Bejaarde vrou (76) op plaas oorval; 24 uur lank vasgebind

Argieffoto

Die polisie in die Oos-Kaap ondersoek ʼn saak van huisroof nadat ʼn 76-jarige vrou Vrydagmiddag op haar plaas buite Bathurst, naby Port Alfred, oorval, vasgebind en beroof is.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, sê ʼn familielid van die vrou het haar Vrydag omstreeks 12:30 op die plaas aangetref. Sy was met skoenveters vasgebind.

Volgens Govender het die vrou kneusplekke opgedoen toe sy haarself probeer losknoop het en sy is na ʼn hospitaal geneem om dringend ondersoek en behandel te word.

Die polisie vermoed die vrou was meer as ʼn dag lank sonder enige hulp vasgebind. Govender sê die vrou het vermoedelik reeds Donderdag omstreeks 11:30 by haar huis aangekom nadat sy gaan inkopies doen het.

“Die vrou was besig om haar inkopies uit haar voertuig, ʼn rooi Nissan 1400-bakkie, te laai, toe sy deur twee onbekende mans oorval is,” sê sy. “Een van die verdagtes het ʼn rooi T-hemp aangehad en die ander man het ʼn baard gehad. Die man met die baard het haar met ʼn mes gedreig en aangedring op R500 kontant. Die vrou het toe aan hulle die geld gegee waarna hulle haar met skoenveters vasgebind het.”

Die verdagtes het gevlug met die vrou se bakkie, ʼn televisiestel en ʼn stofsuier. Ondersoekbeamptes van Port Alfred en Grahamstad het onmiddellik die gebied gefynkam, maar kon nog nie slaag om iemand in hegtenis te neem nie.

Kol. Lizette Zeelie, waarnemende polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel. “Die voorval word ondersoek deur ʼn span gesoute speurders,” het sy gesê. “Ons doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting oor die voorval om onmiddellik hul naaste polisiestasie te bel, of alternatiewelik ook die misdaadnoodlyn by 086 001 0111. Inligting word vertroulik hanteer en die persoon het ook die opsie om anoniem te bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karolis ·

Jammer dat ons mense ons regte van ouds teen die hedendaagse samelewing moet beveg net om in elk geval te verloor.
Die bejaarde vrou en/of haar kinders moet dalk om die tafel gaan sit en heroorweeg.

Casper Labuschagne ·

Hier is ‘n skrikwekkende gedagte, plaasaanvalle het so algemeen geword dat daar daagliks ‘n plaasaanval voorkom – dus is die statistiese kans nou oorwegend dat terwyl ek hierdie woorde skryf, of terwyl jy dit lees, daar iemand op ‘n plaas gemartel, verkrag en vermoor word.

Elvira ·

Cyril Ramaposa WAAR IS JY? HOEKOM WORD DIE BOERE NIE BESKERM NIE. LIEWE GENADE GEE VIR DIE WEERMAG AMMUNISIE DAT HULLE DIE PLASE EN OMGEWINGS PATROLLEER EN DIE SKELMS DOODSKIET. A NEE A. SO KAN DIT NIE AANGAAN NIE. KRY JY NIE SKAAM HOE DIT IN HIERDIE LAND GAAN NIE.??????

Lana ·

Ja, skokkend dat CR wat alles in dié land wil regruk nie begin by al die geweld en moord nie.
My kop sê – hou eers die mense in die land aan die lewe! Dan praat ons weer oor ekonomie en die res. Of watter prys sit julle op lewe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.