstel gelê het toe die plaaseienaars se seun tot sy redding gekom het.”

Cromhout het gesê die plaaseienaar se seun en werkers het dadelik na De Beer se woonstel gehaas toe hulle besef het daar is vreemdelinge op die plaas. Hulle moes sy woonstel se deur oopskop om De Beer te kan help.

De Beer is na ʼn hospitaal op Middelburg geneem vir mediese behandeling. Hy het ʼn diep sny aan sy kop opgedoen en sy linkerarm is erg gebreek. Hy is ook vol bloukolle en kneusplekke.

Konst. Maphure Manamela, polisiewoordvoerder, het die aanval bevestig. Die polisie het ʼn grootskaalse ondersoek na die verdagtes van stapel gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Cromhout en De Beer het die plaaseienaar, sy seun, werkers en almal wat De Beer sedert die aanval bygestaan het, bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

riana ·

Ja en soos die statistiek al bewys het sal niemand vasgetrek word nie. En dan dink die aanvallers hulle het n hengse prestasie bereik om n weerlose oumens aan te val.

Genoeg ·

Wat gaan ons hieraan doen? Kom ons kom almal op Geloftedag die jaar bymekaar en neem ‘n besluit en trek n streep in die sand! Of het iemand ‘n beter voorstel?

Se maar net 1 ·

Ja kom ons herdenk al dié geloftes soos Van Riebeecksgelofte, Paardekraalgelofte en Bloedrivier gelofte en betaal ons die Hemelse Vader wat ons Hom belowe het. Vergeet van voor dan om ‘n nuwe een te maak as ons nie eens die bogenoemde kan onderhou nie.

Anna ·

Ditan is dit al wat jy te se het. Sleg gebreek. Selle ding. Verskeie plekke gebreek. Maak dit saak?? Sterkte aan die oom

David ·

Hou jou handwapen op jou persoon, honde by jou binne in die huis.

As, of liewer, wanneer ‘n groep vreemdelinge jou woonplek betree, skiet elkeen een skoot in die bolyf, jou gesin agter jou (as hulle tuis is), met swaar kaliber holpunte.

Bel onmiddelik die polisie.

Dié wat nog lewe en weghardloop sal wel hulp gaan soek en vrae word gevra as jy met ‘n koeëlwond mediese hulp vra.

Alida ·

Ai Dawid asof ons nie hierdie goed weet nie. Wanneer moet mens dan werk en leef as jy 24/7 moet wag staan met n wapen in die hand.

Johan Barnard ·

Bel die polisie? Om wat te doen? Hulle gaan daar aangejaag kom met een enkele doel en dit is om jou te arresteer .

Jy los hulle heeltemal uit die prentjie want die terrorist vang gaan hulle tog nie. Jy is n baie makliker prooi vir hulle ronde Kfc-lywe.

SNEL ·

Net genade dat hulle die oom net vasgebind het en gelos het en die deur gesluit het en hom nie vermoor of gemartel het nie. Kan glo die skok moet vreeslik wees. Hoop hy herstel gou en bid dat die Here hom gou weer kalm en rustig sal maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.