ʼn Man, vermoedelik in sy 70’s, van Gauteng het Dinsdag in ʼn getyswembad op ʼn strand noord van Durban verdrink.
Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê die voorval het omstreeks 11:00 by Umdloti se hoofstrand plaasgevind.
Beamptes van Marshall Security se mediese eenheid, Netcare911 en Crisis Medical het hulle na die toneel gehaas nadat lewensredders gesien het die man ervaar probleme terwyl hy in die getyswembad gaan swem het.
“Die man is na die strand gebring en daar is bevind dat sy hart gaan staan het. Die lewensredders het dadelik begin noodhulp toepas totdat paramedici by hulle oorgeneem het,” het Van Reenen gesê.
Paramedici van Netcare 911 het die man aan ʼn ventilator gekoppel. Paramedici het meer as 40 minute lank gepoog om die man by te bring, maar dit was tevergeefs en hy is op die toneel dood verklaar.
Die polisie ondersoek die voorval.